ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Tjoekkepakke nog heel gesellig

First published in Die Burger, February 2014

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Toe- toe- toe. Toe- toe- toe. Daar’s ‘n trein. Nee wag, daar wás ‘n trein. ‘n Paar stasies wat nie meer as stilhouplekke vir treine ingespan word nie, is ‘n nuwe baadjie aangetrek. Weliswaar sakkepakke hier nie meer stoomlokomotiewe met rookbollings wat agterna trek, verby  nie, maar by stasiegeboue met perronne kan jou hart nog saam op die spoor klop.

Verwissel sinjale by Botrivier

Waar popkleertjies aan die stasienaambord wapper, is 'n krapwinkeltjie

Op Botrivier se ou stasie is daar sommer twee aandoenplekke. Draai in by The Shunting Shed se aanwysbord waar die sinjaalwyser aan ‘n vuurpyl herinner en trek in aan die sykant van die spoorwegskuur.

Stap eers oor die spoorlyne na ‘n krapwinkeltjie. Dis lank nie meer ‘n blinkgetrapte spoorlyn soos waaroor in die bekende liedjie gesing word nie.

‘n Winkeltjie sonder naam, blyk dit. Wat van Ou Milly? Om eer te bring aan Sonja Herholdt se liedjie, “Die trein na Matjiesfontein”. Daar’s net ‘n verwelkomingsbordjie en ‘n mandjie kunsblomme waar die nommer van die platform eens sou vertoon.

 

Onder aan die stasienaambord hang popspeelkleertjies wat wapper in die wind. Binne-in is ‘n mengelmoes van ouderlingonderbaadjies, hekelwerk, kunspêrels, kerkhoede, breimusse en hartseer teddiebere wat nuwe aanneemouers soek.

The Shunting Shed op Botrivier-stasie

Terug oor die spore – sonder ou houtdwarslêers, want daardie era is al lankal verby – na The Shunting Shed. Die onveranderde gebou dateer uit 1909. Destyds het die op- en aflaai van vragtreine tussen Kaapstad en Caledon hier geskied.

Wat van ‘n sjerrie by die lang houttoonbank voor jy op ou treinbanke met groen leeroortreksels inneem? Stasielanterns hang bokant jou kop. Bestel pizza of ribbetjies en weerstaan die versoeking om die spoorweg-breekgoed in jou handsak te laat glip.

As die weer dit toelaat, is daar rusbanke op die stasiestoep wat oor die goedereloots, wingerde en vallei uitkyk. Nostalgiese musiek voer jou terug na die verlede.

Kap tentpenne in op ‘n stasie

Nog nooit (vrywillig) op ‘n stasie oorgeslaap nie? Hier’s jou kans.

Laat jou verbeelding jou wegvat na toe die stasiegebou nog in gebruik as treinstasie was

By Calitzdorp Stasie kan jy tussen kranse links en wingerde regs van jou – of andersom afhangende na watter kant jou tentopening wys – jou tent opslaan. As dit na te veel elmboogghries klink, kan jy óf in een van die stasie se eie safari-tente óf in die kaartjieskantoor – met twee kaggels en eie kombuis – oornag.

Daar’s ook verblyf vir rugsakreisigers; vir koulikes is daar elektriese komberse te huur. Jy kan hier trou, werkswinkel vir jou werknemers hou, op ‘n motorfiets aandoen of Roete 62 verken (en baie port drink).

Stop by die ou sinjaalteken en meld by die kaartjieskantoor aan

Calitzdorp Stasie is net vyf minute se loop vanaf die dorp. Voor jy aanstaltes maak, kan jy netsowel op treintrollies speel en jouself by die sinjaalteken fotografeer.

Treine wat (ge)fluit (het) in Franschhoek

Wees deel van Franschhoek se geskiedenis, sê hulle by die Franschhoek Station Pub & Craft Bar. Nogal ‘n mondvol vir ‘n treinstasie waar daar nie ‘n kondukteur in sig is nie.

In die winter brand die kaggelvure by Franschhoek Station Pub & Grill

In die stasiegebou met sy baksteengewel kan jy om die kaggel saamdrom, die kinders op die treinenjin-springkasteel laat speel, in die tuin kuier of besoekende motorfietsryers se wiele bewonder.

By die voordeur heet ‘n plakkaat (met talle spelfoute) elke Jan Rap en sy maat welkom: Kappiekommando, Bokryers, Voortrekkers, Hell’s Angels “ongewapen”, studente van Pofadder, liefdadigheidsorganisasies, “koninglikes”, verkeersinspekteurs, rugbyondersteuners, aptekers, lede van die sensuurraad én minderheidsgroepe.

Triestig buite, knus binne

As jy nie gelys word nie, kan jy in sesvoud gedurende teetyd (ek vermoed dis ‘n eufemisme vir ‘happy hour’) aansoek doen om amptelik toegelaat te word. Binne verklaar ‘n swartbord dat die personeel vrywillig na jou wederhelf sal kyk as jy die rekening vereffen.

Veilige parkering vir ou taxi's en nuwe motorfietse by Franschhoek Station Pub

Franschhoek het ‘n oordosis van fênsie restaurante; hier kuier jy pretensieloos by gepoetste spoorweghouttoonbanke. Op foto’s uit vervloeë  blyk Franschhoek-stasie eers ‘n sinkplaatgeboutjie te gewees het; op ‘n ander tuimel ‘n lokomotief uit ‘n venster op die tweede verdieping van ‘n Paryse stasie.

Oompie Klaas se stasie

Daar word vertel dat Jean Retief van Van Loveren-wynplaas – nie te ver hiervandaan – in die 1940’s ‘n steggie van die geharde Rhus lancea vanaf ‘n kwekery in die destydse Natal bestel het. Toe die steggie oplaas op die Klaasvoogds-stasie aankom, het plaaslike boere dit dadelik as ‘n karee herken. Jean het voet by stuk gehou – dit was wel die steggie wat sy bestel het. Verkeerd is sy bewys toe die boompie wel ‘n doodgewone karee was.

Daar groei blykbaar nog steeds kareebome in Van Loveren se welige tuin, maar by Klaasvoogds is nie meer treinaflewerings nie. Wel ‘n plaaswinkel, slaghuis, posagentskap en petrolpompe wat met voëlverskrikkers, naambordjies, kaktusse, melkkanne, vetplante, reënstewels en winkelpoppe versier is.

DSC_0543

In die winkel lees jy: “In Klaasvoogds kuier ons dat …. die byle huil, pêre horings kry, kranse antwoord gee, en die plek na horing stink.”

Op die stasienaambord sê dit: 145 myl na Kaapstad en 533 voet bo seespieël. Langs die munisipaliteitskantore in Ashton staan daar ‘n lokomotief wat van 1919 dateer. Nommer 2010 het tussen Worcester en Mosselbaai getjoekepakke voor hy in 1983 hier afgetree het.

xx

  • Klaasvoogds Stasie is tussen Robertson en Ashton. Skakel die winkel by 023 626 4182.
Nog ‘n stasie om te besoek:
·        Die nimlike Evita se perron op Darling Stasie: www.evita.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 13, 2018 by in About trains / Oor treine and tagged .