ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Jy kry nie giggelgras by die Daggaboer nie

First published in Die Burger, May 2018

Ditsem, dis Daggaboer!

Selfs katte en honde is welkom by Daggaboer Padstal

‘n Óú boereraat vir beroerte lui so: ‘Die sike mag dagga laat rook, en as hy ni self kan rook ni, dan kan ‘n ander di rook in zijn mond inblaas tot syn tong losgaan, dan kan hy self rook’.

Waar aldan nie, dís nie wat jy by Daggaboer Plaasstal – nieteenstaande die naam – gaan raakloop nie. Wel melktert en koeksisters, roosterkoek en pasteie, skaapvelpantoffels en gebreide tjalies.

Daggaboer Plaasstal is tussen Cradock en Port Elizabeth. Dit lê 48 km voor Cradock op die N10 en hierdie plaasstal het reeds end 2006 sy deure oopgemaak. In 2011 het Weg-tydskrif Daggaboer as die beste plaasstal in die land aangewys.

Daggaboer is nie vir daggakwaggas nie. Hier’s nie ‘n zol in sig nie.

Wat hier wel is, is tuisgebakte beskuit en koekies, fudge en klapperys, bees- en wildsbiltong sowel as biltongpatee, neute en droëvrugte, konfyte, piekels en blatjang, slaphakskeentjies (soetsuur uieslaai), turksvystroop en boeremeisies (appelkosies in witblits).

Dis net die plek om jou petrolvoet en koppelaarhand ‘n ruskansie te gee terwyl jy agteroorsit met moerkoffie en Isobel & Dolly se kaaskoek of suurlemoenmeringuetert.

Op hul webtuiste word die roosterkoek so beskryf:  “‘n Gewilde Oos-Kaap lekkerny wat op die rooster gemaak word. Ons bedien dit met botter, fyn biltong, tuisgemaakte konfyt, gerasperde kaas en ons eie heerlike biltong paté. Al die vulsels word voorgesit en jy gebruik dit na jou eie smaak. Waarskuwing: ‘n Roosterkoek is nie met n fietspomp opgepomp om dit volume te gee nie en is nogal vullend (veral as jy n vriendelike gas is). As jy ‘n moeilike een is, word die prys na willekeur aangepas.”

As jy hierna nog kans vir daai roosterkoek sien, bestel gemmerbier of ‘limonade’ wat ‘tuisgemaak, vars en verfrissend’ is.

Op die geskenkrakke is mohairkomberse en skaapvelpantoffels, boeke oor die Karoo, volstruiseiers en boereseep, en hoede en handskoene wat van die personeel self brei.

Honde en katte is welkom by Daggaboer.

Waar kom die naam vandaan?

Daar is nie ooreenstemming oor hoe die plaas Daggaboer en die pas hierdie eienaardige naam gekry het nie.

Een weergawe lui dat Piet Retief sy plaas in hierdie omgewing verlaat het om by die Groot Trek aan te sluit. Na sy vertrek is ‘n handelspos, polisiestasie, hotelletjie en hoefsmid op die eertydse plaas – omtrent waar Daggaboer Plaasstal vandag is – gevestig. Dit was outomaties waar die boere bymekaargekom het en mekaar met ‘Dag, ou Boer’ gegroet het. As jy dit vinnig of moedswillig uiter, hoor jy ‘daggaboer’.

‘n Ander weergawe lui dat die Trollips, ‘n Britse setlaarfamilie van die omgewing, destyds geregistreer was om dagga aan te plant aangesien dit by perdevoer gevoeg is om ekstra stamina aan die perde te gee.

Daggaboer GPS: S 32” 30.391’ en E 25”49.537’

Weeksdae 8h00-17h00

Saterdae en Sondae 8h00-15h00

www.daggaboerfarmstall.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 12, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .