ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

EENMAAL ‘N MATIE, ALTYD ‘N MATIE

First published in Die Burger, June 2012

(Since this article has been published quite a few places have closed down or changed ownership)

 Eenmaal ‘n Stellenboscher, altyd ‘n Stellenboscher. Dit bly in jou bloed.

As jy 'n Matie was, het jy begeer om in een van hierdie huisies in Dorpstraat te woon

Al voel dit asof hulle stelselmatig jou graad van jou wegrokkel, soos wat die kuierplekkies se naam of atmosfeer verander, of wanneer dit sommer heeltemal verdwyn. Te meer so as die studente lyk of hulle nog op die skoolbanke moet sit, en jy dan tot jou ontnugtering besef dis omdat jý ouer word en nie omdat hulle jonger is nie.

As ‘n akker op jou kop val

Gelukkig bly De Akker nog De Akker. Binnekant het omtrent nog niks verander nie. En ja, as jy nou half verleë indrentel, loop jy gewoonlik terstond iemand van die ou dae raak. En dit word ‘n heuglike weersiens en nou-nou hang jy weer aan jou elmboë aan die dofgepolitoerde kroegtoonbank.

Dorpstraat het ook sy kwota standbeelde

Die res van Dorpstraat is nie meer herkenbaar vir studente van lank terug nie. Behalwe die pragtige ou historiese geboue wat toeriste hiernatoe laat stroom, is die restaurante en aansitplekkies almal nuut. En ‘n besoek werd; al is dit nie nostalgies gemotiveerd nie.

Dorpstraat is die tweede oudste straat in Suid-Afrika en dit was eens die wapad na die Kaap. Knoetsige eikebome staan plek-plek en as jy nie mooi trap nie, val jy in die (lei)sloot. Soos menige student al laataand agtergekom het. Dan neem twee rye spore trap ‘n nuwe betekenis aan.

Loop in Dorpstraat af

In Dorpstraat kan jy deesdae op die sypaadjie of in ‘n binnehof kuier; jy kan Oosters eet of jou vyfde smaaksintuig ontdek; jy kan jou styl na Nepalees of met-kolle-bedot verander.

By Umami is elke bord ‘n fees vir die oog. By The Big Easy knetter ‘n kaggel in die winter en as jy nie (dadelik) lus is vir by ‘n tafel met ‘n gestyfde tafeldoek aansit nie, kan jy in diep, opgepofte leerbanke wegsink. Dalk gee ek nou my en ‘n sekere lewenslustige blondine se geheim weg en beteken dit voortaan ons gaan voorgespring word.

By Casparus is jy omring deur Strijdom van der Merwe se landskapkuns. Hier bestel ek beesstert-met-tentakelkalamari keer op keer; maar ek hoor ook van ‘n kwartel-en-salm-kombinasie. Alles tipies Etienne Bonthuys.

The Blue Orange is so gemaklik soos iemand wat jy goed ken, se kombuis. By Mila is die kolwyntjies in pienk getooi en die croissants gevul met amandels.

Tyd om jou saal op te hang

Die Black Horse Sentrum was nie dekades gelede hier nie. Toe was die gebou ietwat gehawend, as ek reg onthou. Nou’s dit ‘n sjiek uithangplek. Die nuwe Dorpstr Deli het so pas oopgemaak. By Bragdolls is vrolike vilt, klere in Indiese holi-poeierskakerings en tosselhandsakke.

By Cocoon is daar dekor om jou huis te pamperlang.

In Stellenbosch is daar 'n oorvloed van geskenkwinkels

‘n Entjie op met Dorpstraat is die ikoniese Oom Samie se Winkel. Nog nooit pruimtwak gekou nie? Probeer dit hier in die hande kry. Is dun skyfies bokkem soos biltong gesny vir jou lekkerder? Koop dan eerder ‘n heel, droë bokkem. Of wat van ‘n bloemer of ietwat vergeelde korset?

Nostalgie wat jy begeer

Suiker by die trappies net voor De Akker op. By Nest is interessante oorskietlappe, verroeste kanariehokkies, Art Deco asbakke, swierige vase en hortjies wat met landkaarte beplak is. Of ‘n mini-trofeetjie aan ‘n koord wat boheemse studente – wat nooit die Victrix Ludorum op skool kon wen nie – om hul nek dra.

Nog hoër op drink jy ‘n jêmpot Dawa (Swahili vir towerdoepa) by Cognito. Roer-roer die romerige heuning met ‘n stok, druk die lemmetjies fyn. Spandeer daarna te veel van jou maand se begroting op uitswaairompe en klokbroeke by Gypsy.

As jy jou ore spits, hoor jy dalk die stem van Nancy Ajram, ‘n boorling van Lebanon, wat Habibi (Arabies vir liefling) sing. Laatmiddag korswel ieder en elk by Man’oushe se sypaadjie-stoele. Dié wat gereeld hier aandoen, beveel die souserige Hoender Tabuk aan. Of platbrode wat jou én jou metgesel se honger sal verdryf.

Kaatjie van die baan

Oppad soontoe drentel jy verby Jan Cats.’n Dekade of wat gelede was die skuinsdakkroegie die plek waar studente leer konjak drink het. Die restaurantspyskaart was die ene katwoordspelings, dink ek met heimwee terug.

Java Café is altyd tot barstens toe volgepak. Daar word vermoedelik op hierdie sypaadjiekafee meer besigheidstransaksies as in enige ander plek in Stellenbosch beklink. In hierdie omte is verskeie eetplekke waarvan die drumpels deur studente, toeriste en Eike-stedelinge deurgetrap word.

Jy moet weet in watter stegie De Oude Bank Bakkerij wegkruip. Neem ‘n baguette of donkerrogbrood huis toe, maar wees gewaarsku –  jy gaan die versoeking nie kan weerstaan om eers jouself hier neer te plak en die vars reuke oor ‘n stomende koppie koffie in te adem nie.

D’Ouwe Werf was nog altyd ‘n instelling op Stellenbosch. Vir wittebroodpaartjies en vir honger studente met dikker beursies wat smul aan hoenderslaai met vet kappertjiesade.

Helaas, Anleo is nie meer op die hoek nie. Elke vroulike Matie het nog êrens in haar kas ‘n lang Anleo-rok of helder hemp. Ten minste is Milieu nog daar – deesdae is hier gebreide warmwatersakke en plekmatjies van kwetterkasie-tafelgeselsies.

Gaan loer na die Pierneef-uitstalling wat by die Rupert-Museum uitgestal word. As die son sak, kan jy jou na Ryneveld 5 begeef, waar daar fliek-aande gehou word of waar jy die filmteatertjie met sy gemakstoele kan huur sodat jy jou eie rolprent kan kies.

Die jare mag ons almal so ietwat ingehaal het, maar Decameron – hoewel in nuwe gedaante – is steeds waar dit was. Dis tyd vir ‘n ‘onthou jy nog’-sessie oor ‘n bord romerige pasta en ‘n kraffie rooiwyn, dalk met ‘n onverwagse traan wat biggel.  

Waar om in Stellenbosch te speel
 
·        By The Big Easy is ‘n Express Lunch vir R125 beskikbaar. Kies tussen ‘n voorgereg/nagereg en die hoofgereg-van-die-dag.
·        Kry inspirasie of inkopie-idees van Nest by www.nest-vintage-shop.com
·        Lees wat op Cognito se spyskaart is by www.cognitorestaurant.co.za
·        Koop nuwe, gebruikte en seldsame boeke by Verbatim (Dorpstraat 158) en musiek by Classix on CD (Andringastraat 14A).
·        By Lady Peculiar (Andringastraat 3)is word ongewone, romantiese ringe en prettige lapelspelde met passie gemaak. Kyk hoe dit lyk by www.ladypeculiar.co.za
·        By Dot (Black Horse Sentrum, Dorpstraat 56) is snuisterye en hekelwerk wat eietyds sowel as van vergange se dae is, te koop. Klere van Liefie-Collection is ook beskikbaar.

 

2 comments on “EENMAAL ‘N MATIE, ALTYD ‘N MATIE

  1. pieterzietsman
    October 11, 2017

    Ek lees jou blog, kyk na die fotos se onderskrifte, dit is net vraagtekens. Iets moet gfout wees, ookmop ander blog gesien. Laat vicky kyk.

    • ilsez
      October 12, 2017

      Ek hijack nou jou blog Ilse…
      @Pieter…. ek maak daai ???????? reg soos sy hul pos en het deur al die vorige blogs gewerk om dit weg te vat. Laat asb weet waar jy dit nog sien want dan het ek ‘n paar gemis 😦

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 11, 2017 by in In die Boland.