ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Aaa, dis Anantara Medjumbe

First published in De Kat in September/October 2016

’n Tikkie eilandparadys op Medjumbe

Om in ‘n klein vliegtuigie oor die Quirimbas-argipel te vlieg, is nie vir sissies nie. Óf die trane loop oor die mooi van ‘n oseaan met poele turkoois en mentgroen waarin eilandjies gestrooi lê, óf dis liesknyp oor die strepie aanloopbaan waarop daar geland moet word.

Gelukkig was ek die een wat verleë ‘n snesie moes naderhark, en ‘n vorige sjef – het die vlieënier vir ons gefluister – wie se moed hom amper begewe het.

Die asemwegslaan-vlug was soos ‘n spreekwoordelike rooi tapyt wat vir ons besoek – ses vroue op ‘n tjilsessie – aan Anantara Medjumbe uitgerol is. Die uitsig wat aan die einde van ‘n kronkelpaadjie op ons gewag het, was nog ‘n asemsnak-oomblik.

‘n Blik oor die Indiese Oseaan tot by die horison. Koloniale rietgemakstoele wat jou nooi om jenewer-en-tonikum te bestel. ‘n Uitgestrekte strand waarop net seewier en voetspore lê.

Maar eers word ons sjampanjemengeldrankies in ‘n Franse aksent – dié van die bestuurderes, Anne Procope, wat in die hartjie van Parys grootgeword het – aangebied. Obrigado, koor ons in geradbraakte Portugees, toe vingerhappies wat die geure van Portugal, Mosambiek en Arabië eggo, in ‘n houtvisopdienbord voor ons neergesit word.

Praat van eksklusief! Boonop ‘n privaateiland waar daar net 12 strandvilla’s – jippieee, geen kinders word toegelaat, juig die kinderlose – en ‘n dertiende wat as spa-villa ingespan word, is.

Medjumbe is een van 27 eilandjies in die Quirimbas en is net 1 kilometer lank en ‘n paar honderd meter breed. Die Quirimbas Nasionale Park in die Cabo Delgado-provinsie van Noordelike Mosambiek sluit 11 van die suidelike eilandjies in en is in Junie 2002 as die eerste nasionale park na die onafhanklikwording van die land geproklameer.

Op een uitstulping van Medjumbe is ‘n vuurtoring, ‘n lang, wit langeraat wat in 1934 gebou is, en met oorblyfsels van ‘n buite-trap wat stories oor vergange dae fluister. Dalk hoor jy net die fluisteringe as jy ‘n passie vir farologie het en dit wêreldwyd ‘n missie maak om lighuisfoto’s te neem.

Aan die ander kant van die eiland meer dau’s met verweerde driehoekseile vas terwyl lede van die bemanning halflyf deur die water loop om vars vis of krap af te lewer.

In die middel lê Anantara Medjumbe se rietdakhoofgebou, ‘n klipgooi van die poeierwit sandstrand. Die kroeg heet heel gepas Bahari, Swahili vir oseaan of see, en die naam van die restaurant is juis Jahazi, Swahili vir dau.

Almal is ewe nuuskierig om hul strandvilla’s te verken. Per slot van sake het ‘n voëltjie getwiet dat die dekor onlangs meesterlik oorgedoen is met ‘n Afrika-eiland as muse vir inspirasie. Skakerings van blou en turkoois resoneer met die Indiese Oseaan. Tradisionele kapulana-doeke en weefmandjies verskaf kleurontploffings teen die mure.

Daar’s ‘n buitestort wat met ‘n buitedeur aan die groen-wit-blokkiesteël badkamer – met bad wat oor die strand en see uitkyk – verbind is. Daar’s ‘n seeblou strandsak met alles wat jy nodig kan kry of by die huis vergeet het.

Terwyl ek aan ‘n brok vars kokosneut knibbel, dank ek my sterre dat dit nie moeilik is om te besluit wat ek volgende wil doen nie. Vir die aktiewe Ansie’s is daar dau-seil, skuba- of snorkelduik en kajakroei. Terwyl twee van my mede-vakansiegangers op staanroeiplanke verbygly, kyk ek uit oor die see vanuit my private mosaïek-plonspoel, so ewe met ‘n sjampanjeterrassie.

Dié salige middagsessie het die toon van die res van ons besoek aangegee. Tuur na die Afrika-sonsondergang met ‘n caipirinha in die hand. Sit met jou voete in die sand en lanterns wat wink terwyl jy smul aan die visvangs van die dag, peri-peri-calamari of borde boordenstoevol met kreef.

Op dag twee begin ‘n luilekker dag met Anantara Medjumbe se weergawe van Benedict-Eiers met kreefstert, kerrie-hollandaise en vars avokadopeer.  Later in die dag vaar ons na Quissanga waar ons soos wafferse Hollywood-sterre by ‘n gedekte tafel op ‘n ongerepte eiland aansit. Nee, nee, jy kan nie jou eie stoel uittrek nie – hier word dit vir jou gedoen.

Die natuur in monochroom – wit, blou en blond

‘n Vaart op Anantara Medjumbe se eie dau versinnebeeld die romanse van die handel van weleer wat al langs hierdie kus gedryf is. Reg rondom jou is net wit – wolke, die dau-seile en sandeilandjies – en blou – die lug en die see.

Asof ons nog nie genoeg bederf is nie,  maak ons beurte  vir ‘n diepweefsel-sandmasseersessie. Watwou, dis saliger om te gee as om te ontvang. Dié behandeling gee ek nie sommer prys nie.

Wat?! Nog ‘n skemerkelkie. Nog ‘n vlamrooi Afrika-sonsondergang. Nog ‘n porsie kreef.  Ag, bring maar nog ‘n pasteis de nata (Portugese vlatertjie) vir oulaas.

* Ilse Zietsman was ‘n gas van Airlink en Anantara Medjumbe Island Resort (www.medjumbe.anantara.com)

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 25, 2022 by in Afrika.