ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Tweebeen-watervalle in Afrika en Suid-Amerika

First published in Die Burger, October 2016

TWEE WATERVALLE, BAIE RAAKPUNTE

Die Victoria-Waterval is 108 meter (360 voet) hoog; die Iguazu-Waterval wissel tussen 64 en 82 meter (210 en 269 voet). Eersgenoemde is 1 708 meter op sy breedste; laasgenoemde 2 700 meter. Die hoogste rekordvloei is onderskeidelik 12 800 m³/s en 45 700 m³/s.

Dis nie net statisties wat daar verskeie ooreenkomste en raakpunte is nie.

Beide Victoria- en Iguazu-Watervalle (sê Ie-wha-zoe) staan wydsbeen oor twee buurlande. Victoria het – by wyse van spreke – een been in Zimbabwe en een in Zambië; Iguazu se bene is in Argentinië en Brasilië.

In Zimbabwe bly jy oor in die dorpie Victoria Falls om Vic-Valle (soos dit kortweg genoem word) te sien; in Zambië is die naaste dorpie Livingstone. In Argentinië moet jy jou na Puerto Iguazu begeef om die indrukwekkende waterval te besoek; in Brasilië na Foz do Iguazu.

Vanaf Puerto Iguazu na Foz do Iguazu is dit ‘n kort busrit. Sou jy publieke vervoer gebruik, word jy soms sonder seremonie halfpad langs die pad afgelaai, maar kort voor lank daag die volgende bus op wat outomaties stilhou sodat jy kan inklim (sonder om weer ‘n kaartjie te koop).

Dis moeilik om Victoria-Waterval af te neem, maar dit sit nie die toeriste af nie

Huur maar daai jassie sodat jy nie nat word nie

By Victoria het jy ‘n reënjas nodig wat jy sommer daar kan huur. Moenie jouself tawwe Jannie/Sannie hou nie. Jy gaan bra bedremmeld en koud lyk en voel na afloop van die uur of drie se rondloop. Die reënjakkie bied ook beskerming vir jou kamera en/of selfoon.

By Iguazu – aan Argentinië se kant – kan jy in ‘n rubberboot tot amper reg onder die waterval inry. Dit maak nie saak wat jy aanhet of hoe goed jy toerits nie – jy raak sopnat tot op jou vel. Drúípnat. Na die bootrit wring jy liters water uit jou klere sonder dat die ekstatiese grinnik op jou gesig wegsmelt.

Bekyk eers die aksie vanaf 'n houtdek en begeef jou dan self in 'n rubberbootjie wat onder die water inry

Bekyk eers die aksie vanaf ‘n houtdek en begeef jou dan self in ‘n rubberbootjie wat onder die water inry

Dis een van die redes waarom jy noodwendig langer tyd aan hierdie kant van die Cataratas del Iguazu in die Parque Nacional Iguazu (wil) spandeer.

P1060638

Toeristetyd by Iguazu

Jy kan jouself disnis op die houtwandelpaadjies loop om al die verskillende aspekte van die waterval(le) uit elke hoek en draai te sien.

Hou die indrukwekkendste vir laaste. Die Groen Trein(tjie) van die Oerwoud (Tren Ecologico de la Selva) neem jou tot naby aan die Duiwel se Keel (Garganta del Diablo). Ondanks die naam laat dit jou onwillekeurig aan die grootheid van God dink.

Die Duiwel se Keel by Iguazu aan Argentinie se kant

Die Duiwel se Keel by Iguazu aan Argentinie se kant

Die Duiwel se Keel is in die vorm van die letter U. Dis 82 meter hoog, 150 meter breed en 700 meter lank.

Daardie aand oor biefstuk – die Argentyne kan ons boertjies leer braai – keer jou gedagtes weer na die grootheid en die natuurskoon terug.

Die volgende oggend is die aangewese tyd om vanaf Brasilië se kant na die Duiwel se Keel te staar.

Net om oor ‘n cachaca by Hotel Das Cataratas alles weer van vooraf te bepeins. As jy stik aan jou cachaca, is die sterk Brasiliaanse drankie, uit suikerriet gemaak, te boosaardig vir jou.

In Argentinië het sy-valletjies van Iguazu name soos Salto Tres Mosqueteros (Drie Musketiers) en Salto Rivadavia – Rivadavia is een van die distrikte waar boere-Suid-Afrikaners hulself in die vroeë 1900’s gevestig het.

Die naam Iguazu kom uit Guarani en dit beteken ‘groot water’. Volgens legende wou ‘n god met ‘n pragtige vrou genaamd Naipi te trou. Sy het egter met haar geliefde genaamd Taroba (nie ook ‘n god nie, maar ‘n mens) in ‘n kano gevlug. Dit het die god buite homself van woede gemaak en hy het die Iguazurivier in twee gesny.

So het die waterval(le) – daar is sowat 275 – ontstaan en dit het tot die dood van die minnaars gelei, soos een weergawe van die legende lui.

Ek voel of my oe my bedrieg toe dit lyk of ek 'n vuurtoring raaksien, want die see is ver hiervandaan

Dit lyk selfs of Iguazu hul eie vuurtoring het

Die eerste Europeër wat die bestaan van die Iguazu-Watervalle in die vroeë 1500’s opgeteken het, was die Spaanse ontdekkingsreisiger, Alvar Nunez Cabeza de Vaca.

Daar word geglo dat David Livingstone die eerste Europeër is wat ‘n blik – in November 1855 – van die Victoria-Watervalle gekry het. Dit was dan ook Livingstone wat die waterval na Koningin Victoria vernoem het.

'n Reenboog net-net sigbaar oor die Victoria-waterval tydens 'n helikoptervlug

‘n Reenboog net-net sigbaar oor die Victoria-waterval tydens ‘n helikoptervlug

Die oorspronklike naam, Mosi-oa-Tunya,  beteken die Rook wat Dreun en is ook nog steeds in gebruik.

Boek 'n helikoptervlug oor die Victoria-waterval en besef die totale omvang daarvan

Boek ‘n helikoptervlug oor die Victoria-waterval en besef die totale omvang daarvan

Daar bestaan egter ‘n kaart circa 1715 waarop Nicolas de Fer, ‘n Franse kartograaf, én ‘n daaropvolgende kaart circa 1750 waarop Jacques Nicolas Bellin, ‘n Franse hidrograaf en aardrykskundige, die korrekte posisie van die waterval aangeteken het.

Ilse en die vlakvark ewe gelukkig

Leer ‘n vlakvark beter ken

As jy ‘n sagte hart vir diere het en geduldig genoeg is, kan jy by Victoria Falls Rest Camp (www.victoriafallsrestcamp.com), na ‘n ruk ‘n vlakvark se wang en snorbaarde kan streel. Dit kos platlê op die gras, sonder ‘n glas in die hand, terwyl die minute verbytik en die vratvarke geleidelik naderwei.

By Iguazu sal jy in Argentinië jouself verstaar aan die neushoringvoëls. Wees net in jou pasoppens vir die paca (‘n Brasiliaanse marmot) in Brasilië – hulle byt waaragtig en storm sommer op jou af as hulle hormonaal voel. Jy kan egter lekker vir hul tong uitsteek as jy sien hoe hulle in die rommeldrommetjies vassit na hulle iets binne probeer aas het.

Lees verder: 

Vergelyk Niagara-Waterval:
Hoogte: 51 meter (167 voet)
Breedte: 1 203 meter
Hoogste rekordvloei: 6 800 m³/s

2 comments on “Tweebeen-watervalle in Afrika en Suid-Amerika

  1. Selma
    February 17, 2019

    Oh this is just wonderful. Vic falls has always been on the bucket list – seems like we have to go to Argentina too!

    • ilsez
      April 29, 2019

      I loved Argentina! Buenos Aires is a very vibey city. But I also moved around in the countryside and way up north to Iguazu. Loved it. Loved everything. Also the town of Salta near the Andes.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 16, 2019 by in Afrika, Suid-Amerika and tagged .