ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

RAKI EN TZATZIKI in KAŞ

First published in Die Burger, October 2019

Kom verken luilekker Kas op eie trant

Daar's baie geleenthede om vir die dag, of langer, met 'n boot uit te gaan

Daar’s baie geleenthede om vir die dag, of langer, met ‘n boot uit te gaan

Kaş lê aan die Turkoois Kus van Turkye. Ondertoe. Weg van besige Bodrum en frenetiese Fethiye.

Die pad na Kaş wek beelde van Chapmanspiek op, en  – erg onpatrioties – besluit ons dis waarlik mooier. Die roete neem ‘n paar uur, waarin jou oë vasgenael op alles bly. G’n wonder dit word beskou as een van die mooiste roetes ter wêreld nie.

Dis blouselblou

Die water in die baaitjies is túrkóóis met diepblou water agtertoe. Halfmaan strandjies is óf wit sand óf koeëlronde wit klippies. Dis redelik ver ondertoe – dink aan ‘n onbeboude Clifton of aan inhammetjies naby Rooi-Els.

Die lewe in 'n vissersdorpie raak nie onstuimig nie, of so lyk dit altans

Die lewe in ‘n vissersdorpie raak nie onstuimig nie, of so lyk dit altans

Hier en daar dobber seiljaggies. Wag, daar swem ‘n visskieter met ‘n sy oranje boei.  ‘n Vespa op ‘n rant. Avonturiers wat teen kranse afklouter om piekniek te hou, of te vry.

Die mooiste hawetjie wat jy ooit sal teëkom

Kaş is klein, amper piepklein. Eers sien jy nuwe uitbreidings wat gelukkig nie deel van Kaş voel nie. Heelonder is die hawetjie, ‘n kelimwinkeltjie, ganse wat iets te aas soek, en vissers met verweerde gesigte. Stap links verby die hawe na verskeie plekke om raki in die son te drink.

Kaş is ver genoeg teen die Turkoois Kus af dat dit minder besoek word. Daar’s nie ‘n hiep gevoel nie en as jy tot laataand wil party (soos in Hisaronu), moet jy dit op jou eie of bo teen die karakterlose bult doen. As jy met jou rug na die hawe staan en die straatjies voor jou invaar, kry jy wel plekkies waar musiek pols en lywe wieg.

In Bodrum is die musiek harder en die lywe meer terwyl spasie min is. In Fethiye praat almal Brits. In Kaş is jy op jou eie missie.

Ganse, seekatte en visse

Dit raak warm, hoewel nie bloedig warm soos die Boland nie. Skuifel-stadig stap ons na die hawetjie.  Hier verwyl ons ‘n uitgerekte tyd. Almal gaan hul gang. Of jy nou foto’s neem of jou net verwonder aan die rustigheid, niemand knip ‘n oog nie. ‘n Paar ganse waggel rond, maar op die oomblik word hier nie vis skoongemaak nie. Party sis, ander pik halfhartig na ons tone, die res wieg nader op soek na ‘n seekattentakel.

Dis windloos, wolkloos, alles weerkaats in die blink water. Ons kan selfs bootname duidelik regom en onderstebo lees. Ons skeur onsself weg van ‘n idilliese foto-moment en gaan soek bier. Verkieslik Efes.

Aan die anderkant van die hawetjie is ‘n restaurant in ‘n ou huis (dit kon in Prins Albert gewees het) met ‘n tuin met skadu-bome en tafeltjies. Voorgeregte is kleiner as Kaş en teen Bodrum se pryse; dus konsentreer ons op koue Efes.

Alle paaie lei eintlik maar terug na die hawe. Terwyl manlief foto’s neem, drentel ek na die kelimwinkel. Dit neem laaank voor iemand uitkom. Dus kan ek na hartelus snuffel en krap, en die kat wat op die voorraad ‘n uiltjie knip, vir ‘n middagslapie steel.

Tzatziki en ment, knoffel en eiervrug

Daardie aand eet ons onder feetjieligte in die tuin van Sultan’s Garden. Die atmosfeer is soos ‘n soel somersaand by die huis. Hmmm, hier’s dalk te veel toeriste.

Die liter huiswyn bewys ons voorspooksels verkeerd – dis bekostigbaar en aangenaam genoeg. Die koue voorgereg is ‘n homp pikante tzatziki met ‘n oordosis knoffel en handevol verfrissende mentblare. Weer is ons suspisie ongegrond. Toe ons warm voorgeregte bestel, val die wiele van die wa af. Elkeen kry ‘n eetlepelgrootte porsie vir 9 lire elk. Dit proe na niks. Ons gee moed op. En beweeg aan.

Ons vind ‘n Franse madame se antiekgevulde plekkie wat aan ‘n boudoir herinner. Dalk moes ons hierdie deel van Kaş vroeër verken het. Hoewel dit nie ‘n see(of hawe)-uitsig het nie,  is dit ‘n baie beter opsie. Polsende Midde-Oosterse musiek en ‘n geroesemoes van stemme lok ons na binne. Daar’s nie ‘n legio keuses nie, maar een lyk lekkerder as die ander. Oplaas kies ons lae kussings onder ‘n wilger met ‘n string liggies en ‘n nargileh met vrugtetabak en ‘n string liggies.

Ons roer laat. Dit was per slot van sake ‘n laat aand. Daaroor praat ons nie. Ons volstaan net daarby dat dit lekker was om saam met jong Turke (en rugsakpakkers) te kuier.

Son op jou vel en koel water daarna

As ons nie met ‘n gesonde sonbruin kleur teruggaan nie, gaan niemand glo ons was aan die Turkoois Kus nie. Na inslaap stap ons na die strand. Net, dis nie ‘n strand nie. Rotsterrasse met halfgeroeste leertjies waarmee jy in die helder water klim. Sonstoele en ‘n kroegie binne skree-afstand. Hieraan kan ons gewoond raak! Ons spoor selfs Engelse koerante op. Aaaaa, salige vakansie.

Alle goeie dinge kom tot ‘n einde. Ons skeur onsself weg van Kaş; anders gaan ons nooit sover kom om die binneland te sien nie. So omkyk –omkyk is ons daar weg.

VERWYL JOU TYD DEUR:
·         Skubaduik: besluit watter pakket jou pas by                                          www.sundiving.com/kas.html                     
·        Eet by  die restaurantjies wat op die see uitkyk soos www.sultangardenrestaurant.com  
·        Koop keramiek by Anatolia Galeria, Hukuet-straat 2/1 (net bokant Mercan Restaurant) – kyk veral vir die turqa (sultan se handtekening)-motief of  koffiebekers met vuurtorings
·        Koop ‘n kelim by die winkeltjie langs die skeephelling in die hawetjie
·        Hou piekniek in ‘n baaitjie-vir-twee
·        Doen ‘n dagtrippie na die buurdorpie, Kalkan. Lees vooraf wat daar is om te doen en kyk by www.kalkanturkey.com  

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 13, 2020 by in Europa and tagged .