ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

DIE WÊRELD SE GROOTSTE ATLAS

Not previously published, photos supplied

‘n Paar eeue gelede is gewone kaarte as ‘n statussimbool beskou. Om seker te maak dat ander weet hoe welvarend jy is, het mense ‘n wêreldkaart in hul huis opgehang. Om die boodskap oor te dra dat jy baie vroom is, is ‘n kaart van die Heilige Land uitgestal. ‘n Kaart van jou distrik of dorp/stad sou op jou patriotisme dui.

Earth Platinum, die wêreld se grootste atlas met afmetings van 1.8 meter by 2.7 meter  is in 2012 gepubliseer, maar word steeds geleidelik in lande regoor die wêreld bekendgestel. Nieu-Seeland en die Midde-Ooste is volgende aan die beurt.

Meer as eenhonderd medewerkers, kartograwe en andersins, was betrokke by die projek.

Een van hulle is nogal ‘n Suid-Afrikaanse kartograaf, Esna Swart, en sy vertel dat atlasse soveel meer as net boeke met kaarte is. Addisionele inligting wat vermeld word, is byvoorbeeld minimum en maksimum temperature. ‘n Ander interessante brokkie inligting wat sy self ontdek het terwyl sy aan Earth Platinum gewerk het, is dat daar so baie kleiner plekke in die wêreld is wat ook Moskou heet.

Lees gou weer die afmetings. Jy gaan dit nie glo nie. Dis nie sommer ‘n hierjy atlas nie.

Dis ‘n outydse 6 voet by 4.5 voet. Die atlas is hoër – of dan nou langer – as die meeste mense. As ‘n persoon van gemiddelde lengte langs die atlas staan, sal die atlas bo hom/haar uittroon.

Om een bladsy van die 128 bladsye om te blaai, moet altwee hande gebruik word. Verkieslik met handskoene aan, want hierdie atlas is uit die aard van die saak baie waardevol.

Die wêreld se grootste atlas weeg 150 kilogram oftewel 330 pond; dus ook meer as die meeste mense.

Dit het vier jaar geneem vandat daar met die projek begin is deur data bymekaar te maak totdat die atlas klaar gedruk is. Millennium House het bereken dat dit 40 jaar sou neem indien net een persoon aan die atlas gewerk het.

Agt-en-tagtig kartograwe van regoor die wêreld het aan Earth Platinum gewerk; en daar is net 31 kopieë – natuurlik teen ‘n allemintige koste – gedruk. Fotograwe en aardrykskundiges is ook ingespan.

Daar is 61 kaarte (fisies en polities) van al sewe kontinente, kaarte van die oseane waarop skeepswrakke ook aangedui word, kaarte van die Noord- en Suid-Pool asook gedetaileerde streekskaarte. Eilande, dorpies en riviere wat weens ‘n gebrek aan spasie nie altyd op gewone kaarte aangedui kan word nie, is duidelik sigbaar op hierdie enorme kaarte. Elke individuele kaart is 54 vierkante voet groot.

Behalwe ‘n dubbelblad van die hele wêreld se vlae, bevat die Earth Platinum ook 27 foto’s waaronder die wêreld se grootste foto (272 gigapixels) van die Sjanghai-luglyn.  Die luglynfoto bestaan eintlik uit 12 000 individuele foto’s. 

‘n Hele paar van die ander foto’s is in werklikheid ‘n ‘collage’ – wat deur middel van die Gigapan-proses gemaak word – van meer as eenduisend foto’s. Daar is onder andere ‘n foto van Macchu Picchu, Peru; die Sint Pieter Katedraal in die Vatikaanstad; Monaco; en ‘n nagtoneel in Singapoer.

Waar jy hierdie atlas gaan bêre, is natuurlik ‘n ander storie. Jy kan ampertjies ‘n motorhuis as vertoonlokaal aanbou om die atlas te huisves.

Dis nou te sê as jy die Earth Platinum Atlas kan bekostig, want een van hierdie atlasse kos 100 000 Amerikaanse dollar.

Dis nie so maklik om die Earth Platinum te sien te kry nie; al is jy bereid om ‘n vlugkaartjie te koop. Jy moet meestal ‘n spesiale versoek rig aan ‘n biblioteek wat wel ‘n kopie besit. Sommige biblioteke stal dié atlas net op sekere tye van die jaar uit.

Die Britse Biblioteek stal die oop atlas vir ses dae per jaar uit en jou kans om dit hierdie jaar te sien, is reeds verby. Die Staatsbiblioteek in Sydney, Australië blaai tans elke Vrydag om 13h00 vyftig bladsye van Earth Platinum om.

Meer as die helfte van die oplaag is reeds verkoop of onderhandelinge is aan die gang.

Behalwe die biblioteke wat reeds genoem is en biblioteke wat dit nog nie amptelik bekend wil maak nie, het die Nasionale Sentrum vir Dokumentasie en Navorsing in Abu Dhabi en die Nasionale Biblioteek van Nieu-Seeland reeds ‘n kopie van Earth Platinum aangeskaf. Twee kopieë is onderskeidelik aan privaat kopers van Saoedi-Arabië en Australië verkoop.

Earth Platinum is in Italië gedruk; in Australië gepubliseer; in Hong Kong met die hand gebind; en word deur Guinness World Records erken.

Gordon Cheers van Millennium House, die Australiese publiseerders, het reeds 25 jaar gelede die idee gekry om so ‘n groot atlas te laat druk, maar hy moes meer as twee dekades wag voor die plan uitgevoer kon word.

Voor Earth Platinum is daar ook ‘n kleiner Earth Blue (2 000 kopieë) en Earth Gold (1000 kopieë) – beide weeg 30 kilogram – gedruk.

Dink nounet as die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek die trotse eienaar van ‘n kopie van die Earth Platinum kan word.

  • Earth Platinum ISBN 978-1-921811-11-1
DIE VORIGE GROOTSTE ATLAS
Voor die publikasie van Earth Platinum was die Klencke-atlas – wat uit 1660 dateer – die grootste atlas ter wêreld. Die afmetings van die Klencke-atlas is, wanneer oopgeslaan, 1.75 meter by 1.9 meter. Dit is so swaar dat dit ses mense verg om die atlas te dra. Daar is 37 kaarte in die atlas en die idee daaragter was dat die kaarte uitgeskeur kon word sodat dit teen ‘n muur gehang kon word. Volgens oorlewering is die atlas deur die Nederlandse prins Johan Maurits van Nassau saamgestel. ‘n Konsortium van Hollandse handelaars het in 1660 onder die leiding van professor Johannes Klencke die atlas aan Koning Karel II van Engeland as gelukwensing oorhandig toe hy weer die troon kon bestyg. Koning Karel was blykbaar gek oor kaarte. In 1828 het Koning George III die Klencke-atlas aan die Britse Biblioteek geskenk. In April 2010 is die atlas vir die eerste keer in 350 jaar – met die bladsye oopgeslaan – tentoongestel.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 20, 2024 by in Europa.