ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Met koffers na die Kruger

First published in Rapport, November 2020

Vlieg Kruger toe met ‘n tent in die tas

As dit iewers jeuk, moet jy kráp. Só verduidelik Sigmund en Paula Storm hul besluit om die Krugerwildtuin met koffers aan te durf.

As jy vanaf die Kaap die Krugerwildtuin wil besoek, moet jy redelik lank voor die tyd begin beplan. As ‘n bestemming is die Kruger, soos dit in die Suid-Afrikaanse volksmond bekendstaan, ‘n gewilde vakansieplek en word, veral in skoolvakansies, gou volbespreek.

Dis ook nie ‘n goedkoop ekspedisie as jy vanaf die suidpunt sowat 1800 kilometer moet ry voor jy kan kamp opslaan nie.

Sigmund en Paula Storm, wat in die noordelike voorstede van Kaapstad woon, het die hele konsep van ‘n wildtuinvakansie op sy kop gekeer.

‘n Uitnodiging wat nie geweier kan word nie

‘n Onverwagse uitnodiging van vriende om hulle oor ‘n September-vakansie na die Kruger te vergesel, het hulle “’n onwillekeurige gejeuk” laat kry, vertel Sigmund. Die uitnodiging was verleidelik, maar na hulle “mooi daaroor nagedink het”, het hulle dit van die hand gewys.

Per slot van sake het die Storms – soos almal van ons – “net soveel verlof per jaar” en die meeste van hul jaarlikse vakansiebegroting is toe reeds op ander vakansies spandeer.

Die gejeuk wou egter nie weggaan nie.  Die saadjie van ‘n Kruger-wegbreek is geplant.

Sigmund Storm het die hele reis met koffers van Kaapstad na die Kruger-wildtuin beplan en uitgevoer

Sigmund verduidelik: “Akkommodasie in die Kruger is duur; kamp is goedkoop. Jy kan op vlieg as jy in akkommodasie soos rondawels of huisies gaan bly, maar as jy wil gaan kamp, moet jy ry as gevolg van jou kamptoerusting wat jy moet saampiekel.”

‘n Vorige Kruger-vakansie se brandstofrekening het hulle R19 000 uit die sak gejaag. Dan is daar nog die oornagkostes tydens die opry ook.

Jeuk, jeuk. Krap, krap.

‘n Boer maak ‘n plan

Toe begin die gedagte in Sigmund se kop maal om met koffers die Kruger te pak.

Paula Storm knip ‘n uiltjie in die tent na dit uit die tas gepak en opgeslaan is

Hy was oortuig dat hy met “‘n bietjie kopkrap en beplanning” vir hulle ‘n kampvakansie (die goedkoopste verblyf in die park) Kruger toe kon reël – met alles wat hulle nodig het in hul tasse gepak. Daarbo gekom sou hulle ‘n motor huur.

Sigmund vertel: “As ek doodeerlik moet wees, was ek binne die eerste 10 minute wat die idee posgevat het, redelik oortuig dat dit kan werk.”

Hoe om te pak, is tuis dééglik beplan. Geweeg. Oorgepak. Weer geweeg. Oor en oor. Totdat elke stuk bagasie binne die riglyne was.

‘n Glas wyn maak alles reg, terwyl jy kamp, meen Paula Storm

Op die ou end is hulle met vyf stukke bagasie na die lughawe: twee medium tasse (20 kilogram elk as standaard per persoon op ons binnelandse vlugte), twee handbagasietasse en een groot tas wat jy as “ekstra bagasie” kan bykoop.

Die handbagasiesakke het elkeen se klere vir twee weke bevat.

In die groot tas en twee medium tasse is die volgende gepak: ‘n driemantentjie, twee kampstoeltjies en ‘n –tafel, slaapsakke, geleende 28-liter elektriese koelboks, braairooster, braaitang, braaibak, opvoukoelsak, alle eetgerei soos messe, vurke, wynglase, borde, koffiebekers en broodbord, twee selfopblaasmatrasse, twee selfopblaaskussings, wasgoedlyn, verskeie lampe en flitse, handdoeke en toiletsakkies.

Die Storms se vriendekring het hier en daar ‘n wenkbrou gelig toe hulle hoor watter mal perd dié twee opgesaal het, maar die meeste was net nuuskierig en geïnteresseerd oor of, en hoe, hulle die Projek Met Koffers Na Die Kruger sou afloop.

Enige snaakse vrae op die lughawe?

“Nee, glad nie. Ons het mos nie safariklere aangehad nie en daar het ook nie tentpale of roosters by ons tasse uitgesteek nie!”

Die grootste vertwyfeling vóór die tyd was hoe hulle die kos en drank koud sou hou. Alles het egter goed uitgewerk – die elektriese koelboks is by die motor se sigaretaansteker ingeprop en was heeldag aan die loop terwyl hulle rondgery en wild gekyk het.

Verder kon hulle elke tweede dag of so hul voorraad in een van die kampwinkels aanvul.

Sigmund sê wel hy het gereken dis so koud in die vliegtuig se bagasieruim dat vleis nie sommer sou ontdooi in die kort vlug tussen Kaapstad en Johannesburg nie. Dit was toe ook so. Die paar pakkies bevrore vleis, in koerantpapier toegedraai en in hul tasse verpak, het perfek gevries gebly op die vlug.

Die kamp was klopdisselboom

Die hele kampekspedisie het klopdisselboom verloop.

Soggens douvoordag met hekoopmaaktyd is die Storms by die kamp uit. Op die laatste elfuur was hulle vir ‘n laat ontbyt terug by hul kampplek. Teen so twee-uur het hulle vir ‘n tweede keer uitgery “vir die laaste wildsoekrit van die die dag”.

Kyk net die ogies agter die draad wat vir die Storms se aandete loer

Die enigste item wat hulle bygekoop het, was ‘n pan. Op hierdie manier het hulle hul bagasiegewig op die vliegtuig bekamp. Die einste pan is egter saam terug huis toe, want volgens Paula “is daar nie nog ‘n pan wat ‘n eier só lekker kan bak nie.”

Met die terugvlug was daar weereens geen omstredenheid nie.

Die Storms het wel nie ‘n lysie gemaak van wat presies waar gepak was nie.

Op die laaste aand het hulle dus die bagasie gepak soos wat hulle gedink het hulle daarmee aangekom het.

Toe hulle egter hul bagasie op die skaal by O.R. Tambo-lughawe sit, was drie van die vyf tasse ernstig oorgewig en twee redelik ondergewig.

Dit het hulle gekos ‘n onbemande aanmeldpunt beset waar hulle ‘n halfuur spandeer het om elke tas tien keer oor te pak. Sigmund sug as hy daaraan terugdink: “Dalk het dit net soos tien keer gevoel soos wat ons items tussen tasse geruil het totdat elke tas binne die gewigsbeperking was.”

“Ek vermoed dit was snaaks vir die mense wat ons dopgehou het, maar dit was minder amusant vir ons,” slaak hy ‘n tweede sug.

Sou die Storms weer soiets aanpak? “Ongetwyfeld ja!” kom dit asof uit een mond.

                                             ***

Wenke vir as jy self wil probeer

  1. Moenie te lank tob nie; doen dit net. Begin sommer nóú beplan.
  2. Jy kan met veel, veel minder klaarkom as wat jy dink.
  3. Gaan verkieslik in ‘n koeler tyd van die jaar (April -Augustus). Die Krugerwildtuin kan warm raak en die humiditeit dra daartoe by.
  4. ‘n Klein tentjie bied min beskutting teen hitte, veral op warm dae. ‘n Effens groter tent met dikker materiaal werk beter, mits jy dit in jou bagasie gepas kan kry.
  5. Kies ‘n ietwat groter huurmotor, eerder as die heel kleinste. Sorg dat die huurkontrak genoeg kilometers insluit. As jou kilometers beperk is, kortwiek dit jou te veel. Rek dus jou begroting ‘n bietjie, indien nodig.
  6. Die Kruger-wildtuin se onderskeie winkels bied – in terme van verskeidenheid en kwaliteit van kruideniersware –oorgenoeg sodat jy selfonderhoudend kan kamp. Dus hoef jy geen beplanning vir proviand by die huis te doen nie en jy hoef ook niks kos saam te vlieg nie.

Hoeveel kos dit?

  • Retoervlugte vir twee van Kaapstad na Johannesburg: R4202
  • Ekstra stuk bagasie vir beide vlugte: R434
  • Huur vir ‘n Toyota Avanza (outomaties): R6500
  • Kampeerplek vir sewe nagte: R2212 (R316 per nag)
  • ‘n Luukser safaritent vir die laaste nag: R613


Leave a comment

Information

This entry was posted on January 13, 2021 by in Die res van Suid-Afrika.