ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Vallei van genade in die Overberg

First published in Beeld, May 2020

Welkom in Genadendal, Vallei van Genade

Die dorpie Genadendal aan die voet van die Riviersonderendberge in die Overberge is nie sommer van hier rond nie.

Genadendal was die eerste sendingstasie in suidelike Afrika. Die eerste onderwysopleidingskool in ons land was ook in Genadendal. Nelson Mandela, wat Genadendal op 10 Oktober 1995 besoek het, het die Kaapse presidentswoning se naam van Westbrooke na Genadendal verander.

Welkom by Genadendal – Historiese Dorp

Met die inry by Genadendal heet twee padpredikante jou welkom. Op ‘n sementboog staan: “Welkom – Welcome GENADENDAL Historiese Dorp / Historical Town”. Op ‘n fotobord aan die oorkant van die indraaipad staan: “Welcome to Genadendal – Valley of Grace”. Verder agter die fotobord steek ‘n mosterdgeel huis met ‘n sitstoep kop uit; voor die verwelkomende kennisgewing groei ‘n allemintige aalwyn, tipies van die distrik se plantegroei.

Agter die sementboog is ‘n muur waarop kennisgewings geplak kan word. Onder ‘Places of Interest’ is daar net mooi niks. Moet egter nie dat dit jou mislei nie!

Draal op Genadendal se werf rond

Op Genadendal se uitgestrekte outydse werf is genoeg rede om ‘n hele tyd lank te vertoef. Dan praat ons nog nie eers daarvan nie om deur elke straatjie op en af te ry en jou te verlustig in die rustige gang van die inwoners en hul plattelandse bedrywighede.

Die begin van Genadendal

Soos reeds genoem, was Genadendal die eerste sendingstasie in suidelike Afrika. So lank terug as 1737 is ‘n Duitse sendeling, Georg Schmidt, deur die Morawiese Sendinggenootskap na Suid-Afrika gestuur om onder die Khoikhoi te bearbei.

Destyds was Genadendal as die Baviaanskloof bekend. In 1738 het sendeling Schmidt sy intrek in die dorp geneem. Kort voor lank het hy begin om die Khoi te leer lees en skryf. Hy het ook ‘n klein Christelike gemeentetjie gestig.

Ek wou graag die gelui van die klok op die werf gehoor het

Toe dit egter bekend geraak het dat dié sendeling sy ‘gemeentelede’ doop, het die Nederlandse kerkowerstes kapsie gemaak. Volgens hulle mag hy nie mense gedoop het nie omdat hy nie deur die kerk georden is nie. ‘n Skamele sewe jaar na sy aankoms in Baviaanskloof moes George Schmidt die land verlaat.

Dit het amper 50 jaar geduur voor enige sendingwerk hervat is. Op Oukersaand in 1792 het drie Morawiese sendelinge, Christian Kühnel (‘n uitmuntende mesmaker), Daniel Schwinn and Henrik Marsveld, in Baviaanskloof opgedaag.

Van George Schmidt se huis het net ‘n murasie oorgebly. Hulle was egter verbaas om vir Moeder Magdalena, een van die eerste mense wat die eertydse sendeling bekeer het, raak te loop. Sy het Schmidt se sendingwerk voortgesit deur onder ‘n peerboom wat hy in Baviaanskloof geplant het, vir dié wat wou luister, uit haar Nuwe Testamentiese Bybel voor te lees.

Kom na die kerk

Die imposante geel-en-wit kerk op die historiese kerkplein, wat as Genadendal se Werf bekendstaan, is egter nie die eerste kerk wat in Baviaanskloof – sedert 1806 heet die dorp Genadendal – opgerig is nie.

Die Morawiese Kerk in Genadendal se hoeksteen is reeds in 1891 vasgemessel

Die eerste kerkgebou, wat in 1796 ingewy is, was hopeloos te klein. Die tweede kerkgebou is reeds in 1800 ingewy. Dié kerk het mettertyd verwaarloos geraak. In 1891 is die hoeksteen van die huidige kerk gelê.

Die eerste aanblik van Genadendal se Morawiese Kerk vervul jou met ootmoed

Die eerste aanblik van Genadendal se Morawiese Kerk vervul jou met ootmoed. Hoewel imposant, is dit tegelykertyd eenvoudig mooi.

Terwyl ek nog al rondom stap om die mooie kerkgebou uit elke hoek te betrag, nader ‘n vriendelike Genadendaller my. “Die sydeur is oop. Gaan na binne!”, moedig hy my vriendelik aan, so asof hy bang is ek loop dit mis. Die dorpenaars is juis met reg trots daarop dat hul kerk die oudste pyporrel in Suid-Afrika het.

Die kerk is wit en bruin met ‘n ster in die dak wat ‘n kleuraksent verleen

Van binne is die kerk ewe indrukwekkend op ‘n stil, beskeie manier. Die plafon, mure, dun houtpilare en kerkbanke is alles wit. Die houtvloer is verbleikwit. In die kerkpaadjies en voor die preekstoel is rooi matte wat die eenvoud van die res van die binnekant van die gebou aksentueer. Uit die dak hang koperkandelare en veelpuntige rooi-en-wit sterre. Op die houtgalery hang wasige wit gordyne wat van onder sigbaar is.

Ek bespeur ‘n houtbord waarop daar staan: “23 April 1988 – God wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

Wandel op die werf

Op die res van Genadendal se Werf is die Morawiese Sendingsmuseum, gesetel in die gebou van die eerste onderwysopleidingskool in Suid-Afrika, wat in die 1830’s sy deure oopgemaak het. In 1831 is daar ook ‘n skool in Genadendal gebou.

Stap op die historiese Kerkplein rond en verkyk jou aan die argitektuur; knoop ‘n geselsie met ‘n Genadendaller aan

‘n Deel van die  museum is ingerig as ‘n koffie- en geskenkwinkel. Die swart-en-wit museumkat sonder ‘n naam kom vly haar gemaklik teen jou bene aan en vra vir ‘n oorkrap as jy na ‘n katliefhebber lyk.

Daar is twee museums wat op Genadendal besoek kan word

‘n Klipgooi verder kan die Kothuismuseum ook besoek word.

Stap rond – jy kan jou motor onder die reuseakkerbome op die kerkplein parkeer – en loer na die ou klok, die watermeul en die groentetuine van vanmelewe.

Stap na agter die Morawiese Sendingsmuseum om verder te verken

In die drukkerymuseum (die drukkery is in 1859 gestig) is die Gutenberg-drukker, een van die eerste drukkers in die land, te sien. In van die ander historiese geboue word papier gemaak en geweef; daar is ook ‘n boekwinkel.

So maak mens op Genadendal

In die strate van Genadendal het tyd gaan stilstaan. Almal groet vriendelik met die verbyry. Perde met vulletjies wei plek-plek tussen die huise. Op elke hoeveelste erf skrop werfhoenders. Lui honde gaap op tuinpaadjies. ‘n Granaatboom en verskeie vyebome staan in drag.

By die Alles In Klein Begin-kafee rus ‘n omie op die stoep. Op die 4 Way Shop pryk ‘n Sasko-advertensie. ‘n Man met ‘n hark lei sy perd aan teuels verby Oompie’s Bottle Store.  

Dis net nog ‘n dag op Genadendal. Of eerder, op ‘Genaal’, soos wat die Genadendallers hul heimat noem.

  • Hoe kom jy daar:

Vanaf Kaapstad ry jy met die N2 oor Sir Lowryspas. Draai net voor Caledon links op die R406 na Greyton en Genadendal. Genadendal lê 32 km op jou linkerkant.

As jy met die Tuinroete langs kom, kan jy die R62, die vinnigste roete, of die N2 neem.

  • Lok my die wandelpad:

Genadendal is die begin en die eindpunt van ‘n tweedagstaproete na en terug van Robertson. Vind meer uit by: http://www.cape-hike.co.za/genadendal-hiking-trail/

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 3, 2021 by in Oral(s) in die Overberg.