ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

2 Oceans trek ‘n nuwe baadjie aan

First published in Die Burger, August 2012

Ou juweel, nuwe blink – by Kaappunt

(Grainy pictures due to re-photographing from newspaper as I do not have the originals anymore)

Dis ‘n triestige dag. Dit reën aanhoudend. Eintlik sous dit sommer. ‘n Bende bobbejane klouter teen ‘n grondwal by Smitswinkelbaai uit. Toeriste druk hul kameralense teen motorruite.

Die toeriste is ongetwyfeld ook oppad na Kaappunt, die plek waar die Atlantiese en Indiese Oseaan nié saamvloei nie. Nogtans is dit ‘n toeriste-bestemming wat min besoekers aan ons land misloop – en ‘n destinasie wat Suid-Afrikaners gerus meer kan besoek. Veral noudat die 2 Oceans Restaurant opgedollie is.

En wat ‘n transformasie is dit nie! Dog is die nuwe voorkoms subtiel sodat die fenomenale uitsig oor Valsbaai die kollig steel. Soos dit moet wees. Vanaf die ruim houtdek voel dit – as jy ‘n tikkie verbeelding gebruik – asof jy op ‘n passasierskip oor die relings na die oseaan tuur.

20171015_154623

Gryser as grys

Vandag is die see loodgrys. Die lug is bewolk, net af en toe skyn die bleek winterson vir so ‘n wyle. Onverwags word dit vir my mooier as wat dit op ‘n helder somersdag sou wees.

Binne-in 2 Oceans eggo die kleure van die see en die lug. Verbleikgrys, vissershuisie-wit, steenkoolmure en ecru, die kleur van die sand, sê 2 Oceans, maar dit laat my aan my ma se tapisserie-garing dink. Die vloere vertoon ‘n grys grein; daar’s dryfhoutskakerings; die trappe neig na leiklip; en die golwende wit plafon is deur ‘n walvis-ribbekas geïnspireer.  Die dak herinner my egter aan die silhoeët van sandduine.

Die enigste kleurspatsels is dié van die blomme – veral proteas –  wat onpretensieus in vase gedruk is, en van delikate soesji. Salmpienk, donkerder tuna nigiri, en piekelgemmer. Dis oorwegend pienk, dit laat jou dink aan ‘n kinderpartytjie, dis mooi om na te kyk en nog lekkerder om te eet.

Sing van soesji

20171015_154702

Sarawut Sukkowplang – dit klink of ‘n mens sy naam moet sing – is aan die stuur van soesji-sake. Al die pad van Thailand af. Bokant die nuwe soesji-toonbank hang ‘n langwerpige twienkelkandelaar wat net wag vir ‘n briesie om dit te laat wieg. Ek sal nie verbaas wees as Kapenaars hiernatoe begin ry nét vir die soesji nie.

Hier eet jy egter nie net soesji nie. As die spyskaart op die canapés wat met die amptelike opening bedien is, getakseer word, sal dit met vlieënde vaandels slaag. Dít was nou ‘n dinkskrum wat resultate gelewer het. Dit maak nie saak wat jou voorkeur is nie – hier gaan jou smaakpapille bevredig word.

Onder die voorgeregte tel Kaapse seekossop met saffraan, vars oesters, blomkool-en-sampioensop vir vegetariërs, diepgebraaide bokmelkkaas, en risotto met garnaal, bamboesspruite en basilie. Onder die hoofgeregte is vis-en-tjips (die degie is bros en met sitrus gegeur); lensie-en-murgpampoentjiebredie; reënboogforel; lynvis met preieroom,  en cannelloni gevul met woudsampioene, feta en spinasie. Of ‘n dekadente seekosbord mét kreef.

Daar’s ‘n aparte spyskaart vir woelwaters, daar’s ou gunstelinge op die nagereg-spyskaart; die wynlys is deurdag en gebalanseerd; en skemerkelkies word opgetower. Die uitvoerende sjef, Phil Alcock, kén sy storie.

Ervaar bestemming-toerisme

‘n Uitstappie na Kaappunt tiek al die boksies. Of jy nou oor Chapmanspiek of verby Millerspunt ry, een (of twee) van die mooiste uitsigte in die land begroet jou. Bobbejane baljaar gereeld langs beide paaie. Dalk is jy so gelukkig soos ek – net na die inry by die hoofhek van Kaappunt spring ‘n stywe-stert-bok oor die pad.

Vanaf die parkeerplek sien jy hoe woes Bellows Rock op ‘n winderige dag breek. Dis net mooi hier waar die Lusitania in 1911 gesink het. Dalk was dit n windstil dag sonder enige deining op die see en daarom het die skip nie besef die rots is vlak onder die water nie.

Vóór jy deur die 2 Oceans verlei word, is daar die swart, wit en rooi buksie-vuurtoring op die ruwe kranse van die suidwestelike punt van die Kaapse Skiereiland. Ry met die Vlieënde Hollander se kabelkarretjie teen die steil helling uit.

Verskeie afdraaipaaie – waaronder Platboom en Buffelsbaai  – kan ook verken word. By Buffelsbaai is die kese berug, so wees gewaarsku. Klaarblyklik hou hulle van reënveërs.

Ag, vra tog vir die kelners en kelnerinne by 2 Oceans om Shosholoza te sing en dans. As die direkteur, Jeremy Webb, dalk daar is, is hy voor in die koor – en in die danstroepe. Dit gee jou ‘n knop in die keel en gou-gou biggel ‘n traan. Sorg dat jy by 2 Oceans uitkom. Op ‘n valerige wintersdag of ‘n sonnige, warm dag.

20171015_154843

 

Wat jy nog van 2 Oceans moet weet
·        Two Oceans Restaurant doen al vir sestien jaar lank besigheid.
·        In hierdie tydperk is daar 2.5 miljoen maaltye uit die kombuis bedien.
·        Die koste verbonde aan die opdollie van 2 Oceans het drie miljoen rand bedra.
·        Kaappunt is een van die mees besoekte bestemmings in Suid-Afrika en word aktief as ‘n wêreldklas-attraksie bemark.
·        Kyk hoe Kaappunt lyk en wat daar te doen is by www.capepoint.co.za
·        Bespreek jou tafel by www.two-oceans.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 15, 2017 by in Afrikaans foodies and tagged .