First published in Die Burger, May 2017
By Kaap Agulhas – 222km vanaf Kaapstad – is die mees suidelike punt van Afrika. Elke Suid-Afrikaner moet ten minste een keer in hul leeftyd hier staan en oor die oseaan tuur. Dís nou iets wat op jou emmerskoplysie moet wees as jy nog nie daar was nie.
Dis ook hier waar die Atlantiese en die Indiese Oseaan ‘ontmoet’ – soos amptelik deur die Internasionale Hidrografiese Vereniging vasgestel. Die twee oseane oftewel die Agulhas- en Benguela-seestrome vloei natuurlik nie op ‘n spesifieke plek ineen nie – dit gebeur honderde kilometers see in en dit gebeur oor ‘n wye area van ‘n paar honderd kilometer.
Die tweede oudste vuurtoring in Suid-Afrika
Kaap Agulhas Vuurtoring se ontwerp is op die Pharos-vuurtoring van Aleksandrië, een van die sewe klassieke wonders van die Antieke Wêreld, geskoei. Dit is op een na die oudste werkende vuurtoring in Suid-Afrika; op 1 Maart 1849 is die vuurtoringlig die eerste keer aangeskakel.
Jy kan met die 71 steil trappies tot bo in die vuurtoring klim. Onder in die vuurtoring is ‘n vuurtoringmuseum.
Met die inry sien jy ‘n witgepleisterde graffie met ‘n grafsteen waarop daar met die hand geskryf is: “Grave of Daisy Rowe. Died 28/1/1899. Aged 7 months.” Daisy Rowe was die dogtertjie van die vuurtoringwagter. Sy is aan witseerkeel oorlede.
In 2013 is die vuurtoring-veranda wat in 1913 aangebou is, maar wat later afgebreek is, weer herbou.
Skuins oorkant die deur van die vuurtoring is ‘n replika-boegbeeld. Die oorspronklike beeld is in die Bredasdorp Skeepswrakmuseum. Oorspronklik is daar gemeen dat die boegbeeld van die Dundrennan, ‘n Britse skip wat in 1895 ter see in die moeilikheid beland het, is. Daar word egter nou geglo dat die boegbeeld van die Marie Elise, ‘n Franse bark wat in 1877 by Ryspunt gestrand het, afkomstig is.
Trek jou stapskoene aan
Vanaf die vuurtoring – op ‘n koppie met ‘n lieflike uitsig oor die oseaan – stap jy met ‘n houtloopvlak – wat die plaaslike inwoners sommer die ‘plankpad’ noem – vir so 800 meter na die suidpunt van Afrika.
In die omgewing van die vuurtoring en weerskante van die plankpad groei: suurvy (Carpobrotus acinaciformis) waarvan heerlike suurvytjiekonfyt deur die tannies in die distrik gemaak word, die plakkie (Cotyledon orbiculata) waarvan die blare as boereraat teen koorsblare en liddorings gebruik is, verskillende soorte boegoe wat na sitrus en drop ruik en die wilderoosmalva (Pelargonium capitatum) met pienk en pers blommetjies. Ook basbessie (Osyriscompressa), strandsalie of bruinsalie (Salviaafricana-lutea) wat as krui of gesondheidstee gebruik kan word, aambeibos (Chironiabaccifera) en bietou (Chrysanthemoides monilifera).
Meer suid kan jy nie
Die GPS-koördinate vir die suidpunt is S34˚49’59” O20˚00’12”
As jy reeds voor die klipbaken by die mees suidelike punt in die lug gespring het of een been ‘in’ die Atlantiese en die ander ‘in’ die Indiese Oseaan laat ‘hang’ het, bied die paar kilometer vanaf die Kaap Agulhas vuurtoring na Suiderstrand nog heelwat meer vir natuurliefhebbers.
Die klipbaken by die suidpunt is in 1986 deur Bertie Swart gebou. ‘n Poskaart wat hy in 1961 in die Kruger Wildtuin gekoop het, het as inspirasie gedien. Individuele plaaslike inwoners het die klippe geskenk of gekoop en elke klip is genommer.
In die omgewing van die baken groei kapokbossie of wilderoosmaryn (Eriocephalus paniculatus) waarmee jy kan kook of braai, bloukoeniebos of kroestaaibos (Rhus glauca) waarvan die vrugte eetbaar is en wat gebruik kan word om sap te maak, duinekool, strandkool of wildekool (Trachyandra divaricate) – gebruik die blomkoppe om heerlike bredie te maak.
Soos jy verder stap, kyk ook uit vir die melkhoutboom (Sideroxylon inerme) waarvan die hout gebruik is om waens te bou, maar deesdae is dit ‘n beskermde spesie; kooigoed (Helichrysum crispum) – die blareaftreksel werk volgens oorlewering vir hoë bloeddruk en dis tradisioneel as beddegoed gebruik vandaar die naam; en katdoring of wildeaspersie (Asparagus sp).
Nog verder aan groei heelwat duinespinasie (Tetragoniadecumbens).
Die hartseer verhaal van ‘n vistreiler
Vanaf die baken is dit sowat ‘n kilometer of wat na die wrak van die Meisho Maru. Die geroeste wrak lê amper op die strand. In November 1982 het die kaptein van die Meisho Maru, ‘n 400-ton Taiwanese vissersboot, hom misgis met die suidpunt van Afrika. As gevolg van sy foutiewe skatting het hy drie kilometer vóór die vuurtoring op die rotse geloop. Aan boord was ‘n vrag vars tuna.
‘n Paar jaar gelede toe een van die Kaap van Storms se berugte storms losgebars het, is die hele skeepswrak omgekeer sodat ‘bakboord’ ‘stuurboord’ geword het. Jy sien nie sommer iemand wat hier verbyry sonder om eers ‘n foto te neem nie.
Die raaisel by Rasperpunt
Nog ‘n ent verder aan is Rasperpunt se visvywers. Dis waar klippe in die tussengetysones gepak is om vis tydens hoogwater of springgety vas te keer. Hoewel almal nie saamstem nie, word daar algemeen geglo dat die visvywers deur die Steentydperkmense gebou is. Verder af teen die kus – in die rigting van Brandfontein – kan skulpmiedens of skulphope ook gesien word.
Vanaf die grondpad stap jy met ‘n plankpad langs tot by die vywers. Neem jou kamera saam om die houtkruis reg op die punt af te neem.
Luister na klippe wat sing
Die pad loop by Suiderstrand dood. Suiderstrand is vyf kilometer wes van die suidpunt. Suiderstrand word deur die Agulhas Nasionale Park omring.
By Suiderstrand is net meer as ‘n handvol huise. Dis ‘n gewilde visvangplek. Mense ry ook soontoe om Pebble Beach, ‘n klippertjiestrand war die klippe hul eie musiek maak soos wat die water uitspoel en terugtrek, te beleef.
Vanaf Pebble Beach kan jy al langs die baai verder stap tot jy by ‘n turkoois lagune en ongerepte strand uitkom. Pak ‘n piekniekmandjie, want jy sal lus wees om hier te vertoef.
* * *
Kaap Agulhas het sy eie alg
In September 2015 het die internasionale vaktydskrif Phycologia ‘n nuwe spesie koraalagtige rooi alg wat aan die Agulhas-kus gevind is, beskryf. Aanvanklik is daar nie gedink dat die spesie rooi alg, nou bekend as Spongites agulhensis, wel ‘n nuwe en unieke spesie is nie. Die ontdekking en benaming van die nuwe spesie is te danke aan professor Gavin Maneveldt, verbonde aan die Departement van Biodiversiteit en Bewaringsbiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Lees wat professor Maneveldt oor alge en seewier skryf: https://africageographic.com/blog/10-facts-about-seaweeds-interesting-uses-for-seaweed/
* * *
Leer meer:
* * *
Die mees noordelike punt van Afrika
Die mees noordelike punt van Afrika lê in Tunisië. Dis by Ras ben Sakkah (ook bekend as Ras Angela of Engelah), 15 km buite die kleinerige hawestad van Bizerte.
Ras ben Sakkah is so 950 meter wes van Ras al-Abjad wat sommige as die noordelikste punt beskou. Ras ben Sakkah is egter dertig meter meer noord.
Daar’s egter nie ‘n naambord of enige ander aanduiding dat dít is waar jy nou staan nie. Dit kos ook baie rondvra om die plek te kry.
As jy daar staan, bruis jou Afrika-bloed. En jy verlang bietjie huis toe, na die suidpunt.
What an interesting read. Now it’s got me wanting to go back and explore some more.
Oh I did enjoy reading this! Makes we want to go there right now and explore more!
The Overberg honestly has so much to explore!
“Plankpad” is diewonderlikste woord – ek annekseer dit summier.
Jy’s welkom, Tannie Frannie!