ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Besoek die wêreld van Pablo Neruda

First published in Die Burger, July 2015

“Lag vir die nag, vir die dag, en vir die maan” – Pablo Neruda

Op poskaarte lyk Valparaiso romanties en georganiseerd

 Sou Pablo Neruda nog gelewe het, sou hy – op 12 Julie 2014 – 111 jaar oud gewees het. En ongetwyfeld groot makietie gehou het. Want Neruda het gehóú van wyndrink en lag, om te onthaal en láááng gesprekke oor die lewe en die betekenis daaragter te voer. Vir Neruda was lag “die taal van die siel”.

Per slot van sake het hy geglo: Almal – veral mans – wat nie meer speel nie, verloor vir altyd hul innerlike kind. En dís ‘n tragedie.

So teenstrydig met baie van ons Afrikaners se Calvinistiese neigings waarvan sommige steeds sukkel om ontslae te raak. Dis sommer pure pretbederwery, sou Neruda dalk vermakerig snork.

Meer oor die enigmatiese man

Graffiti is orals in Santiago en Valparaiso te sien; soms is dit patrioties, ander kere is dit allesbehalwe patrioties

Pablo Neruda was eers die skuilnaam van Neftali Ricardo Reyes Basoalto (12 Julie 1904 – 23 September 1973), maar mettertyd het hy dit as sy wettige naam laat registreer. Neruda was ‘n Chileense diplomaat-digter en sosialistiese politikus wat in 1971 die Nobel-prys vir Letterkunde gewen het.

Van Neruda het Gabriel Garcia Marques (een van die mees beduidende skrywers van die 20ste eeu en Nobel-pryswenner in 1982; hy is op 17 April 2014 oorlede) gesê: “Alles wat hy aanraak, word digkuns.” Ook: “Hy is die grootste digter – in enige taal – van die twintigste eeu”.

Selfs in Afrikaans vertaal, laat Neruda woorde sing soos met sy uitlating “ek wil aan jou doen wat die lente aan die kersiebome doen”.

Trots Chileens in die strate van die stad

Neruda het sy speelsheid op verskeie maniere laat manifesteer. Een daarvan was deur sy drie huise – ‘n ruk na sy dood as museums ingerig – in Chile. Aldrie wonings is só ontwerp dat dit op een of ander manier ‘n boot uitbeeld om sy liefde vir die see te vergestalt. Ironies genoeg kon Neruda klaarblyklik nie swem nie en het hy ‘n heilige vrees vir water gehad. Seebene het hy nooit gekry nie.

En daar was drie

Pablo Neruda se huis in Valparaiso, Chile

Neruda se enigste huis wat nie ‘n uitsig oor die oseaan het nie, is La Chascona in Santiago, die hoofstad van Chile. Sy ander twee huise is La Sebastiana in Valparaiso, ‘n hawestad sowat 120 kilometer noordwes van Santiago; en La Isla Negra in die provinsie van San Antonio, sowat twee uur se ry van die hoofstad.

Kleur is kenmerkend van die deel van Valparaiso waar Neruda se huis is

Valparaiso was in die tweede helfte van die negentiende eeu ‘n belangrike oorstaanplek vir skepe wat tussen die Atlantiese en Indiese Oseaan gevaar het. Hierdie tydperk het as Valparaiso se goue tydperk bekend gestaan. Die eerste openbare biblioteek en Latyns-Amerika se eerste effektebeurs was in Valparaiso.

Dele van Valparaiso is maar haglik en dis nie 'n goeie idee om daar te gaan rondloop nie

Die historiese deel van Valparaiso is ‘n Wêrelderfenisgebied weens die aard van die stadsontwikkeling op ‘n reeks heuwels sowel as die unieke argitektuur.

In April 2014 het ‘n vernietigende vuur ‘n groot deel van Valparaiso in puin gelê. Meer as 2000 geboue is vernietig. Sowat elfduisend mense is haweloos gelaat. Vyftien mense het hul lewens verloor.

Die natuur laat my dronk voel, sê Neruda

Neruda het nie net met woorde en beelde – wolke wat deur die lug reis soos wit sakdoeke wat totsiens wuif; ‘n stasie wat leeg is omdat die treine êrens anders gaan parkeer het sodat hulle kan rus; trane wat nie gestort is nie, wag in klein meertjies; en water wat kaalvoet in nat strate afloop – gespeel nie.

Hy het verklaar dat hy sy huise soos speelkastele laat ontwerp het en dat hy vroegoggend tot laatnag met sy speelgoed van verskillende grootttes gespéél het. En voorwaar, daar’s hordes speelgoed in sy wonings.

'n Poskaart van Pablo Neruda se studeerkamer wat aan die wind uitgelewer was

By La Sebastiana (vernoem na die bouer) het Neruda sy studeerkamer reg aan die bopunt van die huis laat bou. Hy was gek daaroor dat dit gevoel het of hy aan boord van ‘n skip is as die wind sterk waai. Dan het hy homself “kaptein van die land” genoem. In 1952 het hy juis ‘n bundel gedigte getiteld Los Versos del Capitan voltooi terwyl hy in bannelingskap op Capri-eiland, Italië was – dit is eers in 1963 gepubliseer.

Die Wolk - Neruda se leesstoel

Sy gemakstoel by sy lessenaar het Die Wolk geheet.  Teen ‘n muur is ‘n skildery van “die aakligste vrou wat ek nog ooit gesien het”, aldus Neruda. “Dit sorg dat ek nie van my boek wil opkyk terwyl ek lees nie, want dan gaan ek in haar gesig vaskyk!” het Neruda die keuse van skildery verduidelik.

Ander kunswerke sluit in werke van Picasso en van sy Meksikaanse vriend, Diego Rivera, wat met Frida Kahlo getroud was. ‘n Skildery van Rivera som Neruda se verhouding met Matilde Urrutia, sy derde vrou en die liefde van sy lewe, op. Matilde word uitgebeeld as ‘n vrou met twee gesigte waarvan een na vore kyk; Neruda is versteek in haar wilde, rooi hare. Neruda was gaande oor hierdie skildery.

Speelsheid was Neruda se lewensleuse

Die perd wat drie sterte present gekry het

In La Isla Negra is ‘n lewensgrootte papier-mâché perd in een vertrek. Vir veertig jaar lank het Neruda begeer om hierdie perd te koop. Die einste perd was oorspronklik buite ‘n saalwinkel in Temuco, die dorp in die Chileense wyndistrik waar hy grootgeword het.

Van Temuco het Neruda gesê dat die “enigste onvergeetlike karakter” in die dorp die reën was.

Toentertyd kon baie van die plaaslike Chileense bevolking nie lees nie; daarom het winkels reuse objekte buite staangemaak om uit te beeld watter tipe besigheid hul doen of watter soort ware hul verkoop.

Toe Neruda uiteindelik daarin geslaag het om die papierperd te koop, het hy ‘n verwelkomingspartytjie vir die hoefdier gereël. Drie verskillende gaste het perdesterte as geskenk gebring.  Pablo het terstond ‘n amptelike verklaring uitgereik: my perd is nou die gelukkigste perd in die wêreld! Daarna het die party handuit geruk, so word daar bespiegel.

Soos so baie ander van Neruda se partytjies. Hy was bekend daarvoor dat ‘n partytjie wat hy gereël het, sommer ‘n week kon aanhou. Gaste sou kom en gaan, by die huis hul roes gaan afslaap, en die volgende dag weer terugkeer.

Dalk was dit ‘n geval van aardjie na sy vaartjie – as sy pa se drinkebroers nie dorstig genoeg was nie, het hy mense van die straat af ingenooi om saam wyn te drink.

Een van Neruda se vriende het juis verklaar: “Ons as Chilene hou baie daarvan om wyn te drink, maar Neruda is ‘n digter en daarom moet hy veel meer as ons drink.”

So besing Neruda die vrug van die druif in sy gedig “Ode aan wyn”:

Wyn met die dag se kleur,

wyn met die nag se kleur,

wyn met purper voete

of bloed van topaas,

wyn,

sterre-kind

van die aarde

 In een van Neruda se eetkamers het hy ‘n geheime deur versteek deur ‘n bordekas te laat inbou. Dit het hom groot plesier verskaf as hy sy vriende een of ander tyd gedurende ‘n ete kon verras deur onverwags hier uit te peul. Hy’t ook op een of ander manier geweet net hoe om só van vervelige geselskap aan sy eie tafel te ontsnap.

DSC_0006

Boonop is daar in ‘n knus kroegie ‘n pienk filigreindeur na die gemakshuisie. Sou jy ‘n draai wou loop, kon jy steeds deel van die gesprek wees – maar kwansius nie jou waardigheid verloor nie. In dié kroegie was die ongeskrewe reël dat net Neruda skemerkelkies mag aanmekaar slaan.

Aan Neruda se tafel is wyn altyd in gekleurde glase bedien, want “die kleur van die glas verbeter die smaak van die wyn”. Aldus Neruda. Net nie oranje nie – want Pablo was nie mal oor die kleur van pampoen nie.

Die tafel is met eetborde – met illustrasies van prettige warmlugballonne – en dan natuurlik rooi, blou en geel glase, sowel as groen glaskershouers – gedek. Op die sout- en peperpotjies staan onderskeidelik “dagga” en “morfien”. Sommer net om ‘n glimlag te ontlok.

O die swart kruis van ‘n skip…

Net buite die nou eetkamer met sy breë vensters by La Chascona is ‘n watergevulde sloot sodat gaste kon voel asof hul omring deur water op ‘n skip is. ‘n Watervalletjie het deurgaans die geluid van lopende water verskaf .

So lekker was dit vir hom om saam om ‘n tafel aan te sit dat hy selfs “Ode aan ‘n tamatie” as deel van sy Odas Elementales (Elementêre Odes) geskryf het:

dis tyd!

komaan!

en op

die tafel in die middel

van die somer,

die tamatie

ster van die aarde …

 Iets aan die kleurglas het my aan Helen Martins se Uilhuis op Nieu-Bethesda herinner. Maar waar die Uilhuis met somberheid vervul is, is Neruda s’n ‘n uitlewing van sy lewensvreugde. Iets waaruit ons almal kan leer.

Neruda het gewoonlik met ‘n groen pen geskryf, want dit was sy persoonlike kleur van hoop.

Matilde Urrutia het hom beskryf as ‘n “energieke, speelse en ongeduldige man wat deur ‘n onmeetbare lus vir die lewe gedryf word”.

La Chascona is na haar vernoem en dit was hul eerste vryplek – hulle het ‘n verhouding gehad terwyl Neruda nog getroud was. La Chascona beteken “wilde boskasie” en Matilde het ongetemde, rooi hare gehad.

Sy het die meeste van sy liefdespoësie geïnspireer. Soos die volgende uittreksel uit “Jou voete”:

Jou middel en jou borste,

die dubbelpers

van jou tepels,

die holtes van jou oë

wat pas weggevlieg het,

jou breë vrugtemond,

jou bos rooi hare

my klein toring.

 Maar ek is lief vir jou voete

juis omdat hulle geloop het

op die aarde en op

die wind en op die water

tot hulle by my uitgekom het.

Neruda was gek daaroor om dinge te versamel. Van waatlemoenskilderye tot ou telefone, van skoenlappers tot skippies in bottels, van vrugbaarheidsidole tot opwenboksies wat musiek speel.

DIEOOR~1

In La Sebastiana is daar ‘n laslappiekombers en gehekelde tafeldoek wat netsowel in ‘n Karoo-plaashuis op die bed kon lê. Selfs sy pantoffels het nog hul plekkie.

‘n Enorme mallemeule-perd van Parys kyk in hierdie vyfverdieping-huis met ‘n amperse ongeëwenaarde uitsig uit oor die res van Valparaiso insluitende die hawe en die oseaan.

Benewens die gelukkige perd met drie sterte by La Isla Negra is een van die oorwegende temas artefakte van ou skepe; daar is ook twaalf boegbeelde as deel van die eklektiese dekor ingespan.  Die plafonne is laag en patryspoorte is as vensters gebruik.

‘n Mens kan vir ure deur ‘n Neruda-huis drentel en steeds nie alles inneem nie. Dit grens aan die surrealistiese; dis ‘n viering van menswees en dit wat die lewe bied. Foto’s word eintlik nie toegelaat nie; nie eens van die uitsig na buite nie.

‘n Besoek aan Neruda se huise gee jou ‘n blik op die man self, op sy poësie en op sy lewensuitkyk. Dit laat jou met ‘n bruisende gevoel van energie; jy voel geïnspireer deur sy gebruik van kleur en die buitengewone kombinasie van objekte en bowenal deur ‘n speelsheid wat deurgaans amper tasbaar is.

Dit het amper gevoel of ek saam met Neruda self by sy eetkamertafel aangesit het.

Terug op eie bodem bly ek wonder oor Neruda se woorde en wat dit oor hom as mens sê:

Eendag, êrens –

Op enige plek, ongetwyfeld, sal jy jouself vind, en dit, en net dit, kan die gelukkigste of bitterste uur van jou lewe wees.” (Vry vertaal)

  • Die Afrikaanse vertalings van Neruda se gedigte kom van:

          www.versindaba.co.za/2013/10/06/pablo-neruda-vertaling-     in-afrikaans

  • Besoek ook: www.com/the-houses-of-neruda/
  • Pablo Neruda het meer as veertig digbundels sowel as versdramas geskryf. Die Italiaanse film, Il Postino, is losweg op sy lewensverhaal gebaseer.

Verwerk uit praatjie ‘In die voetspore van Pablo Neruda’ in Mei 2012 ten tyde van die JM Coetzee-fees te Richmond 

Foto’s binne-in die huis (behalwe die boegbeelde) is van poskaarte/Photos of the inside of the house (except for the figureheads) are photos taken of post cards.

2 comments on “Besoek die wêreld van Pablo Neruda

  1. Anita
    May 3, 2018

    Ek het so lekker gelees en hierdie skrywe so interessant gevind en was taamlik vies toe ek aan die einde kom …ek wou nog lees! Dankie Ilse, dink ek en Nerudaa sou fantasties oor die weg gekom het!

    • ilsez
      May 3, 2018

      Dankie, Anita! Dis ‘n wonderlike respons! Jy’t my dag gemaak. Kom drink glas wyn by my as jy in die Kaap is.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 2, 2018 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .