ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Bisantynse skilderkuns vier Pasga en Kersfees

First published in Die Burger, April 2016

IKONOGRAFIE WAT JOU ‘N KNOP IN DIE KEEL GEE

Op die hoofplein in die Kremlin in Moskou is dit 'n aangesig van goue koepels op die dak en honderde goudbeslaande ikone aan die binnekant

Op die hoofplein in die Kremlin in Moskou is dit ‘n aangesig van goue koepels op die dak en honderde goudbeslaande ikone aan die binnekant

Onder Russies-Ortodokse gelowiges is Paasfees oftewel Pasga (in Russies: Пасха) die belangrikste godsdienstige fees, selfs belangriker as Kersfees.

Kyk net die fynste perelwerk op hierdie ikoon by die Verlosserklooster in Suzdal, Rusland

Kyk net die fynste perelwerk op hierdie ikoon by die Verlosserklooster in Suzdal, Rusland

Selfs onder die kommunistiese bewind het baie mense nog steeds die Pase gevier ten einde hul siele en gedagtes te reinig asook om opnuut vrede, geluk en hoop te koester.

Beslaande silwer omraam Moeder Maria se gesig by die ikoonmuseum by die Saviour Monastery of St Euthymius in Suzdal buite Moskou

Beslaande silwer omraam Moeder Maria se gesig by die ikoonmuseum by die Saviour Monastery of St Euthymius in Suzdal buite Moskou

Die Russies-Ortodokse geloof is die grootste geloof in Rusland hoewel daar deur sommige gereken word dat tussen 16%-48% van die bevolking ongelowig is.

Dis moeilik om te glo as ‘n mens sien hoe kopdoektannies en slofskoenomies by buurtkerkies instap om prewelend te bid voor hul hul dagtake hervat. In die kleinste kerkies het ek al keer op keer die ongelooflikste versameling ikone gesien.

Jy kan jou verkyk aan die ikone wat elkeen verskil van mekaar

Jy-kan-jou-verkyk-aan-die-ikone-wat-elkeen-verskil-van-mekaar.jpg

As jy ooit Rusland besoek – en as jy enigsins deur ikone gefassineer is of die liturgiese skoonheid daarvan waardeer – sou ek jou aanraai om nooit by ‘n kerkie verby te loop sonder om na binne te gaan nie.

‘n Wierookseremonie tussen ikone omring deur staanderkandelare en vergulde boeke onder ‘n blou koepel in die Russies-Ortodokse katedraal in Riga, Letland. ‘n Gewyde diens deur ‘n bebaarde priester by die Aleksander Nevsky Katedraal in Tallinn, Estland. ‘n Daaglikse oggenddiens in die St Isaac Katedraal waar die Sint Petersburgers oppad werk toe eers aandoen om staande die seëning oor hul uitgespreek te kry. Elke keer is ek oorval deur emosie.

Ikonografie is ‘n tradisie van die Bisantynse skilderkuns in Rusland – en dele van die Oos-Blok – wat al meer as 2000 jaar oud is.

Die woord ikoon kom van die Griekse woord eikona wat eenvoudig beeld beteken. In die Ortodokse kerk word daar geglo dat die eerste ikone van Christus en die Maagd Maria deur Lukas die apostel geverf is.

Ikone word gereeld deur kerse – veral van byewas – of olielampe verlig. Behalwe dat dit natuurlik die ikone meer sigbaar maak, simboliseer dit ook die Lig van die Wêreld, met ander woorde Christus.

‘n Ikonostase of temploon is ‘n muur bedek met ikone en religieuse skilderye; die muur skei die altaar van die hoofdeel waar die gemeente bymekaar kom. Dit kan ook verwys na ‘n ikoonstaander wat op enige plek in die kerk geplaas kan word.

Die Russies-Ortodokse Kerk het omstreeks 988 – bid jou aan! – ontstaan toe Wladimir die Grote van Kiëf die geloof as die land se amptelike godsdiens aangeneem het.

Vroeë Russiese kunstenaars het veral ikone en helderkleurige fresko’s (muurskilderye) geskilder.

Hoewel ikone as kunswerke geag – en versamel – word, is ikone in die eerste plek heilige voorwerpe wat sekere rolle in die godsdienstige lewens van gelowiges vervul.

Ikone hang in kerke, maar ook teen die mure van bywonershuisies. Ikone word soms in religieuse optogte saamgedra, dit vorm deel van trourituele en word gebruik om siekes te vertroos.

Ikone is al beskryf as brûe na die verlede en spieëls van deurlopende historiese verandering.

Die dorpie van Suzdal is klein, maar die ikoonmuseum by die Saviour Monastery of St Euthymius is ongeewenaar

Die dorpie van Suzdal is klein, maar die ikoonmuseum by die Saviour Monastery of St Euthymius is ongeewenaar

By die Saviour Monastery of St Euthymius in Suzdal, ‘n busrit van Moskou, is ‘n ikoonmuseum in die Assumption Refectory Church wat uit die 1500’s dateer.

Daar is naïewe ikone rofweg op houtblokke geverf; ikone versier met honderde pêreltjies; en ikone wat spog met verfemalje, kosbare edelgesteentes of goud en beslaande silwer.

Tussen elf- en drie-uur laat ‘n beieraar die klokke beier wat jou  noop om jouself ‘n oomblik van die ikoonuitstalling weg te skeur.

Om die Kremlin en sy katedrale met hul ikone in die hartjie van Moskou te beleef, is onbeskryflik

Op die hoofplein in die Kremlin in Moskou is dit ‘n aangesig van goue koepels op die dak en honderde goudbeslaande ikone aan die binnekant

In die Oespenski Katedraal  (Katedraal van die Ontslaping van die Moeder van God), Tzerkov Rizpolozheniya (Kleedafleggingskerk) en Blagowjesjtsjenski Sobor (Katedraal van Maria se Boodskap) in die Kremlin in Moskou kan die indrukwekkende ikoonkunswerke en fresko’s van Rusland se grootste ikoonskilders soos Theophanus die Griek en Andrei Rublyov  gesien word.

Die meeste van die ikonografie dateer vanaf 1652 – die datum laat ‘n mens na jou asem snak as jy dink wat toe eers in ons land afgespeel het – en daarna, maar daar is ook ouer voorbeelde soos die 14de-eeuse Verlosser met die Kwade Oog en die Maagd van Vladimir.

Vanaf die hoofdeur van St Basil Katedraal in Moskou, Rusland kyk jy op die mure van die Kremlin uit

Vanaf die hoofdeur van St Basil Katedraal in Moskou, Rusland kyk jy op die mure van die Kremlin uit

Op die berugte Rooi Plein slaan die ikonografie van die St Basil Katedraal jou asem weg, maar moet ook nie nalaat om na die ikone – en die ikoonwinkeltjie met lieflike hangertjies – in die kleine Kazan Katedraaltjie op die oorkantse hoek van die plein te gaan kyk nie.

Die Church of Our Saviour of Spilled Blood in St Petersburg is asemrowend van buite, en dan weet jy nog nie eers wat binne op jou wag nie

Die Church of Our Saviour of Spilled Blood in St Petersburg is asemrowend van buite, en dan weet jy nog nie eers wat binne op jou wag nie

Die Church of our Saviour on Spilled Blood in St Petersburg oortref perdalks nog al die ander. Die grusame naam van die kerk het sy ontstaan te danke daaraan dat die kerk op die presiese plek gebou is waar Aleksander II in 1881in ‘n  sluipmoordaanval gesterf het.

Die mosaiekwerk in die Church of Our Saviour of Spilled Blood in St Petersburg slaan jou asem weg

Die mosaiekwerk in die Church of Our Saviour of Spilled Blood in St Petersburg slaan jou asem weg

Dit het meer as 30 kunstenaars 27 jaar geneem om die ongelooflike – in omvang en skoonheid – 700 vierkante meter se ikoonmosaïekoppervlakte binne-in die kerk te restoureer.

As jy naby genoeg is, stap elke oggend by St Isaac Katedraal in St Petersburg in om jou dag met die oggenddiens te begin

Dit wou my ‘Hosanna’ laat uitroep soos wat ‘n koor een lente-oggend verlede jaar in die St Isaac Katedraal met my binnestap gejubel het. En Halleluja.

Pasga in Rusland

Die Pase is tradisioneel later in die jaar in die Oos-Blok as wat dit in die Weste gevier word. In 2016 is Pasga op 1 Mei en in 2017 is dit op 16 April.

So word Russies-Ortodokse Kersfees gevier

In die wêreld van sommige Ortodokse Christene word Kersfees op die sewende Januarie van die Gregoriaanse kalender gevier. Dit is dertien dae na 25 Desember waarop ons natuurlik Kersfees huldig.

Vanaf die 15de November word daar gevas; die reëls aangaande wanneer en wat toelaatbaar is, verskil. Dit is ‘n tyd wanneer jy oor jou lewe en Christenskap moet nadink en vroom moet leef.

Op die laaste aand word daar gevas tot die eerste ster verskyn en daarna word die tafel vir die Kersete gedek.

Op Kersdag self is daar optogte na nabygeleë mere, riviere of die see waar die water geseën word. Omdat dit dan daar sneeu – en bitterlik koud is – word daar gate in die ys gemaak om die seëning te volbring.

Church of our Saviour on Spilled Blood in St Petersburg het 'n grillerige naam, maar moet sekerlik een van die allermooiste kerke in die wereld wees

Church of our Saviour on Spilled Blood in St Petersburg het ‘n grillerige naam, maar moet sekerlik een van die allermooiste kerke in die wereld wees

Lees meer oor en kyk na die ikone en kerke:

www.virtualtourist.com/travel/Europe/Latvia/Riga_Region/Riga-440232/Things_To_Do-Riga-Cathedral_of_the_Nativity_of_Christ_Orthodox_Cathedral-BR-1.html

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 2, 2019 by in Europa and tagged .