ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘N KOTHUIS MET IKONE, SPESERYE, ENGELE EN WAAIERS

First published in Die Burger, February 2013

20180214_101141

Met die afstap in die olyflaning na Hannetjie de Clercq se kothuis op Riebeeck-Kasteel, kriewel my vingers reeds om my kamera summier uit te haal voor ek nog gegroet het. Voor ek aan die impuls toegee, kom Hannetjie – met haar stralekrans grys krulle – my tegemoet gestap.

Die een oomblik wys Hannetjie my rond in haar knus kothuis; die volgende oomblik gesels ons land en sand oor speserye, Zanzibar, Morokko, Spanje en markte. Haar vorige huis – net om die draai van waar sy nou bly – was ‘n kunswerk, maar hierdie is ‘n lééfhuis.

Dit kos leisels intrek om ons geselsie kort te knip. Daar’s so baie om te sien en te waardeer rondom my – Hannetjie is ‘n versamelaar en verskeie objekte lê haar na aan die hart.  Sy glo dat elke objek sy eie energie uitstraal en dis voelbaar hier waar ek sit.

‘n Tikkie Spanje, ‘n skeppie Morokko en ietsie van Meksiko

By die rusbank sien ek fyn Spaanse waaiers wat sy vir sentiment hou, maar “dis so warm hier by ons; eintlik moet dit gebruik word”. Net die idee dat ‘n mens agter ‘n waaier kan wegkruip, fassineer haar ook. So ook Frida Kahlo – ‘n geliefde foto van Frida en Diego Rivera, pryk teen ‘n muur.

20180214_101156.jpg

Op die tafel lê ‘n dieprooi, geblomde tafeldoek wat aan ‘n Oosterse tapyt herinner.  Dis in Morokko gekoop, sê Hannetjie en vertel met lus verder dat daar nog stukkies kos daaraan vasgesit het toe sy dit van die Morokkaanse familie se tafel af gekoop het. Soos die tafeldoek, getuig die kussings,lampkappe en tapestrieë van ‘n liefde vir tekstuur en ryk kleure.

Skildery en ikone

20180214_101200.jpg

Orals om my is ikone, engele, Maria-beeldjies, kruise  en dan natuurlik haar bekende skilderye. Haar lewensmaat kies elke keer een om in die huis te hang as sy uitstalling hou; andersins sou hier seker nie eers van haar kuns gewees het nie, bieg Hannetjie.

Hannetjie wys ‘n swart Maria-beeldjie wat sy in Madrid gekoop het en vertel van swanger Maria-beelde wat sy in ‘n kunsmuseum in Lissabon gesien het. ‘n Maria-beeld simboliseer geboorte, om te gee en holisme – dis wat dit so spesiaal maak.

Hannetjie se fassinasie met Fatima se hand het in die vroeë negentigs begin toe sy Morokko besoek het. Met latere besoeke aan Spanje en Portugal het die fassinasie gegroei – dit voel vir haar of Fatima se hand na jou kyk.

Sentimentele objekte met hul eie energie

Bo-op hoë kaste en onder op rakkies is potjies en bakkies, kelke en vase – Italiaanse landbouer-erdewerk (peasant pottery) ‘n spesiale vaas met fyn gesiggies op die nou nekkie van ‘n restaurant in Madrid, Portugese blou-wit-geel blommetjiepatroon-flessies, melkbekertjies en “eienaardige” Victoriaanse glas, soos wat sy dit self beskryf. Ook heelwat Turkse bakke wat ‘n taktiele element het wat juis tot haar spreek. Teen een muur pryk Zanzibarie-glasteëls; teen die sykant van ‘n kas kitsch Meksikaanse religieuse objekte.

Ek sien niks nuuts nie – Hannetjie se objekte is sentiment-gedrewe. Sy verduidelik dit so: sy koop amper uitsluitlik iets wat aan iemand anders behoort het en wat vir die vorige eienaar sentimenteel was; met haar aankoop word die hele proses voortgesit, want op haar beurt voel sy die sentiment en die geskiedenis agter die objek.

Kook met kardamom

Voor ‘n emaljekan proteas staan ‘n boepensfles olyfolie – Hannetjie vertel met groot smaak waar sy dit raakgeloop het en ons besluit beide om die snuffelmark ‘n geheim te hou.

Hannetjie is lief vir kook, maar asseblief tog nie volgens ‘n resep nie. Sy “maak goed op”; sy kook impromptu en hou daarvan om baie speserye te gebruik. Sommer een gróót dis en in dieselfde asem kry ek kardamompoeier present waarna ek al lank soek. G’n wonder hier’s stapels kookboeke (oor Spaanse cuisine, oor ‘n Persiese kombuis, selfs Freud on Food) nie, mymer ek.

‘n Gedeelde passie vir reis

Oor ‘n koppie tee deel ons reiservaringe en gunsteling bestemmings – Buenos Aires waar sy so “gemaklik” voel en Istanboel waar sy so “túís” voel. Sy onthou ‘n oomblik waar ‘n ou Argentynse oompie ‘n “tranquilo”-moment met haar gedeel het en word sommer stil by die herinnering daaraan.

Êrens in die kothuis het ek die volgende raakgelees: Bou u tuiste op die steen, dan dra dit God se seen, en sal dit altyd staan, deur vloed en mensewaan. Sela, dink ek.

Wag, kyk gou hier, wys sy gou ‘n laaste keer voor ek vertrek. Sy haal ‘n bottel uit die rak; wen hom op; die musiek begin speel en binne-in begin ‘n poppie-paartjie dans. Soos die juweliersboksies van lank gelede. Opnuut verwonder Hannetjie haar aan die detail so asof sy dit nou vir die eerste keer ontdek het.

Wat ‘n seëning om so deur die lewe te gaan – met ‘n lewensvreugde en ‘n ingesteldheid om die skoonheid in so baie objekte raak te sien en te waardeer.

  • Lees meer oor en sien meer van die kleurvolle lewe, huis en kuns van Hannetjie de Clercq in Purper en Kaneel, Komyn en Smarag (Lapa-Uitgewers)
  • Gaan kyk na haar webtuiste by: hdeclercq.co.za

 

2 comments on “‘N KOTHUIS MET IKONE, SPESERYE, ENGELE EN WAAIERS

  1. Tannie Frannie
    February 27, 2018

    Purper en Kaneel, Komyn en Smarag is die allerlieflikste boek!

    • ilsez
      February 27, 2018

      Ek is self gek oor die boek!

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 14, 2018 by in 'n Titseltjie dekor / A touch of decor and tagged , , .