ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Hope te sien, doen by De Hoop

First published in Die Burger, April 2015

'n Bootvaart oor De Hoop Vlei terwyl die wolke saampak

‘n Bootvaart oor De Hoop Vlei terwyl die wolke saampak

Om ‘n paar dae by De Hoop Natuurreservaat in die Overberg deur te bring, is om jou batterye te herlaai soos wat dit by min ander plekke geskied. Reeds op die (goeie) grondpad soontoe – buite Bredasdorp draai jy regs vanaf die silo-pad (R319) soos wat die dorpenaars dit noem – raak die ritme van afskakel, rus en ontspan deel van jou soos jy die plaasnaambordjies lees.

Patryskraal, Kathoek, Boschfontein, Komarsekraaal, Karsrivier en Ouplaas vertel ‘n storie van na aan die plante- en diereryk leef. Soos ook by De Hoop.

Sommer met die inry kyk bok se kind jou nuuskierig en familiêr aan. Dassies en volstruise wei onbeskaamd voor die Opstal Manor House op die ‘plaaswerf’- met sy allemintige wildevyebome met dik verstrengelde stamme – wanneer jy by De Hoop aankom. Die wildevyebome is in die vyftigerjare aangeplant, maar lyk ten minste dubbeld so oud.

Dis na hierdie einste bome waarna die restaurant, The Fig Tree, vernoem is. Die restaurant spog met ‘n indrukwekkende wynlys – en Windermere Cider, ‘n natuurlike appelsider van Elgin se appels gemaak – en skuif binnekort na ‘n nuwe lokaal wat oor die hele vlei-area uitkyk.

As The Fig Tree tot dusver so gewild vir troues was, kan ek my net indink wat hierna gaan gebeur.

Perfectly positioned for a view over the De Hoop Vlei

Net die plek om te sit en lees en oor die vlei uit te kyk

Nie dat jy die hele vlei kan sien nie. Die grootte van die vlei wissel tussen 17 en 19 kilometer afhangende van hoe vol dit is. Dit lyk vir jou of dit vlei op vlei op vlei is soos wat dit tussen heuwels en duine deur kronkel.

Ook as jy gaan stap of in die reservaat rondry, wei Kaapse bergkwaggas, bontebokke, duikers, grysribbokke en elande onverstoord. Hulle kyk net af en toe op so asof hulle jou as die attraksie beskou eerder as wat die omgekeerde waar is.

Nothing but the sound of a fish eagle every now and then

Behalwe die Potberg- en Klipspringerroete kan jy saam met ‘n gids al langs die vlei-oewers drentel terwyl jy meer van die voëllewe en fynbos leer.

William Stevens – wie se maatskappy die toerisme-sy van De Hoop Collection bestuur – vertel dat amper alle voëlkykers wat hiernatoe kom, ten minste drie tot vier voëlspesies vir die eerste keer hier te siene kry. Daar is al 260 verskillende voëlspesies by De Hoop gewaar.

'n Vlei-uitstappie by De Hoop

‘n Vlei-uitstappie by De Hoop

Al met die stap langs, sien jy plek-plek skuim van die vloedreën van ‘n tyd terug lê; dis nog hoog in die veld opgestoot en herinner aan ‘n surrealistiese maanlandskap of iets wat in ‘n wetenskapsfiksiefliek hoort.

In die oewerwalle is enorme ystervarkgate en ‘n ent verder lê’n bokskedel soos ‘n stillewe. In die verte wink die wit sandduine – een soos ‘n klein piramidetjie – vir ons, maar die verkenning daarvan moet wag vir die volgende dag.

Becoming acquainted with starfish on a maritime guided walk

Hier’t jou seester!

Ons gids was Esmeralda Langeveldt wat ewe veel van haarself en haar kennis van De Hoop se natuurlewe deel. Terwyl sy die Grysborstjagra, Reusesterretjie, Karoolangstertjie en Kuifkopvisvanger uitwys, vertel sy hoe sy by tye haar ma se afval, vetkoek en stampmielies mis, en hoe sy altyd by tannie Pop verder af in een van Kuruman se strate gaan kuier het. Dís wat ‘n mens in ‘n gids soek – spontaneïteit saam met geankerdheid en ‘n plat-op-die-aarde uitkyk.

Die Amerikaner in ons midde verkyk haarself aan die volstruise. Sy reken dis die mees eksotiese dier – of altans voël, maar dit klink of sy maar swaar aan hierdie feit byt – wat sy nog ooit gesien het.

DSC_1285

Wit en blou, en nog wit en blou

‘n Begeleide mariene staptog lewer seesterre, see-anemone, seekastaiings en siffies op terwyl swarttobies met hul kenmerkende koraalrooi snawels en bene ons skreefoog dophou en tjirpgeluide uiter as hulle reken ons kom nou te naby aan hul gebied. Esmeralda wys vir ons hoe ‘n seeluis op jou handpalm opkrul en haal die kleinste, fynste seesterretjie uit ‘n rotspoel om vir ons van naderby te wys.

Die Beskermde Mariene-Area strek vir vyf kilometer die see in. Terloops, De Hoop is as Wêrelderfenisgebied verklaar.

Om op die rotse – bedek met derduisende mossels soos dit lank, lank gelede orals aan die kus moes gelyk het – te kom, stap jy oor poeierwit duine waar net enkele voetspore ingeduik lê. En voeg joune by.

‘n Jong, verliefde Duitse paartjie syg op die sand neer en deel ‘n innige soen. Dis nie die Afrika-son wat hul aangetas het nie; dis die eerste aanblik van die uitsig vanaf Koppie Alleen. Daar’s ry op ry branders tot jy jou verbeel jy kan Arniston (ook bekend as Waenhuiskrans) sien.

Vie

Sou jy meer adrenalien as veld- en strandwandelinge soek, is daar ‘n paar bergfietsroetes en vierwielmotorfietse om aan te durf.

Die Melkkamer Manor vir groepverblyf by De Hoop

Die Melkkamer Manor vir groepverblyf by De Hoop

Vir naguile word sterrekyksessies aangebied waar jy geleer word om sterre uit te ken. Van uile gepraat – by De Hoop is Kaapse Ooruile, Gevlekte Ooruile en Nonnetjiesuile. Ek verbeel my juis ek het die tweede aand van ons verblyf in die Melkkamer Manor House ‘n uil hoor hoe-hoeee, en sy maat hoor antwoord.

Dan is daar natuurlik die walvisse! Noorkapper-walvisse om meer spesifiek te wees.

Dis maklik die eerste ding waaraan baie mense dink as hulle die woorde De Hoop hoor: walviskyk! Hier by De Hoop is die waters lekker stil vir hierdie reuse seediere.

Tussen Junie en Desember – hoewel die walvisse gereeld reeds in November na ander waters verskuif – kan tussen 50 en 300 walvisse in die baai gesien word. Dís nou iets om te beleef.

Verblyf by Melkkamer Manor House

Die Melkkamer Manor House is aan die oorkant van die vlei – sodat die oornaggaste heeltemal privaat is – en jy word ewe romanties per boot soontoe geneem. As dit laatmiddag is en julle is gelukkig, is daar vier of vyf ystervarke – wie se blyplek in die rivierwal is – te sien. As die weer erg onguur is, kan jy ook die opstal per pad bereik.

Die geboue dateer uit die tyd van die oorspronklike plaas, De Hoop. Die huis is in 1907 deur John Henry Anderson ontwerp en laat bou. ‘n Klein swartwit foto’tjie van hom pryk op die kaggelrak.

Die huis spog met ‘n sinkdakveranda, Art Nouveau loodglasdeure en kaggels wat per trein en ossewa hierheen gebring is. Die dekor is stylvol met hier en daar ‘n eklektiese byvoeging soos ‘n lemmetjiegroen-en-vuilwit slakskottel en ‘n porseleinkrimpvarkie.

Daar is vier en suite- slaapkamers. Die Melkkamer word as geheel verhuur en is ideaal vir spesiale verjaardae of die samekoms van vriende.

Dit kos van R8500 per nag vir die Melkkamer Manor House. As jy nie selfsorg verkies nie, sal De Hoop jou eie sjef vir jou reel.

Met ons verblyf het Philip Lottering van botterskorsie-quiche tot Italiaanse tiramisu met ‘n goeie skeut kondensmelk gemaak; hy’t snoek gebraai en lamspotjie bedien; en Dalfrenzo Laing het gesorg dat net mooi alles klopdisselboom verloop.

Bespreek by: www.dehoopcollection.com/room-view/melkkamer-manor-house

DSC_0037

Jenewer by De Hoop

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 23, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .