ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Liggies in die duister

First published in Die Burger, February 2013

DIE WAGTERS VAN DIE SEE

Daar's niks soos 'n Afrika-sonsondergang tesame met 'n vuurtoring nie

Suid-Afrika het 45 operasionele vuurtorings oor ‘n kuslyn van 3751 kilometer (volgens die Instituut van Wêreldbronne) . Tradisioneel meestal wit en rooi, maar soms met onverwagse swart strepe soos by Cape Recife, Port Elizabeth of ‘n nog meer onverwagse donker mosterdgeel obelisk soos Cape Vidal, KwaZulu-Natal. Groenriviermond Vuurtoring in die Noord-Kaap kombineer ‘n vet swart streep met ‘n goudgeel naaldstruktuur.

Ek sou graag wou weet hoeveel Suid-Afrikaners het al ál die lighuise (vuurtoring is darem eintlik ‘n soveel mooier woord) in ons land besoek (of dalk afgeneem).

Die mooie Groenpunt-buksie

Dis seker op min plekke in die wêreld wat jy ‘n vuurtoring so te sê ín die stad kry. Mouillepunt se vuurtoring is ewe spoggerig op ‘n groen grasperk langs ‘n besige dubbelbaanpad.

Die Groenpunt Vuurtoring huisves die hoofkantoor van vuurtoringdienste in Suid-Afrika; en hier is die eerste baanbrekerswerk met ligtorings in Suid-Afrika gedoen.

Kies die tyd van die dag – verkieslik ‘n sonnige somersdag – mooi as jy foto’s wil gaan neem. Die skadu’s van die kort palms verskaf ‘n ekstra dimensie aan jou foto. Binne-in is ‘n uitstalling van vuurtoring-memorabilia te sien en jy kan in die toring opklim om oor die baai uit te kyk. T-hemde sowel as langmouhemde met vuurtoring-embleme word te koop aangebied.

Hier teen sonsondergang kan jy op Wakame se monochroom terras saam met modieuse soesji-slette aan sasjimi smul. Net oorkant kan jy by Pepenero aansit vir seekos, pasta, biefstuk of ‘n glas konjak. Bespreek vooraf ‘n tafel by een van die oopskuifvensters sodat jy die seesproei op jou gesig kan voel en die sout seelug kan inasem.

Beide Wakame en Pepenero is binne stapafstand van die vuurtoring. As ‘n flinker wandeling jou geval, is dit net ‘n entjie verder na die Tobago Terraskroeg by die Radisson Blu waarvandaan jy Bloubergstrand en Robbeneiland kan sien.

Die falliese simbool van Tietiesbaai

Ilse20000_0036

Cape Columbine lê tussen Paternoster en Tietiesbaai; dis die laaste vuurtoring wat in Suid-Afrika gebou is. Cape Columbine is ‘n lang, spierwit Art Deco-styl obelisk met ‘n bloedrooi lanternhuisie soos ‘n kadotjie bo-op. In die lente is die vuurtoring omring met madeliefies en ander fynbos. Klim ook tot bo sodat jy oor die Atlantiese Oseaan kan uitkyk.

Hier kan jy in een van drie vuurtoringwagterhuise in vierster-styl  oornag as kampeer by Tietiesbaai jou nie geval nie.

Pak ‘n geruite kombers, strooikussings en ‘n piekniekmandjie met patee, rogbrood, piekelmossels, vars oesters van die Saldanhabaai Oestermaatskappy, en ‘n bottel yskoue Cap Classique. Kies ‘n strandinhammetjie by Tietiesbaai solank die wind net nie waai en die seesand om jou enkels swiep nie.

As jy wel besluit die wind is darem nou eens te erg, kan jy op Paternoster jouself met ‘n bokkempizza (of een met gerookte snoek) bederf. Dis dalk ook net op Paternoster waar jy so-iets kry. Dis ook net by Blikkie Pizzeria wat hulle so kreatief met pizza’s raak. Plak jouself sommer net daar op die stoepie neer. ‘n Siciliaanse resep word in hierdie 110-jaar oue vissershuisie gebruik. Die Weskussers hierbinne loop oor van gemoedelikheid.

Oorweeg ook Voorstrandt,een van die eerste eetplekkies wat hier nes geskop het. In ‘n 114-jaar oue donkergroen en baksteenrooi blikhuisie. As jy by die stoep afklim, wriemel jou tone in die sand en strek die wit sand weerskante van jou uit.

Waar die oseane nie ontmoet nie

By Kaappunt is sommer twee vuurtorings – ‘n Tweebokkemeteenskootdoodgeskiet-fontein by die kus. Die eerste vuurtoring was klaarblyklik weens sy posisie nie ten alle tye sigbaar nie en soms omhul deur digte mis.

Kaappunt se geoutomatiseerde vuurtoring(s) is die enigste wat met ‘n kabelspoorweggie kan spog. Staan heel voor in die moderne kajuitjie en kyk hoe die vuurtoring geleidelik voor jou verrys. Ter wille van varïeteit kan jy op met die spoor en af te voet.

‘n Afstandpaal reg voor die boonste vuurtoring dui aan hoe ver ‘n paar wêreldstede van hier is. Beijing, China is 12 933 kilometer en New Delhi, Indië 9 296 kilometer ver weg.

Kaappunt is seker een van die enigste plekke in die Skiereiland waar ‘n aanbeveling gemaak word dat ‘n besoek saam met die tierende Kaapse Dokter oftewel suidooster moet geskied. Soos jy van die boonste na die onderste vuurtoring stap, dartel seemeeue teen ‘n skrikwekkende spoed deur die lug. Verlustig jou aan die manewales van die bobbejane met die terugry.

Hupse Hangklip

Ilse20000_0033

Hangklip se vuurtoring met een dik swart streep is so ietwat van ‘n kluisenaar. Die vuurtoring is onbeman en dit kos ‘n entjie se stap, oor ‘n sandduin of drie, om daar te kom, maar niks sit ‘n geswore faroloog af nie. Neem ‘n weddenskap oor wie die wit hoedjie met die rooi tossel van die vuurtoring eerste gaan sien.

As die son sak, weerkaats die vuurtoring in die rotspoele of op die blink sand. ‘n Vuurtoringentoesias se droom.

Vier jou foto’s by die Hangklip Hotel of ry terug na Pringlebaai.

Die suidpunt van ons kontinent

Tot ‘n paar maande gelede was L’Agulhas Vuurtoring die enigste vuurtoring waarbinne ‘n restaurant bedryf is. Helaas, L’Agulhas se vuurtoring word tans gerestoureer en na afloop van die restourasie word ‘n vuurtoringmuseum binne-in ingerig.

Klim tot bo met ‘n reeks trappe en ‘n steil leer. Neem ‘n foto langs die replika-boegbeeld, The Wooden Lady of Agulhas – niemand weet van watter skip die oorspronklike boegbeeld afkomstig is nie. Loer gou na die graffie – die mees suidelike graf in Afrika – van die sewe-maande-oue Daisy Rowe wat op 28 Januarie 1899 oorlede is. Sy was die babadogtertjie van die vuurtoringwagter.

Vanaf die vuurtoring loop jy bult af met die nuut voltooide houtloopvlak vir presies 800 meter na die suidpunt van Afrika. Van daar is dit sowat 1.2 kilometer na die wrak van die Meisho Maru.

‘n Weggesteekte stompneusie

By St Helenabaai naby Vredenburg is ‘n die kleinste vuurtorinkie van almal. Stompneuspunt Baken was eens ‘n houtstruktuur; in Februarie 2001 is die huidige buksie wat soos ‘n mini-moskeetjie lyk, opgerig.

Wandel al langs die strand af – van die ou visfabriek al oor die lila mosselskulpe langs terwyl alles na die ene bamboes ruik. Voor sonop terwyl die mis so dig is dat jy mekaar op die strand verloor en dit voel of jy verdwaal, verrys die torinkie voor jou soos ‘n visioen.

Stompneuspunt Baken is ‘n fees vir die oog en totaal uniek in vergelyking met alle ander vuurtorings wat jy dalk al gesien het.

As jy ‘n ontluikende faroloog is:
·        Belê in Lighthouses of South Africa deur Gerald Hoberman: of jy dit oor en oor deurblaai om na die uitmuntende foto’s te kyk en of jy alles oor Suid-Afrikaanse vuurtorings wil leer, dié boek sal nie teleurstel nie.
·        Ontdek ‘n mede-faroloog se blog: http://lighthouses-of-sa.blogspot.com/
·        Een van die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld was die Pharos (Lighuis) van Alexandrië, Egipte. ‘n Vuurtoring is faro in Spaans en Italiaans; en farol in Portugees.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 16, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .