ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

SPAN UIT OP ‘N PLAAS, BY ‘N RIVIERMOND OF DIE GROOT DAM

First published in Die Burger, October 2013

Baie kampplekke by Die Dam en omgewing

20180510_134258

In die Overstrand kan jy neffens die groot dam, by die mond van ‘n rivier of op ‘n plaas jou tentpenne inslaan.

Aan die end van die pad

Aan die verste punt van die R43 (teerpad; dit word later as jy wegdraai, grondpad) lê Die Dam. Of Die/De Damme soos sommige dit noem. ‘n Spoelklippie se gooi van die Groot Dam kamp jy op ‘n halfmaan grasperk (met geel botterblommetjies in die bloeityd) wat oor die grote oseaan uitkyk. ‘n Innoverende kampeerder se wasgoed hang sommer aan sy staangemaakte visstok, sien ek met die deurry.

Omdat Die Dam geleë is  waar die pad (vanaf Stanford deur Gansbaai)  doodloop, strek ‘n ongerepte strand aan oostekant in die rigting van Soetanysberg voor jou uit. G’n wonder oggend- en aandwandelinge is so gewild nie. Aan die westekant is daar meer rotspoele vir verkenning. Hengelaars vang ook al te graag ongestoord vis – dis nou behalwe as vroulief neul dat jy saam moet stap.

Die Dam is verdeel in Wes-Kamp by Stinkbaai en Oos-Kamp by die duin(e). Die kamp val onder Overberg Distriksmunisipaliteit. ‘n Klein kafeetjie, Steenbras Kafee, is sekere tye van die dag oop. Sou jy – of jou kroos – nie in die bui wees vir die hele kaboedel wat kampeer verg nie, is hier huisies ook beskikbaar.

Vanaf Die Dam kan jy na die Walkerbaai Natuurreservaat ry, maar ‘n ingangspermit word benodig.

Aansoeke vir die immergewilde Desember-vakansie word vanaf 1 Februarie tot 30 Junie aanvaar.

 Omring deur speldekussings

Dis nie sommer op enige plaas waarvandaan jy die see kan sien nie. Met die aanry na Strandskloof – die afdraai is sowat agt kilometer anderkant Gansbaai en ‘n skamele vier kilometer verder padlangs – val die reuse speldekussings jou eerste op. Vlamoranje en welig. Dis net mooi hier waar jy by ‘n netjiese rietdakingang aanklop.

Op Strandskloof kamp jy onder pragtige melkhoutbome met die reuk van fynbos wat jou omring. Tussen die speldekussings deur kan jy tot by Dyer-eiland sien. Agter jou kyk die Franskraalberg op jou neer.

Strandskloof spog met vyftig graskampeerplekke (elk met sy eie braaidrom); drie swembaddens waarvan een verhit is; ‘n klimraam, swaaie en ‘n glyplank vir woelige kinders sowel as ‘n mini-gholfbaan en kioskie. Moenie laat dit jou om die bos lei nie – die atmosfeer is steeds rustig en die plaasgevoel bly geensins agterweë nie. Visarende word gereeld gehoor en die sonsondergang is iets om te aanskou.

kontak hul by strandskloofpark@omail.co.za of skakel 082 721 4381.

‘n Wyse uil wat roep

Uilenkraalsmond is op die ou plaas wat eens Uilenkraalsrivier geheet het. In vanmelewe se dae het die mense eers met waens en later met “pedal-Fordjies en Chevvies” hier aangekom, word daar vertel. Warm water is toe nog deur ‘donkies’ verskaf.

Waar die winkel nou staan, was eens ‘n buitelug-dansplek. “Swem, Jannie, Swem” het vir jare tot vervelens in Desember-maande hier weerklink as al wat leef en beef hier kom uithang het.

Hoewel daar nou reeds 571 semi-permanente huiseienaars by Uilenkraalsmond is, word die 114 kampeerplekke nie daardeur geraak nie. Op welige groen gras met skadu-bome en groot ablusie-fasiliteite het die kampeerders hul eie deel van hierdie kamp-en-woonpark wat ook deur Overberg Distriksmunisipaliteit bestuur word. Die Kraal Kafee verskaf die nodige wat jy kortkom.

Die uitgerekte strand is gewild vir sonbrand en speel; en word saans verlig. Waar die rivier uitmond, word ook al te heerlik in die water baljaar. As die kleingoed moeg vir seewater is, kan hulle die waterwurm aandurf. Die ouer garde kan by Owls Pub keelnatmaak.

Die Stranddienste-groep is elke jaar betrokke by Uilenkraalsmond.

www.uilenkraalsmondresort.co.za/geskiedenis.htm

Ook in die omtrek

As jy vanaf Die Damme op die grondpad (steeds R43) in die rigting van Struisbaai ry, is Strandveld Vineyards en Black Oystercatcher ideaal om te gaan wynproe. Veral op ‘n reëndag is First Sighting se Syrah of The Navigator nie te versmaai nie. Laai sommer van hul Sauvignon Blanc in die kattebak vir daardie vissie wat jy op die kole gaan braai. Die restaurant by Black Oystercatcher is 364 dae per jaar oop.

Tussen Die Damme en Uilenkraalsmond lê Buffeljags, ‘n klein privaat gemeenskappie, asook die Buffeljags Perlemoenplaas. Hierdie perlemoenplaas is nie oop vir die publiek nie, maar sou jy belangstel, bied Abagold in Hermanus ‘n perlemoenplaastoer aan. By Pearly Beach was daar eens kampeerplek en ‘n karavaanpark, maar dit is omskep in privaatbesit.

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 10, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged , .