ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Pasop vir – of geniet – modeltreinsiekte

First published in Die Burger, July 2018

Op die treinmodelaanleg binne die winkel ry drie treine op drie spoorlyne voor sneeubedekte berge verby voor hulle by die Matchbox-stasie stop

Op die treinmodelaanleg binne die winkel ry drie treine op drie spoorlyne voor sneeubedekte berge verby voor hulle by die Matchbox-stasie stop

Die hoofstraat wat deur die suidelike voorstede van Kaapstad tot knap voor die see by Muizenberg kronkel, is die tweelingbroer van Voortrekkerweg wat loop van Soutrivier tot net duskant Stikland, Bellville. Net soos Voortrekkerweg lewer dié hoofweg sy kwota verrassings tussen heelwat ruwe diamante op.

Modeltreinentoesiaste, argitekte, ontwikkelaars en pophuisbouers doen hier inkopies

Modeltreinentoesiaste, argitekte, ontwikkelaars en pophuisbouers doen hier inkopies

Ek het my verkneukel toe ek onlangs op die Model Railroad Shop in Plumstead Hoofweg afgekom het.

Hoe kon ek die winkel in al die jare wat ek gereeld in hierdie suidelike voorstad uithang, misgekyk het?

Met die naderstap kon ek nie glo dat die ‘Railroad’ in Model Railroad Specialists my nog nooit voorheen – synde ‘n treinrybehepte – opgeval het nie.

Met die eerste binnestap het ek my verkyk aan die modeltreintjies, maar ook die modelskepe en modelvliegtuie. Daar’s ook modelwindpompe, modelplaasdamme en modelboompies – net mooi alles waarvan jy kan droom as jy eers begin om ‘n treinmodelaanleg te bou.

Toe die voormalige eienaar met my eerste besoek die groot treinmodelaanleg knap by die ingang aanskakel, was ek dadelik in vervoering. Daar is meer as een spoor; dus kan meer as een modeltreintjie tegelyk ry.

Daar is inkleurpotloodbruin waens van die ou Suid-Afrikaanse Spoorweë asook drie spierwit treinwaens waarop onderskeidelik ‘Fascination’, ‘Technology’ en ‘Spielen’ staan. Voor ‘n duimgrootte kerkie staan ‘n rooi, geel en groen motortjie geparkeer. In ‘n puntdakhuisie brand ‘n lig.

Die modeltrein laat wiel uit die tonnel terwyl swemmers by 'n swembad langs 'n verligte huis toekyk

Die modeltrein laat wiel uit die tonnel terwyl swemmers by ‘n swembad langs ‘n verligte huis toekyk

Die treintjies tjoekepakke verby ‘n bergreeks en deur ‘n tonnel en stop dan by ‘n stasie genaamd Matchbox. Kaalbolyfswemmers kyk vanaf ‘n piepklein swembadjie se rand hoe die trein verbystoom. Onder een van die vele boompies piepie ‘n mannetjie sowaar ‘n blink straal wat aanhou loop terwyl die trein(e) ry.

As modeltreinentoesiaste eers aan ‘n treinaanleg begin bou, hou hulle net nie op nie. Daar’s so baie wat jy kan doen, skep, uitdink.

Álles word op skaal gebou. Vir treinaanlegte bou is die skaal 1 : 87; dit word die HO-skaal genoem.

Só het die eerste sinjaal gelig

Mike Trow het die Model RailRoad Specialist-winkel oorspronklik in 1984 in sy agterplaas begin. Hy is in die destydse Transkei in die Oos-Kaap gebore. As skeepsagent het hy regoor die wêreld gereis. Tydens sy reise na veral Duitsland en Amerika het hy die geleentheid raakgesien om skaalmodelle in te voer.

Die grootste modeltreinverskaffer in Suid-Afrika is in Plumstead

Die grootste modeltreinverskaffer in Suid-Afrika is in Plumstead

Mike se ‘agterplaaswinkel’ het egter van krag tot krag gegaan; dis nie net mense wat modeltreintjies as stokperdjie beoefen wat hier koop nie. Daar is ook ander stokperdjies – soos mense wat lewensgetroue pophuise bou – wat die klein modelletjies gebruik. Ook argitekte, ontwikkelaars en filmregisseurs gebruik van die modelle vir hul beplannings- en voorstellingsuitlegte.

Na Mike Trow in 2017 oorlede is, het sy seun, Wayne Trow, die leisels oorgevat.

Vra sommer vir Pierre Bezuidenhout waar in die wereld hy treinritte sou aanbeveel terwyl jy in die winkel kuier

Vra sommer vir Pierre Bezuidenhout waar in die wereld hy treinritte sou aanbeveel terwyl jy in die winkel kuier

Die passievolle bestuurder by Model Railroad Specialists is Pierre Bezuidenhout wat al in verskeie plekke in die wêreld trein gery het. Tydens ons onderhoud kon hy juis ‘n paar treinritwenke aan my gee wat ek nie kan wag om op te volg nie. Hy sonder met moeite twee treinritte uit wat vir hom uitstaan: die treinrit an Praag na Boedapest en die treinrit van Berlyn na Praag. ‘n Hoogtepunt van sy jaar is die Nuremberg-speelgoedskou waarheen hy elke Februarie gaan.

Pierre vertel met lus hoe hy saam met Mike van Hamburg na Nuremburg trein gery het. Sy oë vonkel toe hy daaraan terugdink en homself weer inleef: “Toe klok daai trein 198 km per uur. Toe die masjinis die noodremme slaan, toe stop hy só gou!” ‘n Vuis in sy palm demonstreer hóé gou dit was.

Tussen ons gesels deur stap ek gou weer ‘n draai deur die winkel.

Die figuurtjies wat jy op jou modeltreinaanleg kan laat rondstaan of-sit, is so een en ‘n half sentimeter hoog. Dié figuurtjies word in Duitsland vervaardig en dan na Mauritius gestuur waar dit met die hand geverf word. Op die rakke staan piepklein bruide en bruidegomme, tennisspelers, sampioenplukkkers, reisigers met bagasie in hul hande en ‘n verskeidenheid van plaasdiere. Daar is selfs pakkies sneeu te koop.

Voor ‘n ry sinkplaatgeboutjies van enkele sentimeter hoog hang ‘n ry wasgoed. Op een geboutjie staan ‘Umdrayiklini’; op ‘n ander ‘Haarsalon’ en ‘n entjie verder doen ‘n spazawinkeltjie besigheid.

Die volgende toneeltjie beeld die lewe op die platteland uit: ‘n windpomp staan langs ‘n plaasdam, aalwynplantjies – ook te koop – groei geil en agter ‘n plaashek wei bruin en wit spikkelkoeie tussen die groen gras.

My gedorie! Hier is selfs ‘n sirkustrein te koop. As jou verbeelding jou toelaat, kan jy ‘n hele sirkusuitstalling op jou modeltreinaanleg oprig. Hier’s ‘n figuurtjie wat mesgooi, ‘n kind wat aan sy ma se arm trek, leeu(tjie)s in hokke en ‘n parade met trompoppies.

Die wêreld oor

Om en by 90% van die voorraad word ingevoer. Die meeste kom uit Duitsland, dan uit Amerika, maar ook uit Engeland.

Model Railroad Specialists voer ook uit – hul meeste uitvoere gaan na Sint Petersburg in Rusland. Hulle voer ook veral uit na die res van Rusland, die Oekraïne en Viëtnam. Modelle van die Blou Trein is gewild in Switserland, Brittanje en Rusland.

Model Railroad Specialists bedien ‘n nismark. Daar is net drie sulke winkels in Suid-Afrika waarvan hulle die grootste is. Hulle verkoop deur aanlynverkope aan die hele Suid-Afrika.

Wees gewaarsku

‘n Giggelgeel plakkaat teen een muur waarsku heel gepas: “Waarskuwing! Aansteeklik – Modeltreinsiekte. Volwasse mans baie vatbaar. Simptome – Voortdurende klagtes dat ‘n opbouende stokperdjie benodig word. Pasiënt het dowwe uitdrukking, is somtyds doof vir kinders en vrou. Hang in kelderverdiepings, solders of motorhuise uit. Doen geen werk rondom die huis nie. Lees heeltyd modeltreinkatalogusse en –tydskrifte. Word gereeld gevind waar hulle met kamera in die hand deur modeltreinwinkels drentel. Mompel nommers soos 4-6-2. Geen kuur tot dusver. Besoek stokperdjiehandelaar. Slagoffer moet so gereeld as moontlik met modeltreine speel.”

Ek weet (nog) nie waarna 4-6-2 verwys nie, maar ek weet goed dat treinry verslawend is. Dit maak vir my sin dat modeltreine ook verslawend blyk te wees.

Model Railroad Specialists, Hoofweg 130, Plumstead

www.modelrailroadspecialists.co.za

Kyk op Facebook na die nuwe voorraad wat aan die begin van Junie aangekom het: www.facebook.com/Model-Railroad-Specialists-144192368974033/?_rdc=1&_rdr  

Gaan kyk self:

Die miniatuur stoomtreine van Western Province Live Steamers kom die eerste Saterdag van elke maand van 13h30 tot 16h00 by die De Grendel Sportkompleksgronde in Bertie Genadestraat in Parow bymekaar. Die voorsitter, Bernard Ridley se kontaknommer is 021 7127034 / 0832613995. Loer ook na hul Facebook-bladsy.

Sluit aan by: Lede van die Cape Town N-Trak Model Railroad Club bedryf, versamel of bou modeltreine van verskillende lande. Hulle kom gewoonlik elke derde naweek van die maand by die Goodwood Biblioteek bymekaar. Daar is N-Trak-klubs regdeur die wêreld. Kontak Trevor Lunt by 072 2474384. Kyk op hul Facebook-bladsy vir meer inligting.

Hou dop: Die Cape Town Society of Model and Experimental Engineers is reeds in 1907 gestig. Hulle is die tweede oudste modelvereniging ter wêreld. Kyk na hul Facebook-bladsy of hou jou plaaslike koerant dop om te kyk wanneer hul volgende ope dag gehou word.

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 20, 2019 by in About trains / Oor treine and tagged .