ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

DIE ESSENSIE VAN ESSAOUIRA

First published in Die Burger, mid-2011

Es-sa-whiee-ra. Eers moet jy onthou hoe om dit uit te spreek; dan moet jy onthou hoe om dit te spel.

Uitsig van die hawe oor Essaouira

Van Marrakesj is dit maklik. ‘n Paar uur per bus of jy kan vlieg. Hulle moet net verstaan waarheen jy wil gaan.

In Es-sa-whiee-ra aangekom, skakel jy af. Jy maak soos Jimi Hendrix. Of Bob Marley. Bekendes van vervloeë dae was al hier, of so loop verskeie legendes. Deesdae se beroemdes kom ook soms hier uithang. Maar eintlik is Essaouira nog maar ‘n provinsiale kusdorpie. Met hier en daar ‘n boetiekhotel wat ‘n glanstydskrif haal.

Nou-nou gaan ons uit see toe

Jy kom nie hiernatoe om gesien te word nie of te sê jy was hier nie. Jy kom hiernatoe omdat jy wíl.

In Essaouira waai die wind gereeld. As jy windplankry of vlieërski, kan dit jou trekpleister wees. Gelukkig voel jy nie die wind as jy in Ou Essaouira uithang nie. In Ou Essaouira word daar op pleintjies gesit; daar word lekker geëet; middagslapies is ‘n vereiste en daar word nie dagboek van aktiwiteite gehou nie.

Matskoonmaakdag

Blyplek wissel van buurt tot buurt. Nuwe dorp versus boetiek versus rugsakreisiger versus riad.

Jy soek verniet imposante kuns –  of historiese museums of allerlei besienswaardighede in Essaouira hoewel hierdie kusdorp uit 1765 dateer. Daar is wel plaaslike kunsuitstallings – veral in die skadu van die vuilpienk mure – maar dit wissel gereeld en die gehalte wissel ook maar. Die bekendste kunsgalery is Gallerie d’Art Fréderic Damgaard. Oor die eeue heen is Essaouira bewoon deur Arabiere, Portugese Christene en Jode (die Dawid-ster is steeds op een van die straatboë sigbaar).

Tradisionele visvangbootjie

Die outentieke hawetjie lok almal. Morokkane drentel rond sommer om te kyk wat aangaan. Toeriste ook. Ou Morokkaan-omies dra nog jurke met kappies (djellabas) wat hulle na vriendelike doodsengele laat lyk. Baie van hulle het tradisionele geel insteekskoene aan.

As jy regs draai net soos jy by die hawe inloop, is daar ‘n kajuitvenster in die hawemuur. Iemand het gerieflikheidshalwe ‘n krat neergesit wetende dat as jy hierop staan, het jy die beste uitsig oor ou Essaouira terwyl die seemeeue voor jou verbyswiep. Vertoef ‘n tydjie hier.

Die see is sleg vandag

Soos jy verder loop, sien jy vissermanne wat hul nette naai, kapteins wat hul bote nagaan en lui bemanningslede wat lê en dut. Die meeste bootjies is kobaltblou, soms groen, en die visvangnette is óf ligbruin óf baksteenrooi.

Es-sa-whiee-ra is ook bekend vir seekos-op-die-kaai. Soos jy aangeloop kom, sien jy al die blou-en-wit gestreepte sambrele. Kyk uit – soos elders in die wêreld – waar daar meer mense by houttafeltjies sit. Dit beteken die kos is vars en lekker genoeg. Jy wys sommer met jou voorvinger wat jy graag op jou bord wil hê.

Die hoofplein in Essaouira

Andersins is die restaurantjies op die hoofpleintjie Moulay Hassan net ‘n hanetree verder ook ‘n opsie. In Ou Essaouira kan jy sitlê op ‘n tradisionele kussing by ‘n lae kopertafeltjie terwyl menttee na jou aangedra word.

Essaouira – soos die res van Morokko – is ‘n mengelmoes van kleure, geure en smake. Ambagsmanne lê miniskule blou, groen en wit teëltjies met oneindige geduld en presisie. Die reuk van thuya hout bereik jou neusvleuels voor jy weet wat dit is. Die kosmark in die agterstraatjies naby Bab Doukkala maak ‘n nuwe gastronomiese wêreld vir jou oop.

Net nog so 'n bietjie sluimer

As jy per bus na Essaouira reis, is dit woestyn rondom jou. Windverwaaid. Jy’s gelukkig as jy ‘n droë boom langs die pad sien staan. Met of sonder bokke wat daarin opklouter. In Essaouira aangekom, voel jy windverwaaid en rigtingloos. Tot jy deur die stadspoorte na binne stap. Dan verander alles.

Binnekant die stadsmure is die medina waar die aristrokrate en regeringsamptenare gewoon het; die kasba waar óf gewoon óf gewerk is; en die mellah, die ou Joodse buurt.

City Walls of Essaouira

Afgewitte geboue en blou luike herinner aan van die bergdorpies in die res van Morokko of aan ‘n ietwat afgeleefde Griekeland. Oranje en rooi kelims laat dit na mat-wasdag lyk. Die lui katte word nooit verjaag nie. Bo-op een bastion is ‘n ry geroeste kanonne en ‘n mooi uitsig oor die oseaan. As jy eers van hier oor die Atlantiese Oseaan uitgekyk het, vergeet jy van huis en werk, van geld en familie; amper oombliklik voel jy lus vir menttee en ‘n vissosatie op die kaai.

Plaaslike mans in 'n kusdorpie aan't filosofeer

 

SOUSSI, DIE MENSE VAN DIE SOUSVALLEI EET GRAAG:
·         Gebraaide vis
·        Tagines met gepreserveerde suurlemoen, vars koljander en tuisgemaakte olywe
·        Sardynfrikkadelle
·        Harira-sop met peper in die winter en dille in die somer
 

 

DAR LOUBANE RESTAURANT
Stel jouself voor – in die binnehof van ‘n 18de-eeuse riad versier met foto’s van die 1920’s en Oosterse snuisterye sit jy aan terwyl ‘n fonteintjie in die agtergrond kabbel. Dar Loubane se eienaars is een van Essaouira, die ander van Frankryk. Hul kos is onverbeterlik, die atmosfeer enig en die diens vriendelik. Kyk of die sjokmousse met Calvados nog op die spyskaart is.

Ilse koop NOG 'n mat

VILLA MAROC
In ‘n systraatjie van Essaouira, naby die stadsmure, is Villa Maroc. As jy nie daar bly nie, moet jy gaan inloer om die inspirerende dekor te beleef. ‘n Kombinasie van teksture en style laat jou lus voel om in elke vertrek of nis te vertoef. Daar’s metaallanterns, tekstiele in die vorm van kussings en dekens, en dan’s daar ook nog keramiekteëls en volop sit- en lêplek. Een kamer het enkel wit hemelbeddens op ‘n swart-en-wit teëlvloer. In ‘n ander lê ‘n ou blaasbalk op die kaggel. Dis nou wat ‘n mens ‘n sjarmante boetiekhotel noem.

One comment on “DIE ESSENSIE VAN ESSAOUIRA

  1. ciska101
    April 21, 2017

    Dit is darem die mooiste van mooi foto’s!
    Ek geniet die reisverhale so baie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 21, 2017 by in Afrika and tagged .