ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Laventelhane kraai lekkerste

First published in Rapport, December 2020

Laventel – vir veel meer as oliekolonie

Lavanda… lavender… laventel

Laventel is al vir duisende jare in gebruik, vir medisinale doeleindes of sommer vir lekkerruik.

Klaarblyklik het die antieke Romeine laventel in hul kookkuns gebruik asook om hul huise vars te laat ruik.  Eeue gelede is laventel deur kruiedokters teen verkoue en hoofpyn gebruik. Daar is ook geglo dat ‘n laventelmussie jou slimmer maak!

Maak jou eie laventeljenewer en sit dit met bloubessies voor

Hoe meer ek oor laventel oplees, hoe meer het ek geleer.

Tydens die Middeleeue was grafrowery algemeen. Tydens die Groot Pes in Londen het grafrowers hulself met ‘n laventelbrousel gewas. Hulle het geglo dit bied beskerming teen die pes.

Koningin Victoria van Engeland het in laventel gebad; tydens die Eerste Wêreldoorlog is soldate se wonde met laventel behandel. Napoleon het selfs laventel saam op die oorlogsveld geneem, word beweer.

Laventel hou kleremotte en luise weg. En spoke, so glo sommige!

Lavande in Frankryk

In Frankryk  ̶  veral in Provence  ̶  staan laventel as ‘blou goud’ in die volksmond bekend. In die argiewe van Provensaalse dorpies staan opgeteken hoeveel die dorpenaars spandeer het om laventel aan te koop van kleinboere wat plante in die heuwels gepluk het.

Baie van die Franse markte verkoop heerlike makrolletjies waaronder laventelmakrolletjies

Gedurende die 1800’s het die pluk en verkoop van laventel in Frankryk toegeneem. Eers was dit net vroue, kinders en ledige skaapwagters of houtkappers wat laventel gepluk het. Die vroue het die geplukte laventel in hul voorskootsakke gebêre. In sommige streke is geplukte laventel dus in ‘voorskooteenhede’ geweeg!

Die laventelplukkers het agtergekom dat snytjies of seerplekke nooit infeksie gedurende laventelpluktyd kry nie. Tot vandag toe behandel die Provensaalse Franse brandwonde met laventel.

Op Franse markte skuur groente, kruie en vrugte gemaklik skouers met mekaar

Daar bestaan onsekerheid oor waar laventel oorspronklik vandaan kom. Persië, Egipte, Indië, Italië, Griekeland en Spanje word as moontlikhede geopper, maar uitsluitsel is daar nie.

Laventelmakrolletjies is van die lekkerste soethappies by La Macaronnade in Bordeaux, Frankryk

Die Egiptenare het laventel as deel van die mummifiseringsproses gebruik. Koningin Elizabeth I van Engeland was blykbaar besonder lief vir laventelgegeurde geregte, veral laventelkonfyt; sy het ook laventeltee gedrink om haar migrainehoofpyne te verlig. Karel VI van Frankryk het volgens oorlewering ‘n voorliefde vir opgestopte laventelkussings gehad.

Kroasië  – ‘n bestemming vir laventelhane

Een van die eerste herinneringe aan ‘n besoek aan Kroasië is van lilapers, laventelgegeurde jenewer. Dit wil my terstond laat teruggaan.

Laventel groei orals aan die Kroasiese kus. In Kroasië staan laventel as lavandula, despik of levendel bekend.

Laventel op Hvar-eiland is van die hoogste kwaliteit in Europa. Dit word met die hand geplant en geoes, berig Total Croatia News.

Volgens dié webwerf kan laventelolie vir bysteke, ligte brandwonde en klein snytjies gebruik word; ‘n paar druppels op jou kussing laat jou lekkerder slaap en druppeltjies wat soos parfuum aan jou polse gewend word, hou jou kalm; en dit help teen naarheid en seesiek (sit ‘n druppel laventelolie op jou tong of agter jou ore) .

Op die kaai van Hvar staan rye violetpers laventelstalletjies. Kies tussen laventelolie in piepklein botteltjies met purper proppies, gedroogde laventel in net-, kant- of linnesakkies, laventelseep en laventelhanderoom.

Baie van die hortjies, deure en vensters in Hvar is óók pers geverf.

Stari Grad is ‘n rustige dorpie, ‘n busrit vanaf Hvar.

Stari Grad is ‘n rustige dorpie op Hvar-eiland; dis die ideal plek om ‘n laventeldrankie ongehinderd te geniet terwyl jy die daaglikse bedrywighede dophou

By Bistro Kod Damira in Stari Grad word jy verlei deur laventelsap, cappuccino met laventelmelk, laventelgegeurde limonade, laventelkoek en –tert, en, my gunsteling, vonkelwyn met laventelstroop.

Za Pod Zub-deli verkoop die heerlikste laventelsoetkoekies

In ‘n straatjie of twee agtertoe verkoop die Za Pod Zub-deli laventelsoetkoekies asook saffraan, gemarineerde olywe, gegeurde sout en truffels.

Hoe klink ‘n laventeljenewer?!

By Razonoda-wynkroeg in Dubrovnik, ‘n toeristetrekpleister in die suide van Kroasië, word laventeljenewer-en-tonikum bedien. As jy jou hart aan ‘n drankie kan verloor, is dit wat hier met my gebeur het.

Dis egter nie net oor die waters wat jy laventellafenis teëkom nie.

Pronkerige stertvere by Laventelhaan op Canettevallei-plaas

Kyk nounet so ‘n spiekeries laventelhaan!

‘n Toevallige inry by Canettevallei-plaas, bekend vir laventel en wyn, en ‘n inloer by hul Laventelhaan-winkeltjie het my nog meer begeesterd oor laventel gemaak.

Canettevallei lê op die Stellenboschkloofpad in Vlottenburg, net buite Stellenbosch. Dié ou wynplaas behoort aan Ingrid en Daniel de Waal. Daniel is die wynmaker van die plaas se twee handelsmerke, Pella en Mount Sutherland.

Die winkeltjie Laventelhaan komplementeer die wynproelokaal op Canettevallei

Ingrid het vantevore in Frankryk gewoon en werk waartydens sy Provence, bekend vir laventellanderye, besoek en “die laventellande in volle blom beleef” het. Sy is toe “deur die intensiteit van die kleure betower, sowel as deur die geure, die bye en die klank van Provence”.

Die De Waals was oortuig dat laventel ‘n wynproelokaal sou komplementeer. Boonop het Ingrid se oupagrootjie, oupa, pa en oom elk ‘n winkel gehad. Sy het gedink “om ‘n winkel te hê, is ‘n bietjie in my bloed!”

Dus het hul “’n lendelam buitegeboutjie reggemaak en een gedeelte ingerig as winkel en die ander helfte as proelokaal”.

In 2012 het Laventelhaan sy deure oopgemaak.

Ingrid reken “Laventelhaan (moet) op jou aftiklysie wees as jy hou van natuurlike sepe, vlugtige laventelolie, rou heuning of droë laventel”.

By haar leer ek dat alle laventels in drie stele vurk. Wanneer vars laventel op Canettevallei gepluk word, word slegs die middelste steel gepluk. Dis die sterkste steel wat die langste in ‘n bossie hou.

By Laventelhaan kan jy ook laventelheuning aanskaf. Bye is dol oor laventel, sê Ingrid.  Sy kook graag met laventel; haar gunsteling gereg is hoender gemarineer in ‘n heuning-en-laventelmengsel.

Die laaste wenk waarmee ek wegloop is hoe om te toets of ‘n vlugtige olie suiwer is: plaas ‘n druppel olie op papier – as dit ‘n vetkol op die papier los, is dit nie suiwer nie. Vlugtige olie verdamp net, met geen vetkol nie.

Besoek ten minste een keer Canettevallei as die laventel in blom staan

Ek vergeet skoon om te vra of die plaas dalk ‘n melkkoei of twee het. Ek het juis raakgelees dat bosse gedroogte laventel in jou melkstal moet ophang melkkoeie laat ontspan en meer melk lewer. Só glo hulle in Bulgarye.

Laventelhaan spog met die allerpragtigste versameling tapisserieë, baie daarvan te koop. Daarby is Canettevallei die enigste plaas in die Boland wat steeds outentieke, tradisionele Kaapse Moskonfyt maak, soos dit 200 jaar gelede gedoen is. Die gistende mos word tydens parstyd oor oop vure gekook. Die konfyt is in seisoen te koop by Canettevallei.

Die aromas van La Motte-wynlandgoed

Oorkant die ingang van La Motte-wynlandgoed op die R45, wat jou direk na Franschhoek lei, nestel ‘n kothuisie onder ‘n pragtige ou akkerboom. In die vroegsomer is die huisie en boom omring deur laventellanderye.

La Motte se laventellanderye – foto geneem deur Andrew Dunkin & verskaf deur Andrew Dunkin

Dié laventellanderye behoort aan La Motte. Die kothuis was vermoedelik die woonplek van een van die seuns van La Motte se eerste eienaar, die Franse Hugenoot Pierre Joubert. Destyds is daar met graan, vee en wyn op dié plaas geboer; die kothuis heet juis Veepos, maar word tans gebruik om vlugtige olies te prosesseer.

Plaaswinkel – La Motte – Farm Shop

Die laventelolie word in ‘n reeks produkte, Arôme de La Motte, gebruik. Dié produkte  – en vars laventel in blomtyd – is beskikbaar by die La Motte-plaaswinkel.

Jy kry sommer lus vir bad as jy La Motte se laventelsepies op die rak sien

Van tyd tot tyd word daar ook seisoenaal laventel as geurmiddel in disse by Pierneef á La Motte Restaurant gebruik.  Laventelroom is ‘n gunsteling.

La Motte is ‘n Bolandse bestemming waar alles keurig is, selfs die berguitsigte!

Pierneef-restaurant deel goedgunstelik die verspot maklike resep: klits een koppie vars room saam met drie eetlepels suiker en vou ‘n halwe teelepel vars, eetbare laventelblommetjies daarby. Eet oor vrugteslaai of muesli.

Laventellafenis by Oranjezicht-mark in die hart van die moederstad

Die Oranjezicht-stadsplaasmark in Kaapstad is Saterdae en Sondae oop; op Woensdae word daar aandmark gehou.

Op dié mark smul jy omtrent. Eers terwyl jy daar is; daarna aan dit wat jy saampiekel huis toe.

‘n Onlangse besoek het heelwat laventelprodukte opgelewer.

By Jasmine Tea Mill was laventeltee, by Dodds and Dütler proe jy Kaapse tuinkruie vermeng met laventel en seesout en die o’live-stalletjie spog met laventellipbalsem en hawermout-en-laventelseep.

By die blommestal van Sisters on Adderley was daar weliswaar nie vars laventel nie, maar jy kan vooraf by hulle bestel (kyk op Facebook); hulle sal hul bes probeer om laventel in die hande te kry wat jy dan by die naweekmark kan optel.

  • Oranjezicht City Farm Market, Grangerbaai, V&A Waterfront, Kaapstad
  • www.ozcf.co.za
Klaar gelees? Tyd om ‘n laventeljenewer te skink!

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 10, 2021 by in Die res van Suid-Afrika, Europa, In die Boland.