ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die lekkerste eend in Beijing

First published in die Burger, July 2016

Die beste eend in die heelal

Om ‘n spyskaart – of die bestanddele wat gebruik word – in Beijing te ontsyfer, is soms moeiliker as wat dit moes gewees het om ‘n gesprek by die toring van Babel te voer.

Restaurante en die tipes kookkuns wat in Beijing aangetref word, verteenwoordig kostradisies van regoor die hele China, deels omdat Beijing al vir eeue die hoofstad is. Twee tipes kookkuns wat meer algemeen voorkom, is dié van Sjandong, een van die vier hoof-‘geure’ van die Chinese kombuis, en die geregte wat eens in die keiser se kombuis voorberei is. In die Verbode Stad het duisende hofkokke gewerk wat alles moes uithaal om die koninklike familie en ander belangrike amptenare te beïndruk.

Almal wat Beijing besoek, stroom na een van die agt takke van Quanjude, bekend vir hul Peking-eend waarvan hulle meer as 2 miljoen per jaar verkoop. Quanjude het hul deure vir die eerste keer in 1864 geopen. Hoewel hul Peking-eend heerlik was, is dit nie die beste wat Beijing kan bied nie.

Soos jy deur die hutongs (nou systraatjies in die ou woonbuurte) wandel, hou jou oë vanaf dag een oop vir ‘n kleinerige restaurantjie waar die Chinese vir lekkerbek-eend aansit. Of sou ‘n mens dit nou lekkersnawel-eend noem, want dié eet hul ook. Vra my, dis soos ‘n murgbeen waarin daar net ‘n titseltjie murg is.

Sou jy so gelukkig soos ons wees – nie net omdat ons 19 jaar na ons eerste reis weer saamreis nie – skeel dit ons nie ‘n duit dat daar nie ‘n Engelse sprook gesprak word nie. Ons keer bloot amper op daaglikse basis terug om Peking-eend met ‘n hoisindoopsousie, hetsy toegerol in papierdun pannekoekies of mandarynse crepes aldan nie, by dieselfde plekkie te verorber.

Die buurtrestaurantjies is meer as geneë dat jy jou eie wyn kan saamneem, hoewel jy dit heel moontlik uit ‘n waterglas of teekoppie sal moet drink. Die maklikste was om wyn, selfs uit Frankryk, by die hoekkafeetjies – nie almal het wyn aangehou nie – in die hutong te koop. Jy’t nou wel nie geweet wat jy gaan kry nie, maar ons het gou ‘n gunsteling of twee geïdentifiseer.

Dit neem ‘n wyle vir sensitiewe siele – die uwe ingesluit – om gewoond te raak aan afgeslagte langnek-eende wat soos kieries in restaurantvensters hang.

Goeie Peking-eend word net met hout van appel- of peerbome gerooster. Eers word die eend met lug gevul sodat die vel van die vet kan skei. Na die eend gedroog is, word dit gerooster tot die vel krakerig én sappig is. Dit word in dun snytjies bedien. Daar word gesê dat ‘n goeie kok 120 snytjies uit ‘n eend van 2,5 kg behoort te kan sny.

Op jou hutong-omswerwinge sien jy kort voor lank hot pots oftewel warmpotdisse wat al meer as 1000 jaar in omloop is. Die warmpot-eetervaring laat jou die ongewone – waarvoor China juis ‘n reputasie het – proe, sou jy kies om dit, eerder as gewone vleissnitte, te bestel.

spyskaartillustrasie

Illustrasie op ‘n spyskaart

Terselfdertyd verskaf die omskrywings op die spyskaart eindelose pret. Tussen slukke Tsingtao-bier het ons gegiggel oor ‘oogvetvleis’, ‘varkbreinblom’, ‘gegeurde donkie’ en ‘gebraaide enema’.

‘n Koperpot met boeljon word na jou tafel gebring. ‘n Piramide in die middel verskaf hitte. Dink aan ‘n fondue sonder die kaas. Juis daarom kan dit maar ‘n waterige storie afgee as jy nie ‘n gegeurde boeljon uit die staanspoor bestel nie.

Met die uitsondering van bloubessie-kapokaartappels – wat amper soos kerkbasaarpoeding gelyk het en waarvoor ons nie kans gesien het nie – was al die bykosse van groenboontjies tot roerbraainoedels, van sprietuie tot sampioene, subtiel, maar o, so verruklik, gegeur. Net okra (‘n vrug wat soos groente voorberei word) het, op welke manier ookal gaargemaak, my nie aangestaan nie.

Ek wou terstond elke soort sojasous op die winkelrak huis toe karwei. Gelukkig is ponzu-sitrussojasous hier by ons maklik verkrygbaar.

‘n Mens hou gou ophou tel hoeveel teepotte, soorte tee en stelle soesjistokkies jy graag sou wou huis toe neem en daarna verlustig jy jouself net in die vensteruitstallings en individueel ontwerpte items in die spesialiswinkels.

Die slegte ding van ‘n besoek aan Beijing is dat eend ter plaatse net nooit weer geurig en sag genoeg proe nie.

Daar is baie dinge wat my na Beijing sal laat terugkeer. Ek het nog nie durian, ‘n spanspekagtige vrug, wat na ou sokkies en uie ruik, so sê hulle, maar met ‘n hemelse vanieljesmaak, geproe nie. Maar veral om weer – elke dag tydens my besoek – Peking-eend te eet.

Waag dit in Wangfujing-kosstraat

‘n Besoek aan Wangfujingstraat in die Dongtsjeng-inkopiedistrik laat jou na jou asem snak. En jou kiewe kriewel. Dis nie al wat hier rondkriewel nie.

Skerpioene wriemel aan sosatiestokkies tot ‘n klïent – hetsy brawe toeris of tradisionele Chinese eter – ‘n porsie van sowat vier skerpioene bestel. Dan word die steeds kriewelendes in kokende olie gedoop.

Hoe smaak dit, vra jy? Só brosgebraai dat die grilfaktor afneem.

Daarenteen smaak ‘n liniaallengte duisendpoot soos biefekstrak. Die laaste gru-uitdaging wat ek aan myself gestel het, was om ‘n kakkerlak te eet. En ja, dit smaak – soos wat Des en Dawn Lindberg vanmelewe gesing het – net soos die eerste lettergreep van die soortnaam.

Lees net as jy nie te veel gaan gril nie: http://travel.cnn.com/shanghai/life/5-extreme-foods-at-beijing-night-market-294439/

Werd om te weet:

Só maak mens eend gaar: www.china.org.cn/english/features/beijing/31300.htm

Lus vir wyn in Beijing: The Bookworm is nie net ‘n boekwinkel en biblioteek nie; daar word somtyds wynproeë aangebied; daar’s ‘n whiskykroeg en vlytjenewer is ook beskikbaar. http://beijingbookworm.com/

Volg die massas na Quanjude: www.thebeijinger.com/directory/quanjude

Leer meer van warmpotdisse: www.thebeijinghotpot.com

Wat jy in die hutongs kan sien en beleef: http://www.chinahighlights.com/beijing/hutong/

2 comments on “Die lekkerste eend in Beijing

  1. Vanessa
    January 22, 2019

    What awesome pictures of another world!! That Duck!!!! You were very very brave eating all those dreadful sosaties!!

  2. ilsez
    March 31, 2019

    Eish, not doing that again! But maybe… until the next challenge!

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 21, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .