ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Eerste by die meul… eerste by die maal

First published in Die Burger, July 2016

(Since this article has been published some details HAVE changed)

20200530_172207

Eerste by die meul, eerste by die maal

As Don Quijote uit die dode sou herrys, is daar ‘n hele paar wind- of watermeulens wat hy met sy perd Rosinante sou kon bestorm as hy deur ons land reis.

Windmeule(ns) kom regdeur die wêreld voor. In Persië is windmeule reeds in die tiende eeu gebruik.

20200530_172214

‘n Koerantfoto van die Mostert se Meul

Mostert se Meul, die oudste en enigste werkende windmeul in Afrika, loer vir jou as jy met die M3 in die rigting van Muizenberg ry. Hierdie meul is om en by 1796 op die plaas Welgelegen – waar Mowbray vandag is – gebou. ‘n Reuse balk aan die binnekant het eers as skeepsmas diens gedoen. Mostert se meul word een Saterdag per maand vir die publiek oopgestel.

Die prentjiemooi watermeul by Elim, ‘n Morawiese sendingstasiedorpie in die Overberg, is in 1828 opgerig en was tot 1972 in gebruik. In 1974 is die meulhuis en 1990 die meulwiel gerestoureer. In Elim word jy gul ontvang en as jy mooi vra, wys hulle vir jou hoe die waterwiel draai terwyl jy aan die spreekwoord, “Met die water wat verby is, mag jou meule nooit weer maal nie,” dink.

Die Rheenendal Watermeul net buite Swellendam huisves De Molen Restaurant. Die geboutjie was nog nooit ‘n meulsteen om die nek van die inwoners nie: vanaf 1880 tot 1937 is graan hier gemaal; van 1937-1969 het die gebou as elektrisiteitsubstasie gedien; daarna was dit ‘n tuiste vir plaaswerkers en op ‘n stadium is voer hier gestoor. In 1977 is die Rheenendal Meul as monument verklaar. Deesdae kan jy hier pizza of knoffelslakke eet. Op die boonste verdieping kan jy gaan loer hoe die meul eens daar uitgesien het.

Pniël, geleë op die Helshoogtepad tussen Stellenbosch en Franschhoek, is in 1843 as sendingstasie vir vrygestelde slawe gestig. Die naam is van Bybelse oorsprong (lees Genesis 32: 30-31) en verwys na die plek waar Jakob met God geworstel het. Pniël beteken ‘aangesig van God’.

Twee grondeienaars het in die middel 1800’s grond geskenk en in latere jare is die plaas, Papiere Molen, aangekoop sodat slawe op dié grond kon huise bou en boer. Die oorspronklike kerk word tot vandag toe gebruik, maar ongelukkig het die papiermeul (indien daar wel een was soos bespiegel word) nie behoue gebly nie, en is daar bittermin inligting daaroor beskikbaar. Pniël Museum is egter ‘n besoek werd!

Kwalik ‘n kwartier se ry vanaf Pniël staan daar wel ‘n Hollandse meul. Die meul en die oord, Hollandsche Molen is in die vroeë twintigste eeu deur die Diepering-familie opgerig. Binne-in die meul self was toentertyd ‘n teekamer. Rondom die meul was arbeidershuisies vir die werkers wat aan Wemmershoekdam gewerk het.

By Hollandsche Molen kan jy deesdae veilig in vierster-gerief kamp – daar is 62 kampplekke, ‘n wegneemkafee en informele kroeg waar etes ook bedien word. Almal ontspan so lekker hier dat jy maar heeldag oor dieselfde ding kan maal; niemand gee ‘n snars om nie.

Een oomblik ry jy nog so aan Hartbeespoortdam toe; die volgende oomblik verrys ‘n allemintige windmeul voor jou.Dis die Windmeul Wafelhuis of sommer Die Windpomp soos wat baie wat hier rond woon, die plek gedoop het. As jy wil “eet smaakelijk”, kom jy hierheen.

Langs Die Windmeul stroom mense na Jasmyn Plaaswinkel.

As jy met die trappe na bo loop, lees jy voetjie vir voetjie: O bring my trug na die ou Transvaal – D.F du Toit, Ons Volkslewe van Toeka – B. Spoelstra, Siener van Rensburg – Boodskapper van God, De La Rey: Die leeu van Wes-Transvaal, Kinders van Suid-Afrika – C.R. Swart, Sprokies van Grimm, My Skatkis van Sprokies en Rympies, Die Beste Spookstories van C.J. Langenhoven, Fanie word Grootwildjagter, Die ruspe wat so honger was, en, eensklaps, Guess how much I love you – Rabbit. Die trappe lei, heel gepas, na ‘n boekwinkel.

Gods meule maal dalk stadig, maar by Die Windmeul is die diens vinnig; al staan daar ‘n string motors geparkeer. Selfs al moet jy ‘n paar uur daar verwyl – soos ek noodgedwonge moes doen, het die kelners agteroor gebuig om te sorg dat ek by ‘n tafel met ‘n kragprop sit; hulle het koffie aangedra; hulle het telkens kom seker maak dat ek alles het wat nodig is; en – later – my glas wyn aangevul. Die ene hartelijke gastvrijheid in ‘n Hollandse meul in Suid-Afrika.

                              * * * Wêreldberoemde Windmeulens om te besoek * * *

Nederland is sinoniem met windmeulens, kaas en tulpe

Nederland is sinoniem met windmeulens, kaas en tulpe

* Orals in Nederland is natuurlik windmeule te sien, maar Zaanse Schans, ‘n opelugmuseum, spog met tradisionele swart en groen meule.

* Die Mandraki-hawe op Rhodes-eiland, Griekeland spog met drie middeleeuse windmeule waarop sypaadjiekafees uitkyk.

* Op Őland-eiland, die tweede grootste Sweedse eiland, is sowat 400 hout-windmeule, almal nasionale monumente.

* Gaan kyk by La Mancha, Spanje hoe Don Quijote se windmeule, wat hy as veglustige reuse aangesien het, gelyk het.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 30, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .