ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

IN DIE KOL MET KOLWYNTJIES

First published in Die Burger, June 2014; original photographs not used)

Cupcakes cure depression!

Almal ken mos maar kolwyntjies van kindsbeen af. Soos dinge maar gaan, het kolwyntjies uit die mode geraak en toe ontpop hierdie einste klein koekies weer en word weereens die in-ding.

‘n Kolwyntjie is ‘n kolwyntjie is ‘n …

Kies 'n kolwyntjie

Die definisie van kolwyntjies is maar heel prosaïes synde ‘n ligte klein koekie, gemaak van beslag met eiers, botter en geurmiddels, gebak in ‘n pan met vakkies.

Kom jy egter af op die fleurige skeppings wat deesdae as kolwyntjies op koekstaanders opgedien word, vertel dit ‘n ander storie.

Die word kolwyntjie kom uit die Nederlandse ‘kolombijntjie’, so word daar gesê. Die oorsprong van die eintlike kol(le)wyntjie kan nie klinkklaar bewys word nie. Blykbaar is kolwyntjies eeue gelede op die naamdag van St. Colombino voorgesit en kon die naam so ontstaan het.

Hoe dit ook al sy – ‘n kolwyntjie is net genoeg vir die een wat dit vashou. Soms voel dit selfs ampertjies te mooi om te eet.

‘n Kolwyntjie ruk handuit

Ons oumas het nooit sulke kolwyntjies gemaak nie

Die nederige kolwyntjie het selfs al die hooftrekke van die wêreldnuus gehaal. O koek! ‘n Paar jaar gelede was ‘n “kolwyntjie onwelkom op vlug oor die terreurbeleid skend”.

In Massachusetts, Amerika is ‘n kolwyntjie wat in ‘n fles vol versiersuiker verpak was, gekonfiskeer omdat dit ‘n “teenterroristebeleid oortree” het. Die versiersuiker kon mos plofbare jel gewees het.

Voortaan sou fyngebak “fyner bekyk” word, aldus die federale vervoerveiligheid.

Kolwyntjies met kamee’s, kantwerk en pêreltjies

Dit het as ‘n stokperdjie begin. Nou maak Vivienne Basckin al meer as 350 kolwyntjies per week.

Dis nie sommer sulke kolwyntjies nie! Vivienne is oorspronklik deur die ontwerpe van Mckenzie Childs (www.mackenzie-childs.com) in New York geïnspireer.

Vivienne maak op bestelling antieksjiek kolwyntjies met ragfyn kantwerk, delikate kamee’s, lintjies en pêreltjies. Onder haar ontwerpe tel kolwyntjies met ‘n sirkustema uit die 1930’s; kolwyntjies wat ‘n Versace eetservies komplementeer; Pink Panthers vir ‘n 10-jarige se verjaarpartytjie; en kolwyntjies met slapende tweelingdogtertjies vir ‘n ooievaarstee.

of besoek die Oranjezicht Stadsplaas Mark waar sy elke tweede week kolwyntjies verkwansel.

Hmmm, dis lekker verby

In ‘n weggesteekte straatjie ver van die geroesemoes van die stad is Hmmm, die bakkerytjie van Alison Stoner-Harper.

Hier in die Tuine het Alison en haar span nie tyd vir gesels nie – hulle bák van kolwyntjies (insluitende wortelkoek met roomkaasversiersel en sjokkolwyne met groot, slap sjokoladekrulle) tot troukoeke en allerhande koekerige skeppings vir die advertensiewese en filmbedryf.

Alison het by die Londense Cordon Bleu School of Patisserie sowel as by Silwood gegradueer. Terwyl daar om jou gewerskaf word, kan jy in die knus koffiewinkeltjie ontbyt of ligte middagete geniet of sommer net jou koerant lees terwyl die soet geure jou verlei.

Hmmm se sjokoladerissiebeskuitjies is ook glad nie te versmaai nie.

‘n Tikkie Frans aan die Weskus

Petit Fours sê self hul bring ‘n tikkie Frankryk na Bloubergstrand, maar by hul beslag is Weskus-cuisine bygeroer.

Terwyl jy jou verlustig aan hul sjokkaramelkolwyne of wik en weeg tussen appelliefie of aarbei met gesmelte sjokolade, kan jy ook besin oor kaaskoek-met-hoender. Petit Fours se porsies is allesbehalwe petite!

Vanuit die 200-jaar oue kothuisie kan jy ongehinderd oor Tafelberg en die oseaan na Robbeneiland uitkyk. As ‘n koue front die Kaap tref, borrel en bewe die branderskuim tot amper by die voordeur.

 Kolwyntjies met ‘n reputasie

Die bekendste kolwyntjies in die stad is sekerlik die kolwyntjies van Charly’s Bakery. Hulle het dan al selfs hul eie TV-program.

Charly’s Bakery is in 1989 deur Charly en Jacqui Biess begin. Jacqui en haar drie dogters bedryf vanaf 2012 die besigheid. Die ‘koekengele’ bak al 25 jaar lank “Mucking Afazing” ontwerperskoeke en plesierige kolwyntjies met inspirerende woorde. As kolwyntjieversiering span hul graag wit-en-geel madeliefies of dieprooi roosblare in.

Charly’s Bakery is in ‘n lawwe, pienk gebou waar vernuwend gedink word. En waar hul blinkertjies mildelik oor hul kolwyntjies “gooi gooi” (een van hul sêgoed in die kombuis waar veertig mense bedrywig is).

Kolwyntjies kan gesond wees

Rooi en swart kolwyntjies pas perfek by die tema

In ‘n studie wat ‘n paar jaar gelede gedoen is, het navorsers voorgestel dat mense dalk meer daarvan sou hou om ‘n kolwyntjie te eet as om ‘n orale glukose-toleransie toets te ondergaan. Die probleem is egter om ‘n standaard kolwyntjie te kry.

 

Nog oor kolwyntjies:
·        Lees meer van die geskiedenis van kolwyntjies op Hetta van Deventer Terblance – van Kokkedoor-faam – se blog:
http://www.kossestorie.co.za/?s=kolwyntjies
·        Delheim het met ‘n wynproe met ‘n verskil – ‘n wyntjie met ‘n  kolwyntjie – vorendag gekom: www.delheim.com/have-your-cake-and-pair-it-at-delheim

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 5, 2018 by in Afrikaans foodies and tagged .