ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dagboekreise

First published in Joernaal, Herfs 2022

O gonna, dis die reisgogga

As die reisgogga jou eers eenmaal gebyt het, los hy nie sommer weer nie.

Dis amper soos ‘n virussiekte waarvan die simptome erger en erger word…

Op jou reislys word nuwe bestemmings voortdurend gevoeg, daar is reeds besoekte destinasies waarheen jy wil, nee móét, terugkeer, en dan vertel iemand jou van nog ‘n plattelandse dorpie, ‘n fassinerende museum of ‘n atmosferiese restaurantjie wat jy nie kan misloop nie.

Om ‘n oorsese reis te beplan het ten minste oor die afgelope paar dekades – vanaf sê nou maar die 1990’s tot nou – heelwat makliker geword. Ook het die meeste van ons darem meer vakansiegeld tot ons beskikking as toe rugsakreis en jeughostelle ons voorland was.

Lank, lank gelede…

Terwyl oorsese reis ons nie op die oomblik werklik beskore is nie en almal mymer oor reise van  lank gelede asook van net vóór die pandemie sy aanvang geneem het, kom ek op twee reisdagboeke uit 1912 in ‘n welsynswinkel af.

Toeval of sinchronisiteit? Wie weet?

Die eerste reisdagboek is in die vorm van ‘n getikte brief op vergeelde papier, getiteld ‘Derde Reis om die Wêreld – Brief Vyf’ en gedateer 24 Desember 1912.  Dis gerig aan ‘Liefste Dolly’ van ‘Jou baie liefdevolle broer Percy’.

Percy vertel in kleur en geur hoe hul groep vriende se vervoer op ‘n dagekspedisie in Java, Indonesië uitgesien het. Hulle het ‘n motor gehuur om tempels te besoek. Al wat gepla het, was dat die ‘motorbestuurder en sy voetwagter (footman) … passievol daaroor was om die toeter – sowel as verskeie ander martelinstrumente – te blaas ‘selfs as daar niemand binne honderd meter van ons af is nie’. Hulle was genoodsaak om ‘watte in hul ore te stop’.

Op ‘n ander keer is hul ‘bagasie in ‘n drastoel gepak’ en moes hul 2000 voet berg af te perd ry, ‘’n drie-uurlange rit’. Volgens Percy se vertellinge was treinry in die vroeë 1900’s ook nie sonder uitdagings nie.

In 1995

My eie reisdagboekinskrywings van my eerste oorsese reis in 1995 laat my treinritte regoor Europa onthou, asook ‘n swaar rugsak wat van die een stasie en jeughostel na die ander gepiekel moes word.

My eerste hostelverblyf was in ‘n slaapsaal met 14 beddens in The Flying Pig in Amsterdam. Hotelverblyf was toe ver buite my – en my eerste reisgenoot Vanessa se – begroting.

Ons  moes kies tussen die Van Gogh-museum en Rijks-museum, want ons begroting het nie twee museumbesoeke in één stad toegelaat nie. Ons het weliswaar die Seksmuseum ook besoek!

My daaglikse uitgawes is noukeurig aangeteken. Ek het die somtotaal van 215 gulden (R516) oor drie en ‘n halwe dae in Amsterdam (insluitende ‘n treinkaartjie na Antwerp) – dus R147 per dag – spandeer. Dit is ‘n breukdeel van die prys wat jy nou vir een nag se slaapplek in ‘n bekostigbare Amsterdamse hotel betaal!

In België (met verblyf in ‘n bed-en-ontbyt) kon ek wegkom met R209 p.d. en in Parys (verblyf in ‘n klein hotelletjie) met R371 p.d. (reiskoste beide kere ingesluit). 

‘n Gesoek na ‘n boek

Reisgidse soos Let’s Go en Lonely Planet was destyds onontbeerlik om ‘n oorsese reis te beplan.

Een van die grootste lekkertes was – en is steeds – om op te lees oor waarheen jy op pad is, wat jy wil sien, waar jy ‘n drankie wil drink en waar jy tradisionele kosse van die distrik moet gaan eet.

Deesdae wemel dit aanlyn van webwerwe, reisblogs en Tripadvisor-inskrywings. Dit neem sekondes voor daar meer inligting op jou skerm verskyn as wat enige voornemende toeris kan verteer.

Kan jy nog onthou toe almal swaar, dik reisgidse – boeke, nie mense nie – saam met hulle gedra het? Landlynnommers en straatadresse is by elke verblyfopsie en eetplek aangegee.

Reisgidse het ook allerhande ander inligting bevat soos hoeveel trappies jy moet klim tot bó in die Sagrada Familia-katedraal waar jy oor Barcelona kan  uitkyk, by watter supermarkie jy die lekkerste Franse kaas en baguette kan koop waaraan jy sommer op ‘n parkbankie smul en waar om ‘n treinkaartjie by die Milaan-stasie te koop om die Como-meer te besoek.

‘n Beursie wat bult met munte

Dit voel onwerklik as ‘n mens terugdink dat elke Europese land op ‘n tyd, voor die euro in omloop gekom het, sy eie geldeenheid gehad het. Daar was die Belgiese en Franse frank, Italiaanse en Turkse lire en Griekse dragma.

Soos jy van een land na die ander reis, moes jy sorg dat jy betyds die betrokke geldeenheid in die hande kry. Dit boonop terwyl jou beursie heel moontlik nog bult met die vorige land se munte.

Dan het jy jou sente uitgetel en gekyk wat jy met die laastes kon koop. Deels omdat dit jou beursie swaar gemaak het en deels omdat jy dalk nog ‘n bier kon bekostig voor jy oor die grens gaan.

Natuurlik is enkele munte as aandenkings uitgehou. As ek nou in my foto-albums rondblaai, is munte met vergeelde kleeflint langs verbleikte foto’s vasgeplak.

Jy moes ook mooi tredhou met hoeveel geld jy al getrek het; saldo’s is nie op kitsbankstrokies aangedui nie.

En dan was daar reis(igers)tjeks!

Voor jou vertrek het jy ‘n boekie reistjeks (amper soos ‘n tjekboek) by jou bank of ‘n ander finansiële instelling bestel. Dit is as veiliger as kontant beskou, want indien dit verlore gaan of gesteel word, kon dit terugbetaal word mits jy nog in besit van jou kwitansies was. Dus moes jy sorg dat jy jou kwitansies (met reeksnommers) en reistjeks op verskillende plekke stoor.

Jou handtekening moes op elke reistjek wees om te verseker dat niemand anders dit kan wissel nie. Jy moes ook reistjeks in kleiner en groter denominasies aanvra wat fyn beplanning gekos het; jy moes jou daaglikse uitgawes vir etes, vervoer, toegangskoste, besigtigingstoere en aandenkings by benadering uitwerk.

Rook soos ‘n spook

Glo dit of nie?! ‘n Mens kon op vliegtuie rook! Jy kon darem ‘n rookvrye sitplek bespreek.

In die 1980’s het lande van regoor die wêreld begin met wetgewing wat rook op vliegtuie verbied het. British Airways het eers in 1998 rook op vliegtuie verbied; SAL het gou daarna gevolg.

Aankoms en vertrek

Met jou aankoms oor die water moes jy eers vanaf die lughawe tot in die middestad kom. Taxi’s was toe – en is steeds – peperduur, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie.

As jy gelukkig was, was daar vanaf ‘n lughawe soos Schiphol in Amsterdam ‘n direkte trein na die hartjie van die stad, of, soos in baie ander stede soos Istanbul, ‘n gesubsidieerde bus.

Tot vandag toe maak ek nie gebruik van huurmotors nie; die geld wat ek spaar, spandeer ek eerder op ‘n bottel plaaslike wyn of trooskos-ete.

Dan eers het die soektog na jou verblyf begin.  Straat op, straat af, rondvra, rondsoek, reisgids oopslaan, vingerdrukkend die kaart bestudeer. Daar was geen Google Maps of ander aanwysings wat jy op jou foon kon naslaan nie.

Dan was daar ook elke dag se soektog na museums, besienswaardighede en bekostigbare eetplekke. En die groot teleurstelling as jy by die regte straatadres aankom, maar die plek is óf toe vir die dag óf dit bestaan nie meer nie.

Wanneer die tyd aangebreek het om huiswaarts te keer, was dit baie makliker om met oorgewig bagasie en ekstra swaar handbagasie weg te kom. Dis nie naastenby so streng nagegaan soos wat deesdae die geval is nie.

Sou jy nou by my aan huis kom, kan ek vir jou uitwys watter dekoritems ek oor die jare terug huis toe gesleepdra het, só swaar of bonkig was dit.

Ek verlang na jou

As jy wou huis toe bel, was telefoonhokkies (ook tiekiebokse genoem) – met plaaslike telefoongidse binnein – jou voorland. Munte is by ‘n gleufie ingegooi; soms kon telefoonkaarte gebruik word (wat na die tyd ook in jou foto-album geplak is). Jy kon ook ‘n kollekteeroproep maak wat beteken het dat die persoon wat jy gebel het, vir die oproep moes betaal.

Gelukkig is daar maar min huis toe gebel – net as daar ‘n krisis was (Ma, my geld is op!) of jy baie erg huis toe verlang het. Langafstandoproepe was dúúr.

Selfs in die vroeë 2000’s was ek nog verbaas toe ek geen telefoonhokkies in Jordanië bespeur het nie, tot ek gelees het dat dié Midde-Oosterse land die eerste land in die wêreld geword het wat alle telefoonhokkies laat verwyder het.

Toe ek ‘n paar jaar gelede in Mongolië was, moes ek my steeds noodgedwonge na die hoofposkantoor in Ulaanbaatar begewe om huis toe te kon bel. Hier hetek in ‘n ry gewag totdat ‘n telefoniste ‘n lyn vir ‘n langafstandoproep beskikbaar gehad het. Sy het die oproep gemaak en toe moes beide van ons wag tot dit deurgeskakel is. Dit was nie asof dit gou gebeur het nie!

In plaas van ‘n vinnige Whatsappie aan ‘n groep vriende wat jou reiskaskenades volg, was daar die ritueel van poskaarte uitkies in elke stad wat jy besoek. As jy voetseer was, het jy jou by ‘n sypaadjiekafee of knus kroegie sitgemaak met ‘n koppie koffie, ‘n koue skuimkop of glas wyn en jou ervaringe neergepen.

Oe die opwinding om ‘n Amsterdamse poskaart met ‘n takkie daggablaartjies van die staanrak af te haal en te besluit vir wie jy dit gaan stuur…

Baie keer het jou poskaarte eers ná jou by die huis aangekom!

Kyk die kiekies

Met die oorvloed van digitale foto’s waaraan almal noual gewoond geraak het, is dit haas ondenkbaar dat daar tot redelik onlangs ‘n tyd was wat jy mooi moes beplan hoeveel rolletjies kamerafilm jy vir ‘n vakansie gaan inpak. Om nie te praat van foto’s rantsoeneer nie!

Rolletjies film en filmontwikkeling was deel van jou vakansiebegroting. Jy moes mooi mik; jy kon beswaarlik meer as een foto per besienswaardigheid neem. Behoede jou as jou foto wasig uitgekom het.

As ‘n spesifieke rolletjie in jou kamera swart-en-wit was, was die hele pakkaas foto’s monochroom.

Liewe dagboek…

Tot en met nou die dag het ek nog getrou in ‘n dagboek geskryf terwyl ek reis. Dié noukeurige ‘boekhouding’ van reiservarings was tydrowend, maar heerlik nostalgies. Nodeloos om te sê het ek dit nooit reggekry om by die laaste dag uit te kom nie; die tyd het my altyd ingehaal.

Deesdae is dit darem soveel makliker om deur Facebook en Instagram ‘dagboek te hou’.

Visum ad infinitum

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly (sommige) dinge dieselfde.

Volgens die Henley-paspoortindeks (henleyglobal.com/passport-index/ranking) is ons Suid-Afrikaanse paspoort ‘n miserabele 53ste op die lys van reisvryheid (Japan is eerste en Afghanistan is laaste).

Daar is 62 lande – uit 195 – waar Suid-Afrikaanse paspoorthouers nie visa’s nodig het nie; dit sluit in Angola, Zimbabwe, Namibië, Mosambiek, Argentinië, Hong Kong en Rusland.

Een ligpunt is darem dat ‘n Schengen-visa nou 26 lande dek; in 1995 moes ons vir al ses lande wat ons besoek het, aparte visas kry.

In 2000 was Oos-Europa nog in ‘n groot mate onontdek, en dus heelwat goedkoper as Wes-Europa. Tóé moes ek vir die 6 lande wat ek besoek het, (Estland, Rusland, Pole, Tsjeggiese Republiek, Hongarye en Kroasië) en vir 2 lande waardeur ek met die trein gereis het, visas – met ‘n groot gesukkel, daarby gesê – uitneem.

Sou jy dieselfde treinreis nou onderneem… het jy net ‘n Schengen-visa nodig!

4 comments on “Dagboekreise

  1. vinnie1995
    January 23, 2024

    You had a great photographer back in the day😊 …..

    Vanessa Williams

    B.Econ Hons

    Nessmark CC T/A – FSP License No 10049

    Tel: 021-205 1133 Cell: 082 697 9064

    Email: vanessa@mwwealth.co.za Bld 3 Tre Mondi Park, 2 Niblick Way, Somerset West http://www.mwwealth.co.za

    Email Disclaimer

    Nessmark CC is an Authorised Financial Services Provider licensed with the Financial Services Board FSP10049. The information contained in this communication, including attachments, is not to be construed as advice in terms of the Financial Advisory and Intermediary Services Act of 2002 unless specifically referred to as Advice. Warning: Any unauthorised use or interception of this email is illegal. If this email is not intended for you, you may not copy, distribute or disclose the contents to anyone. Nessmark CC does not accept any responsibility for the opinions expressed in this email.

    • ilsez
      February 4, 2024

      Oops, I didn’t credit you, Vanessa! Giggle giggle! Great travel partner too.

  2. Imma Grobbelaar
    January 24, 2024

    What wonderful wonderful memories – I’d love to travel with you one day – you’re so worldly travelled already –
    It’s amazing experiences LOVE all the places that you’ve been to and all the photos – thanks Ilze

    • ilsez
      January 29, 2024

      What a LOVELY message, Imma. Thanks so much! I still want to go to Calabria, that you know well. Puglia too.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 23, 2024 by in Europa.