ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Daar’s ‘n trein – en die N1 – na Matjiesfontein

First published in Beeld, August 2017

DSC_0344

Daar is net een Matjiesfontein

 In ons huis is daar ‘n reël: jy mag nie op die N1 verby Matjiesfontein ry sonder om in te draai nie. Die res van die reël stipuleer: koffie vir die bestuurder en – afhangende van die tyd van die dag – óf dieselfde óf ‘n glas wyn vir die passasier. Net as julle nie anders kán nie, mag daar verbygery word.

Lank, lank gelede was die hedendaagse Matjiesfontein net nog ‘n plek langs die spoorlyn waar die treine stilgehou het. Hier kon stoomlokomotiewe destyds vars water oplaai.

Toe besoek ‘n Skotse immigrant James Douglas Logan – sy vriende het hom Jimmy genoem – die omgewing en is dadelik dol oor die plek.

In die laat 1800’s vestig hy ‘n halfwegstasie – tussen Kaapstad en De Aar – en laat boor vir water. Só gebeur dit dat hy mettertyd water sowel as versnaperings aan die passasiers op die treine verkoop.

Jimmy Logan het nie gras onder sy voete laat groei nie. Matjiesfontein word die eerste dorp in Suid-Afrika wat met die volgende kan spog: elektrisiteit, water en telefoonlyne, spoeltoilette, ‘n gesondheidsoord, en ‘n windmeul. Hy plant ook vrugteboorde aan – vrugte was toe nog baie skaars in hierdie geweste.

Op daardie tydstip was mense van mening dat die Karoo-lug baie goed vir jou gesondheid is, veral as jy met longkwale gesukkel het.

Kort voor lank is Matjiesfontein deur allerhande bekendes soos die skrywer Olive Schreiner, Rudyard Kipling, Cecil Rhodes en die Britse krieketspeler, George Alfred Lohman, besoek.

In 1899 bou Logan die Lord Milner Hotel. Gedurende die Anglo-Boereoorlog (of Suid-Afrikaanse Oorlog) van 1899 tot 1902 word die hotel as ‘n Britse militêre hospitaal en hoofkwartier vir die Skotse soldate gebruik. Tydens die oorlog het hier op ‘n stadium 12 000 troepe en 20 000 perde opgedaag.

Met sy dood is Logan in ‘n familiebegraafplaas net buite Matjiesfontein begrawe.

As jy deesdae Matjiesfontein besoek, sien jy die volgende geboue in die straat wat so wyd is dat ‘n ossewa ‘n swierige es daarin kan gooi: Tweedside Lodge, Logan se oorspronklike huis; Logan se Algemene Handelaar is nou ‘n koffiewinkel, Matjiesfontein Coffee House, met geel en rooi petrolpompe sonder brandstof op die sypaadjie; en dan is daar Masonic Lodge, die losieshuis, die Ou Bankgebou en die Ou Poskantoor.

Om nie te vergeet van die Lord Milner Hotel met antieke meubels, imposante trap en die Laird’s Arms-kroeg wat drup van atmosfeer.

Die kerkie agter in die tuin van die Lord Milner Hotel

Die kerkie agter in die tuin van die Lord Milner Hotel

Die Lord Milner bied slaapplek in die hotel self sowel as in van die historiese kothuise – Reston Villa, die Olive Schreiner Kothuis en die Ou Museum Suite – in die hoofstraat.

Matjiesfontein Coffee House bied ligte middagetes soos geroosterde toebroodjies en lamspastei en gebak soos appeltert en skons aan. Sit terug, sorg dat jy genoeg tyd op hande het en verlustig jouself in ou vloere wat gemoedelik kraak as die drinkgoed aangedra word.

Binne-in die Ou Poskantoor is deesdae ‘n geskenkwinkel, maar jy kan nog steeds ‘n poskaart koop en vandaar pos – die gebou dien steeds as geregistreerde poskantoor – of ‘n T-hemp aanskaf wat jou terug by die huis aan jou besoek sal herinner. Die glans- en versamelaarsboeke is ‘n loer werd.

Anderkant die parkeerplek – moenie in die rooi bus vasry nie – is die stasiegebou en die Marie Rawdon Museum.

Die distrik van Matjiesfontein bied gulde geleentheid om te stap en jou bergfiets se speke op die grondpaaie te laat sing. By www.matjiesfontein.com/blog/post/matjiesfontein-walks-koniekraal/ en www.matjiesfontein.com/blog/post/matjiesfontein-walks-perdekloof/ kan jy lees waar om te loop en waarvoor jy op die uitkyk kan wees.

Broekieslace en ‘n breë houttrap by die Lord Milner Hotel

By die Lord Milner het die tyd in baie opsigte stilgestaan, of so voel dit.

Of jy oornag oppad êrens heen of spesiaal kom kyk het wat die vingerhoeddorp so uniek maak, kruip dié plek onvermydelik in jou hart in.

Agter in die tuin is ‘n lieflike klein kerkie wat steeds vir troues gebruik word. As dit warm is, kan jy in die swembad afkoel.

Jy verlustig jouself in die eetervaring as die kelnerinne, met hoedjies wat soos gespuite roomtorinkies lyk, in die Lord Milner Hoteleetkamer silwer koepeldeksels waaronder skaaptjoppies of Karoo-springbok op jou wag, uitdra.

In een van die weelderige sitkamers is daar kwansius al ‘n spook gesien. John Theunissen, die flambojante kroegman, wat teatraal met ‘n foto op ‘n spesifieke stoel poseer wat veronderstel is om bewys van die spook te lewer, bied ook die Rooi Bus-toer aan.

As John Theunissen die beuel blaas, moet jy blitsig op die rooi bus spring om die toer mee te maak

As John Theunissen die beuel blaas, moet jy blitsig op die rooi bus spring om die toer mee te maak

Die Rooi Bus-toer word met “It’s showtime!” aangekondig en regdeur die toer – wat minder as 10 minute duur – besig Theunissen voortdurend hierdie woorde in ‘n luide stem.

Jy sit nog in die kroeg en teug aan ‘n sjerrie; die volgende oomblik word jy opgekommandeer om in die bus te klim.

Tydens die warrelwindtoer wys Theunissen die “eerste en laaste skool” in Matjiesfontein, die eerste huis wat ‘n spoeltoilet, telefoon en elektriese ligte gehad het, die ou hofgebou en tronk, en Olive Schreiner se huis uit.

Sedert 1980 hoor besoekers aan Matjiesfontein al vir Theunissen op hierdie toere sê: “Hier draai ons regs, want ons kan nie links draai nie!” Gevolg deur: “It’s showtime!”

Met die terugkoms word daar musiek gemaak. Theunissen tokkel die klavier – fooitjies asseblief – en sing uit volle bors. Van die kroegkuieraars sing saam, sommige met minder sukses soos ‘n Moorreesburgse boer wat my onlangs laat ore toedruk het.

By die Laird’s Arms Pub word ook kroegmiddagetes bedien. Veral in die winter gaan jy maar sukkel om jou van die knus kaggelvuur weg te skeur.

                                   * * * Op Matjiesfontein se stasieperron * * *

DSC_0341

Die stasieplatform skud as die trein verbykom

As ‘n trein verbykom of instoom, dreun en skud die stasie. Dan klop jou hart saam op die spoor en jy neurie sommer ingedagte die wysie van Sonja Herholdt se ou liedjie ‘Daar’s ‘n trein na Matjiesfontein’.

DSC_0342

Daar’s ‘n trein… daar’s ‘n trein…

Op die perron nooi ‘n witgeverfde bankie jou om te sit; in die sinjaalkamer staan gekleurde sinjale in gelid en nostalgiese foto’s gee ‘n blik op ‘n tyd toe stoomlokomotiewe gereeld hier aangedoen het.

Treinentoesiastiste moet nie die geleentheid misloop om die Blou Trein of Rovos Rail van nader te beskou nie. Vind vooraf uit op watter dag en hoe laat hierdie geleentheid hom voordoen.

2 comments on “Daar’s ‘n trein – en die N1 – na Matjiesfontein

  1. selmaohlsson
    May 13, 2020

    Loved this! And LOVE Matjiesfontein. And agree! It’s a sin to just drive past!

  2. ilsez
    May 18, 2022

    Don’t know why I only see this now… We are on the same page… or train station, Selma!

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 12, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .