ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Lok my die wandelpad

First published in Die Burger, October 2014

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Sou jy jou in Hermanus bevind, kan jy gerus jou stapskoene aantrek en ‘n helder, oop, sonnige wintersdag só benut.

As deel van die FynArts Fees is sewe enorme beeldstrukture op die kranse van Gearing’s Point opgerig. Hoewel die fees al oor is, bly die ongewone beelde vir tien maande – tot 31 Maart 2015 – staan.

Tel tot sewe

Al sewe is deur bekende kunstenaars wat reeds hul merk in die kunswêreld gemaak het. Die ses kunstenaars is: Dylan Lewis, Strijdom van der Merwe (hy’s vir twee verantwoordelik), Jaco Sieberhagen, Marieke Prinsloo-Rowe, Gordon Froud en Shany van den Berg.

Die beelde het ‘n tema wat losweg gebaseer is op: die see, vroue en die natuurlike omgewing. Lig en die kleur rooi word herhaaldelik gebruik.

Ek’t ‘n voëltjie hoor fluit

Aan die verste kant – van waar die Nuwe Hawe net-net sigbaar is – lê ‘n reuse nes op die rotse. Binne-in is ‘n eier wat ‘n volstruiseier na ‘n kwikkie-eiertjie laat lyk. Van die inwoners spot dat dit ‘n walviseier is!

Kyk mooi tot jy die nes onder op die rotse raaksien

Strijdom van der Merwe, ‘n landskapkunstenaar en skepper van Die Nes, het al landkuns regoor die wêreld opgerig. In sy skeppings gebruik hy gewoonlik sand, hout, rotse, klippe en water, iederwel, dit wat vanuit die omgewing waar die kunswerk gaan staan, afkomstig is.

In die middel van die stokkiesirkel is die Nuwe Hawe net-net te sien

Strijdom is ook verantwoordelik vir die stokkiesirkel getiteld Circle of Sticks. As jy versigtig kies waar jy staan, is die Nuwe Hawe net mooi sigbaar in die middel van die sirkel.

Oranje met die blanje van skuim en die blou van see

Terwyl jy so seelangs drentel, voel-voel jy onverwags na jou sonbril. Dis omdat die knaloranje-rooi Cone Virus van Gordon Froud in jou gesigsveld verskyn het. Dit lyk kompleet of dit uit allemintige verkeerskeëls gemaak is.

Jy kan nie die Cone Virus miskyk nie

As jy jouself reg posisioneer – net as daar geen mis oor die baai hang nie – kan jy die speldpuntjie van Danger Point Vuurtoring tussen die boonste twee/drie kegelpunte sien.

Gordon Froud is al vir meer as dertig jaar in die Suid-Afrikaanse en internasionale kunswêreld betrokke. Die kegelvirus lyk of dit ‘n tweede lewe sal kan verkry as dit in ‘n futuristiese fliek gebruik word.

Viering van fynbos

Heritage deur Jaco Sieberhagen lyk of dit in ‘n feetjietuin hoort. ‘n Rooi, geel en blou blomstruik staan fier en regop terwyl die branders wit daaragter breek.

Agter die Heritage-beelde breek die wit skuimwaters

Sy webtuiste verklaar dat Sieberhagen “nie buite staan en van daar sy straaltjie piepie nie.” En: “Dis omdat hy mens is en dit deurgaans besef dat die  menslikheid in sy werk seëvier.”

Swem, sussie, swem

Turend oor die see sit ‘n figuurtjie in ‘n rooi-en-wit streepbaaibroek. Sy’s gepas getitel: Awaiting your Return. Geboë, op haar hurke, met haar gesig geskulp in haar hande en ‘n bebrilde swempet wag sy geduldig, gedienstig, gedwee. Dalk tevergeefs.

 

 

Marieke Prinsloo-Rowe is welbekend vir haar swemmerdogtertjies, maar dis by verre nie al wat sy doen nie. Sy het ‘n armlange lys van uitstallings waarvan haar werk al deel was, en ‘n verdere lys – net so lank – van opdragwerk wat sy al gelewer het.

‘n Duo engele

‘n Entjie weg van die see staan ‘n rooi, gesegmenteerde, armlose beskermengel deur Shany van den Berg. Dit voel sommer of Guardian Angel se vlerke oor almal wat verbyloop, en opkyk, uitgesprei is.

'n Armlose rooi beskermengel

Shany se werke vier gewoonlik die kompleksiteit van vrouwees. Dis nie die enigste engel wat ‘n hartverwarmende gevoel nalaat nie.

Dylan Lewis se Trans-Figure XXIV Maguette II lyk soos ‘n vroulike engel Gabriël. Haar imposante vlerke strek na agter en haar gesig is amper verberg hoewel ‘n teer uitdrukking merkbaar is.

Die gesig van 'n engel

Dylan Lewis het geen bekendstelling nodig nie. Hy blyk een van die mees produktiewe beeldhouers in die land te wees.

Stáp kan jy stap:

Onrus is ‘n paar minute se ry vanaf Hermanus. As jou voete jeuk om nóg te stap, is ‘n wandeling om ‘die eiland’ van Onrus aanbevole. Hier verlustig jy jou in die natuurskoon, eerder as kuns.

'n Blou laslappieboom op 'n sypaadjie in Onrus

Begin by Milkwood Restaurant; wat van koffie vir die nodige woema?

Tuur vir 'n wyle oor die sand en see voor jy aanstap

Staan vir ‘n wyle stil voor jy een voet voor die ander sit. Voor jou strek ‘n wit strand, die monding van die Onrusrivier, branderplankryers wat kaperjol in die see en gewoonlik honde wat hulself gate uit geniet.

Van hier volg jy net die eenrigtingstraatjie. Kyk uit vir (on)oorspronklike huisname, ‘n ou houthek met geverfde vuurtoring en ‘n paar gedenkbankies.

Bamboeshope verdroog in die son; rotse is skurf; poele weerkaats wolke en branders breek verder agtertoe. Kyk oor die oseaan in Gansbaai se rigting.

 

 

 

Die paadjie krul vanself sodat jy eers berge sien; en dan in ‘n sirkel tot terug by die riviermonding kan loop. Of ‘n ekstra draai verby Onrus Karavaanpark, Goddards Kroegie en Molteno’s Restaurant wat in die ou poskantoortjie geleë is. Nou’s dit net mooi tyd vir ‘n glas koue wit.

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 28, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .