ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Moedertjie Rusland is soos ‘n matriosjka-poppie, laag op laag

First published on http://www.rooirose.co.za 

‘n Matriosjka-poppie is eintlik ‘n stel poppies wat knus binne-in mekaar pas. Daar is gewoonlik ses poppies in ‘n volledige stel, hoewel daar ook so min as vier, of heelwat meer as ‘n halfdosyn, kan wees. Die poppies wat inmekaar pas, lyk gewoonlik naastenby dieselfde hoewel die kleure en soms die gesigsuitdrukkings kan verskil.

Dis nie baboesjka-poppies soos wat dit ook soms genoem word nie, beklemtoon ons Insight Vacations-gids. Baboesjka verwys na ‘n ouer vrou of ouma, ene wat ‘n kopdoek dra wat sy onder haar ken vasbind soos wat tradisionele Russiese vroue baie keer doen. Dis matriosjka-poppies!

As jy Rusland besoek, benut jou kans om kaviaar te eet

As jy Rusland besoek, benut jou kans om kaviaar te eet

‘n Onlangse reis saam met Insight Vacations op hul Easy Pace Russia-toer het my wildste verwagtinge oortref. Nie net het ek later ophou tel hoeveel keer ek kaviaar geëet het nie, ek het ‘n balletvertoning in die Hermitage-teater bygewoon en ikone aanskou wat in die 1300’s geskilder is en onveranderd gebly het, maar ek het ook verskeie katedrale en paleise gesien wat my asem weggeslaan het.

Boonop het ek ontsettend baie oor Rusland geleer – oor tradisies en gewoontes, oor die lewe onder kommunisme, oor hoe die Russe gebreinspoel is en oor hoe die lewe nou daar uitsien.

Wat jy nie in Sint Petersburg moet misloop nie

Vóór die aand se ballet, Swan Lake, in die Hermitage, een van die wêreld se belangrikste en mees imposante kunsmuseums, het ons ‘n toer deur die Winterpaleis en die res van dié kunsmuseum in Sint Petersburg meegemaak. Dis onmoontlik om alles te sien wat daar te siene is; daar word beweer dat die Hermitage meer as 1000 vertrekke, amper 2000 vensters, sowat 1800 deure en 117 stelle trappe het! Nee, ek het nie eers probeer tel nie!

Ek het wel rondgeloer of ek nie een van die 74 katte sien wat so wrintiewaar in die kunsmuseum woon nie. Só gelukkig was ek egter nie. Dis egter nie ‘n wonder nie, want die katte wat moet sorg dat muise en rotte nie die waardevolle kuns bykom nie, word meestal in die kelderverdieping gehuisves. Daar is egter katdeurtjies sodat hulle vrylik aan die rivier se kant van die museum kan rondloop. Daar is ‘n spesiale aangestelde span werkers wat vir die versorging van die katte verantwoordelik is.

Ek het gou van katkaskenades vergeet toe ek die Rembrandt-kamer betree. Sy skildery van Die Verlore Seun laat almal in ons Insight-groep vervaard sluk aan ‘n knop in die keel. ‘n Plaaslike kenner wat as Insight-gids optree, weet presies wat om vir ons te wys terwyl sy terselfdertyd sorg dat ons nie verdwaal nie. Dís iets wat maklik in die Hermitage gebeur.

In die Leonardo da Vinci-kamer verkyk ons ons eers aan twee van sy skilderye van Moeder Maria wat jou amper ontredderd laat voel van die mooiheid; dan vergaap ons ons aan die marmerkaggels met fyn kobaltblou lasuursteeninlegwerk (lapis lazuli) en die plafonskilderye.

In afwagting van die mooi van die Katharina-paleis het ek 'n geblomde serp by een van die kraampies gekoop

In afwagting van die mooi van die Katharina-paleis het ek ‘n geblomde serp by een van die kraampies gekoop

Op ‘n dagekspedisie na die Katharina-paleis buitekant Sint Petersburg het ‘n geblomde turkoois serp by ‘n markstalletjie my verlei nog voor ek die paleisgronde betree het. Dit was dalk ‘n vooruitskouing op die mooi wat op my gewag het.

Die rococo-paleis van Katharina die Grote wat in 'n dorpie buite Sint Petersburg gelee is

Die rococo-paleis van Katharina die Grote wat in ‘n dorpie buite Sint Petersburg gelee is

Die oordaad van die rococo-styl in die Katharina-paleis; alles blink en glinster

Die oordaad van die rococo-styl in die Katharina-paleis; alles blink en glinster

Die Katharina-paleis was die rococo-somerpaleis van die Russiese tsars. Die rococo-styl is baie dekoratief en ornamenteel en ook uitermate weelderig.

Tsarina Katharina I het die huidige paleis in 1743 laat bou en dit is in 1756 voltooi. Sy was die vrou van Pieter die Grote; sy staan ook bekend as Katharina die Grote. Katharina I het Rusland vir twee jaar na haar man se dood regeer.

As jy die oorvloedige weelde in die paleis sien, kan jy nie help om te wonder hoe die gewone mense daarbuite noodgedwonge moes leef nie.

Toe ons by die Katharina-paleis uitloop, het 'n fluitspeler ons ingewag

Toe ons by die Katharina-paleis uitloop, het ‘n fluitspeler ons ingewag

Oor die oorspronklike Ambersaal of Barnsteenkamer in die Katharina-paleis is daar eens geskryf: “Wanneer die son in die Barnsteenkamer skyn of wanneer die vertrek saans deur kerse verlig word, lyk dit of die amber (barnsteen) begin lewe. Elke steentjie, elke ornament … straal ‘n simfonie van lig uit wat niemand wat dit aanskou het, ooit sal vergeet nie.”

Die panele van die oorspronklike Ambersaal is in die vroeë 1700’s aan Pieter die Grote present gegee. In 1770 is dié panele saam met nuut ontwerpte panele, spieëls, edelgesteentes en ander muurversierings in die paleis geïnstalleer.

In 1941 het Duitse troepe alles wat in die Ambersaal was afgehaal en verskeep; dit is nooit weer gevind nie.

Sowat 40 jaar gelede het die Russiese regering besluit dat die Ambersaal weer moes herleef. Dit het meer as 20 jaar geneem om die droom te bewaarheid. In 2003 het president Vladimir Putin die amptelike opening van die nuwe Ambersaal waargeneem.

Moskou is ‘n móét-sien

Tot en met ‘n dekade of wat gelede was die Arbat-inkopiesteeg in Moskou die plek waarheen jy gegaan het om matriosjka-poppies, foppelshoede, halfjêkkies met Lenin voorop en weermagkentekens, om op jou denimbaadjie by die huis vas te speld, by kraampies aan te skaf. Nyet, nie meer nie. Nou is dit die ene ontwerperswinkels waar jou beursie behoorlik met roebels moet bult om te kan bekostig om iets te koop.

Moskou is báie duurder as Sint Petersburg. Spits jou dus toe op die besienswaardighede soos die Rooi Plein en die geboue wat dié uitgestrekte plein omring en natuurlik die Kremlin, die setel van die regering.

As jy nie saam met ‘n georganiseerde toer soos Insight Vacations gaan nie, sorg dat jy spoedig jou kaartjie vir die Kremlin bekom. Dit het al gebeur dat die Kremlin onaangekondig vir ‘n paar dae sluit of kaartjieverkope vir die dag gestaak word as daar reeds te veel toeriste toegelaat is.

Bid jou aan! Jy is in Moskou, maar jy kry nie die Kremlin te sien nie!

Om die Moskouse moltreinstasies te sien, is ook ‘n belewenis, want almal is ryklik versier. Gedurende spitstyd is dit baie besig. Die Moskou Metro maak egter al om 5h25 soggens oop en sluit eers om 1h00.

Soos die tyd aanstap en Rusland meer verwesters, sit daar al hoe minder onvergenoegde baboesjka-tannies in uitgetrapte skoene aan die onderpunt van die roltrappe in die moltreinstasies. Hulle het egter nie heeltemal verdwyn nie; hulle is daar om toe te kyk dat almal veilig by die trappe op- en afry. So benadruk ons Insight-toergids.

Die baboesjkas is egter nie daar om jou teen sakkerollers, misdadige boemelaars en ander verdomde kansvatters te beskerm nie. Versigtigheid is die moeder van wysheid, maan ons gids. Dra jou handsak onder jou blad en sorg dat die ritssluiter toe is.

Veral by die stasies wat gewild onder toeriste is, werk die sakkerollers in spanne van drie of vier én hulle is uitgeslape. Ek het self gesien hoe een kalant in die treinwa spring waar iemand wat hy in die oog hou, hulself bevind. Dan sien jy hoe hy sy selfoon gebruik om aan sy mede-boef ‘n boodskap te stuur.  Hulle wéét toeriste klim op bykans elke stasie af om die kunswerke mooi te bekyk. So ‘n blikskottel, het ek gedink. En gehoop almal rondom my kom ongeskonde daarvan af.

Grinnik én grynslag

Rusland laat jou van plesier grinnik, maar soms laat dit jou ook grynslag.

Alles wat jy sien en beleef, fassineer jou. Die geskiedenis gryp jou aan, maar dit breek ook jou hart as jy hoor waaraan die Russiese bevolking al uitgelewer was.

Dis egter waaroor ware reis gaan: om te léér en vir ‘n rukkie te voel – of jou te verbeel – dat jy in iemand anders se vel klim.

Ilse Zietsman was ‘n gas van Insight Vacations.

Kyk na die toere na Rusland wat tydens 2019 aangebied word by: www.insightvacations.com/za/trips/easy-pace-russia-summer-2019

Rusland is vinnig besig om te verander; daar is baie welgestelde en suksesvolle sakemanne, maar jy sien ook nog baie ou motors op die paaie

Rusland is vinnig besig om te verander; daar is baie welgestelde en suksesvolle sakemanne, maar jy sien ook nog baie ou motors op die paaie

Die baba-embleem van 'n bekende Russiese sjokoladehandelsmerk

Die baba-embleem van ‘n bekende Russiese sjokoladehandelsmerk

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 19, 2020 by in Europa and tagged .