ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Onder die mantel van matriosjkas

First published in Rapport, June 2023

Tot 50 ‘geslagte’ binne 1 pop

Daar is amper nie ‘n toeris wat Rusland besoek wat nie ‘n matriosjkapoppie huis toe bring nie!

Deesdae is Rusland natuurlik nie meer op reisigers se wenslys nie, maar as jy vantevore daar was en nou na jou matriosjka-aandenking kyk, ontlok dit sekerlik ‘n stroom herinneringe.

‘n Matriosjka (in Russies word dit so geskryf: матрёшка) is ‘n boepensronde uitgeholde houtpop waarbinne nog ‘n klomp soortgelyke poppies wat al kleiner en kleiner raak, pas.

‘n Stel matriosjkas bestaan gewoonlik uit sewe of agt poppies, maar daar kan so min as vier wees, asook heelwat meer ⃰.

Om elke individuele houtpoppie uitmekaar te haal of oop te maak, druk jy jou nael op die naat in die middel van die houtpoppie se maag en maak haar oop; andersins kan jy hulle ook losdraai, gewoonlik met ‘n gepaardgaande skril houtkraak wat jou op jou tande sal laat byt.

Boerin se kind

Tradisionele matriosjkas beeld jong meisies of vrouens met bloesende wangetjies en ‘n kopdoekie uit wat in tradisionele klere aangetrek is. Al die poppies beeld dieselfde tema uit hoewel subtiele verskille kan voorkom.

Die buitenste of grootste poppie is altyd vroulik; die binnestes is gewoonlik ook vroulik, maar soms manlik. Die kleinste poppie lyk baiekeer soos ‘n babatjie en word uit ‘n enkelstukkie hout gekerf.

Die eerste matriosjka is in die laat 1800’s deur ‘n skrynwerker en speelgoedmaker, Vasili Zvjozdotsjkin, in Abramtsevo buite Moskou gemaak. ‘n Volkskunstenaar Sergei Maliutin was vir die ontwerp verantwoordelik.

Daar word geglo dat Savva Mamontov, ‘n bekende beskermheer van die kunste, die opdrag om ‘n Russiese speelding te maak aan Zvjozdotsjkin en Maliutin gegee het. By sy kunsateljee in Abramtsevo het Mamontov ‘n versameling speelgoed van regoor die wêreld gehad. Vermoedelik is die ontwerp van die eerste matriosjka deur ‘n Japanese geluks- of skilpoppie (nesting doll in Engels) uit dié versameling geïnspireer.

In 1900 het Mamontov se vrou die matriosjkapoppies by ‘n Paryse ekspo tentoongestel waar dit met ‘n brons medalje bekroon is. Nou ja, die res is geskiedenis. Daar is begin om matriosjkas op groot skaal te vervaardig en daarmee saam het dié speelgoed al gewilder geraak.

Teen 1923 het die Bolsjewistiese regime die verf van sekere motiewe op tradisionele skilpoppies verban. Sekere etniese groepe kon nie meer uitgebeeld word nie, ook nie kleremakers, bakkers, meerminne of kabouters nie!

Dis niks snaaks vir Rusland nie… in Januarie 1973 het die owerhede die kaartspel kontrakbrug, kougom, polo en die tydskrif Playboy verbied, kwansuis “om die sosialisme te suiwer”.

Eers in die 1990’s is baie van dié belaglike maatreëls verslap. Deesdae beeld matriosjkapoppies verskillende temas soos religieuse en ander ikone, sprokiesverhale, staatshoofde van verskillende lande insluitende Rusland, wetenskapsfiksie- en strokiesprentkarakters en musiek- en sportsterre uit.

Noem die kind op sy naam

Buite Rusland, veral in die Weste, praat baie mense van baboesjkapoppies. In Rusland beteken baboesjka egter ‘ouma’ of ‘ou vrou’. As jy in Moskou of St. Petersburg van baboesjkapoppies praat, help die Russe jou gou, soms heel ongeduldig, reg.

Die naam matriosjka is afkomstig van die vrouenaam Matrjona. Doerie jare terug het baie boervroue Matrjona geheet, maar Matriosjka is as troetelnaam vir hulle gegee. Amper soos wat ons iemand wie se doopnaam Johanna is Antjie sal noem.

Geen rus of duurte

Net soos wat matriosjkapoppies die een in die ander pas, voel Rusland soos ‘n bestemming waarvan jy verskillende lae moet afskil ten einde die mense en die land in sy geheel te verstaan. Jonathan Dimbleby, Britse aktuele skrywer, media-aanbieder en historikus, het ‘n besoek aan Rusland beskryf as “twee parallelle ontdekkingsreise” waar hy op een vlak “plekke en mense” ontdek en op ‘n volgende vlak meer van homself leer. Rusland was vir hom “fassinerend, verhelderend, verontwaardigend, hartroerend, en net soms hartverwarmend”. Ek stem volkome met hom saam.

⃰  In die Matriosjka-museum in Moskou is ‘n 1-meter-hoë matriosjka met 50 poppies aan die binnekant.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 13, 2024 by in Europa.