ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

WINTERWEGBREEK IN DIE OOS-KAAP

First published in Die Burger, August 2015

(Since this article has been published some details might have changed)

Vroue kuier, manne gaan jag

Sophie's Choice se kaal winkelpoppe laat die mans rem trap

Sophie’s Choice se kaal winkelpoppe laat die mans rem trap

Wintertyd is jagtyd. Stoere manne olie gewere, rol sjerriebottels in kakiehemde en –broeke toe om brekerasies en lekkasies te verhoed, en klim in viertrekvoertuie om jagveld toe te ry.

Dis mos maar tradisie dat die vroue met San Tuisbly se karretjie ry as dit jagseisoen is. As jy eers eenmaal dorpies soos Steytlerville, Cradock en Willowmore verken het, sal dinge ‘n nuwe trant aanneem. Terwyl manlief se (geweer)loop oop is, kan vroulief stap vir stap die Oos-Kaapse platteland ontdek.

Slaap oor in Steytlerville

Steytlerville het sy eie privaat motormuseum

Jy is nou in Steytlerville!

Die eienaars van Karroo Theatrical Hotel vertel dat hulle een van net drie teaterhotelle in die wêreld is. En dit in Steytlerville!

Teatraal en speels is hierdie hotel – en die Saterdagaand se klavier- en fopdosservertoning – gewis.

Die res van Steytlerville is klein(erig), maar getrein. In die breë hoofstraat hang baniere met die inwoners se familiewapens en die begrafnisondernemergebou is pers en adverteer gratis kwotasies.

By die Royal Hotel kuier oud en jonk in hul knus kroeg of buite op die stoep. Verandah Koffiewinkel is ook waar ‘n koel motormuseum  – met Pegasus-petrolpompe, ‘n bloedrooi Anglia, Ford Model C 1937, resiesmotor, en ‘n deftige perdekar uit die 1890’s – te siene is; hulle is selfs op Sondae oop. Loer ook in by die Trollip Kunsgalery en Ateljee.

Kyk na www.karroohotel.co.za en www.steytlervilleaccommodation.co.za

Kuier in Cradock

Markstraat in Cradock – veral die Tuishuise en Schreider-Huis – inspireer  mik-en-drukkers om met foto-komposisies te begin speel. Groen-en-wit streepdakke, stokkielekkerboompies, aalwyne in wynvate, ‘n blou wa, ‘n geroeste wawiel – alles dien as inspirasie.

Lani's Kitchen is 'n boerekombuis wat met tyd tredhou

Lani’s Kitchen is ‘n boerekombuis wat met tyd tredhou

By True Living – Lani’s Kitchen is van afval tot pekanbotter te kry. Ook mohairserpe, muurhorlosies, handgemaakte teëltjies en hekelwerk. Drink maar ‘n paar koppies koffie – met gratis wi-fi – sodat jy niks miskyk nie.

Langsaan by De Wilge kan jy biltong aanskaf aangesien dit nog ‘n tydjie sal neem voor jul huishouding jul eie biltong in voorraad het. Dis nou ás jou ander helfte se jagtog suksesvol afloop.

By More for Less vergaap jy jou aan spieëls met lapvalletjies, ystervarkpenne, hekelhangers, porseleinbulhonde en vistenkonderdele.

Vroegoggend in die middedorp van Cradock

Vroegoggend in die middedorp van Cradock

By die Victoria Manor Hotel, een van die oudste hotelle in Suid-Afrika, eet jy Karoo-kos in ‘n karmosynrooi eetkamer voor jy die aand in die gesellige kroegie, eens ‘n kelder wat in oorlogstyd as ‘n tronksel gebruik is, afsluit.

Kyk na www.tuishuise.co.za en www.facebook.com/lanitrueliving

Somerset-Oos, wes, tuis bes

Somerset-Oos is bekend vir kunsvlieghengel, maar dis nie al rede om hierdie dorp te besoek nie.

Besoek die Walter Battiss Kunsmuseum in Somerset-Oos

Besoek die Walter Battiss Kunsmuseum in Somerset-Oos

Walter Battiss was ‘n fassinerende mens en kunstenaar

Die Walter Battiss Kunsmuseum behoort ‘n veel groter trekpleister te wees. Die dokkie waar Battiss self deels aan die woord is, is insiggewend en inspirerend. Hy het sy eie realiteit met sy Fook-eilandprojek geskep en uitgeleef.

Die kerkie by Angler & Antelope waar nou heerlik gekuier kan word

Die kerkie by Angler & Antelope waar nou heerlik gekuier kan word

By die Angler & Antelope Gastehuis (met selfsorgkothuise of gastekamers) kan jy by ‘n kroeg in ‘n ou kerkie die aand verwyl deur jou eie storie te vertel van die groot een wat (amper) weggekom het. Dis ook waar ontbyt en aandete – bestel vooraf – bedien word.

Moet nie eers effens laat vir aandete wees nie – jy beland dadelik in die gasvrou se slegte boekies. Jy kan nie eers in die belydenishokkie gaan bieg nie – dié vertrekkie is omskep in ‘n kunsvliegwinkeltjie wat jou sommer laat lus voel om lyn nat te maak.

Kyk na  www.somerset-east.co.za/listing/walter_battiss_art_museum  en www.anglerandantelope.co.za

Wegbreek by Wilton Gasteplaas

As die stormwinde woedend om jou slaan, sal jy jou seëninge tel waar jy voor die kaggel op Wilton Gasteplaas sit. Dis dan juis winter en die Oos-Kaap kan ysig raak.

Net nie op jou eie nie – die ruim gastehuis is alleenlik vir gaste se gebruik enjy gaan maar allenig hier voel as jy nie ‘n paar maters  – of teen hierdie tyd jou wederhelf – by jou het nie.

Die huis dateer uit die wolbloeitydperk van die 1950’s. Die oorspronklike eienaar het klaarblyklik soms te perd sy vrou in haar slaapkamer op die boonste verdieping gaan wakkermaak. As jy mooi kyk, kan jy nog ‘n hoefmerk op die houttrap sien.

Aandetes – bespreek vooraf – herinner aan jou ouma se Sondagetes. As die weer saamspeel, is daar vier bergfietsroetes om aan te durf.

Kyk na www.wiltonguestfarm.co.za

Om Willowmore te waardeer

As jy nog altyd (vrywillig) in ‘n tronk wou oorslaap, is Willowmore se Ou Tronk net die plek vir jou.

Die Victoriaanse klipgebou is omskep in ‘n gastehuis wat sterk aan ‘n boetiekhotel herinner. Elke binnehoffie nooi jou om ‘n wyle te vertoef; in die tronkselkamers is kandelare en krulpootdressertjies. Die pragtige ou kluise wat as meublement ingespan word, is besonders; so ook die kunsversameling waarvan sommige te koop is.

Trek af by Kapoet as jy die rooi en wit windpomp sien

Trek af by Kapoet as jy die rooi en wit windpomp sien

Koffie-en-koek en snuisterye kry jy by Kapoet – waar ‘n rooi-en-wit windpomp op die sypaadjie staan – en by Sophie’s Choice – waar kaal mannekyne, ‘n melkkan, ‘n fiets en ‘n Coke-bottel van die dak af loer.

Nie almal luister na die talmwaarskuwing nie

Nie almal luister na die talmwaarskuwing nie

Wees net bedag daarop: Op die rooi dorpsbruggie mag nie getalm word nie.

Kyk na www.theoldjail.co.za, www.sophieschoice.co.za en www.facebook.com/pages/Kapoet-Padstal/1569052963312113

Nog plekkies in die Oos-Kaap om aan te doen
·        Klipplaat naby Jansenville het drie pragtige kerkies – en ‘n ongewone polisiestasie – om af te neem. ‘n Ou geroeste lokomotief verlang na die dae toe hier nog ‘n belangrike spoorwegstasie was.
·        Die Daggaboer Padstal is 47 kilometer vanaf Cradock en was in 2011 die padstal van die jaar. Hulle is bekend vir hul vars roosterkoek. Hier is ook teemussies, koeksisters en biltongpatee te koop.
·        Die grootste pynappel in die land – dis drie verdiepings hoog – is in Bathurst. Die dorp spog ook met ‘n historiese hotel, een van die oudste kroeë in die land en ‘n hele paar snuisterywinkels.
·        As jy meer see se kant toe ry, kan jy na die branderplankryers (se vernuftige toertjies) by Jeffreysbaai gaan kyk; Cape St Francis se vuurtoring kiek en hul Sentrum vir Pikkewyn Redding en Rehabilitasie besoek; of sommer net by Port Alfred of Kenton-on-Sea gaan vars vis eet en tjil.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 18, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .