ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Verloor jouself in Opsoek-vallei

First published in Die Burger, February 2015

DSC_0017

Soek en jy sal vind

Is jy op soek na ‘n gerestoureerde kothuis met nul slaapkamers te koop? In plaas van daardie slaapkamers kry jy ‘n appelkoosboord en ‘n dam. En ‘n allemintige skuur waaruit jy ‘n goeie inkomste kan verkry. Dit word so ewe ‘n leefstylgeleentheid genoem.

Dís waarop ‘n mens afkom as jy die Opsoek-vallei buite Ladismith google.

Ook ‘n aftreeplaas te ruil vir ‘n strandhuis van dieselfde waarde.

Dit wys jou nounet – al is die Opsoek-vallei knap buite Ladismith, weet min mense hoe salig ‘n mens (sonder kind of kraai, sou jy dit so verkies) hier kan kom uitspan. En om Opsoek te vind, gee glad nie ‘n hewige gesoek af nie.

Mooi reg rondom jou

‘n Meevallertjie is dat die vallei omring deur die mooie Swartberge is; dus is die uitsig balsem vir jou siel of jy nou beskuit in jou boeretroos doop, aan ‘n skemerkelkie teug of na die sterrehemel opkyk.

Die Opsoek-vallei is groen weens die aanwesigheid van die Wilgenhoudtsrivier waarsonder die plaaslike gemeenskap nie kan klaarkom nie. Die ou kanaalwaterleidingsisteem is steeds in gebruik.

Die vallei strek van die Swartberge in die noorde tot die Rooiberg in die suide.

Als en nog wat in die omgewing

Dis sommer die ideale geleentheid om kuier-kuier deur Robertson, Ashton, Montagu en Barrydale te ry. Die volgende dorp ná Opsoek is Calitzdorp waar jy ook kan aandoen as jy lus is vir aan ry.

Net meer as 20 kilometer anderkant Ladismith verskyn die ou sendingstasie van Zoar, vernoem na Zoar op die Rooi See soos wat dit in die Bybel genoem word en waarheen Lot veronderstel was om vanaf Sodom te vlug. Die ou kerkie van Amalienstein, wat deel van die sendingstasie is, dateer uit 1853. Gaan loer daarin.

Die hele Opsoek-vallei was eens een plaas. Met verloop van tyd is die plaas tussen familielede opgedeel; nog later is van die grond verkoop en deesdae besit privaateienaars elkeen hul eie lappie grond. Sommige boer nog; ander het die stilte en rustigheid van die Klein Karoo (in Opsoek) kom opsoek.

Kothuise en kamp by Le KaRoux

Le KaRoux – twee kilometer vanaf die R62 – kan ‘n swetterjoel mense huisves. Voor op die gras staan ‘n ossewa; daar is perde, lammetjies en koeie met kalwers om mee kennis te maak; en in seisoentyd kan jy jou eie appelkose pluk.

Behalwe dat die hoofhuis met sy koolstoof, biljarttafel, buitestoep met sofas, en lang eettafel ook soms vir verhuring beskikbaar is, is daar vier kothuise en informele kampering. Êrens in volgende jaar – en per slot van sake is 2015 om die draai – sal daar addisionele kampering en ‘n swembad ook bykom.

Jy kan nie eienaars kry wat meer gasvry as die Le Rouxs van Le KaRoux is nie. Hul passie vir die omgewing wil hulle met almal deel.

Mark en Colleen le Roux van Bigshot Media is betrokke by die vervaardiging van televisieprogramme gemik op sport. Terwyl Mark besig was om vanuit sy helikopter aan die Absa Cape Epic te verfilm, het hy hierdie einste groen vallei raakgesien. Hy’t die posisie terstond op sy GPS gestoor en homself voorgeneem om die plek op ‘n latere stadium te kom besoek.

‘n Jaar later was die Le Rouxs opsoek na eiendom in Calitzdorp. Soos die noodlot dit wou hê, het die eiendomsagent hul na ‘n klein plasie buite Calitzdorp in die rigting van Kaapstad geneem. En siedaar, dit was die presiese plek wat Mark uit die lug gesien het. Die koop is net daar beklink.

Sedertdien het die Le Rouxs al verskeie projekte op die plaas aangepak, maar hul borrel steeds oor van idees. Soos die ekstra kampeerterrein vir buitelugentoesiaste – daar kan huidiglik ook naby die kothuise gekamp word – wat hul tans beoog.

Le KaRoux is die ideale plek om uitdagende bergfietsroetes aan te durf. In die somer gebruik verskeie oorsese bergfietsryers die omgewing – en hierdie spesifieke plaas – om onder ons klimaatstoestande vir Absa Cape Epic te oefen. Dit raak hier bykans so warm soos die hel, so sê hulle.

Daar is genoeg dagligure in ‘n naweek dat jy ook die Seweweekspoortpas, om die spreekwoordelike draai, kan gaan verken. Met ‘n bergfiets of daarsonder. Die pas is slegs drie kilometer van Le KaRoux geleë.

Die omgewing leen homself tot voëlkyk en voetslaan. Klim Towerkop of die Wes-Kaap se hoogste piek, Seweweekspiek.

As jy te lui is om jou bene lam te trap of jou voete blase te stap, kan jy hiernatoe kom om eenvoudig net jou batterye te herlaai.

 

Verblyf by Le Karoux
·        Die Wit Huis het ‘n oopplan-leefvertrek met ‘n koolstoof. Daar’s een slaapkamer met ‘n kaggel. Die stoep het ook sy eie kaggel. Die huisie kos R650 per nag.
·        Kothuis 1 het ‘n dubbelbed en basiese kombuisgeriewe. Daar’s ‘n klein voorstoepie. Die kothuis kos R400 per nag.
·        Kothuis 2 het ook ‘n dubbelbed en ‘n slaapbank vir ‘n kind. Daar’s kombuisgeriewe en ‘n kaggel binne sowel as ‘n klein voorstoepie. Die koste is R450 per nag; ‘n ekstra R50 as die slaapbank ook gebruik word.
·        Joan se Kothuis is ‘n klipkothuis met ‘n dubbelbed en slaapbank; kombuisgeriewe en klein voorstoepie met buite-braaiplek. Die koste is R500 per nag; weereens ‘n ekstra R50 vir die slaapbank.
·        Al die kothuise het hul eie badkamers, sommige en-suite.

·        Skakel Colleen le Roux op 0834494323 of e-pos lekaroux@bigshotmedia.co.za om te bespreek.

·        www.facebook.com/lekaroux.leroux

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 29, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .