ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Maak ‘n Kaapse draai by Klapmuts

First published in Die Burger, June 2013

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Ebenaeser se aantreklike kerkie

As jy van Klapmuts na Simondium (of andersom) ry, is dit met ‘n kommavormige pad langs. Ietwat om ‘n draai, maar nie regtig ‘n ompad nie. Soos ‘n komma ‘n ruspouse in ‘n sin aandui, verskaf hierdie pad ‘n blaaskansie aangesien dit nie een van die meer besige roetes op die wynroetes is nie.

Die moontlikheid bestaan – moenie twyfel as jy begin weifel nie – dat jy nie verder as Klapmuts en Simondium gaan vorder as jy op hierdie komma-pad vertoef nie.

Die keuse is joune – draai by die N1 af by Klapmuts, ry oor die interseksie en draai links net na die kekkelrooi Chinese kafee. Of draai op die N1 (by Uitgang 55) af by die Paarl, draai regs en net na die aarbeistalletjie draai jy links op die Simondium-pad (R45). Vrede en Lust loer vir jou net mooi waar jy moet wegdraai.

Ervaar vrede, voel lus

As jy die komma-pad vanaf Simondium se kant benader, is Vrede en Lust sommer dadelik aan jou linkerkant. Die eerste eienaar, Jacques de Savoye, het in 1688 op die Oosterland in die Kaap aangekom en hierdie naam toentertyd al aan die plaas gegee. Savoye, ‘n Protestant, se oudste dogter, Marguerite, het verlief geraak op ‘n Bengali-slaaf van die plaas langsaan en later het sy met hom getrou. Eers na hul troue is uitgevind dat die slaaf eintlik ‘n lid van die Bengaalse aristokrasie was. Vrede en Lust se gehoute chardonnay, Marguerite, is na hierdie vurige vrygees vernoem.

Vrede en Lust se wynproelokaal is bemarkingsgedréwe; die restaurant, Cotage Fromage, daarenteen, is ontspanne, bied ‘n kinderoppasdiens aan en jy kan Bloody Mary vir ontbyt drink as jy braaf genoeg is. Die hele plaas maak uitsluitlik gebruik van sonkrag soos die lang rye sonpanele getuig.

Uit by die wit kraalmuur van Vrede en Lust en in by die wit hekpale van die vredige Ebenaeser-kerkie – opgerig in 1843, lui die hoeksteen. Soos jy verder ry, val die oulikste name jou op: Paddabult, Flenterskloof en Klein Paradys.

Die jaar word ryp in goue akkerblare

Dis asof die plase en wynlandgoedere op hierdie pad in die geheim byeengekom het op ‘n eenvormige voorkoms in die vorm van ‘n boomlaning soos jy inry. Toevallig of nie, dit val sag op die oog.

Nie 'n draak in sig by Drakensig

Drakensig se nou herfslaning is die mooiste. Aan die eindpunt van die laning begroet ‘n spul lawwe, gemaak-kwaai honde jou. Voor ek snoetvryf, kyk ek na die riffeldak en verbleikblou hortjies. Drakensig botteleer eers weer in die tweede helfte van die jaar; dus moet ‘n besoek lank na herfs eers weer geskied. Behalwe as jy gou na die rooi-bruin-oranje blare wil gaan loer.

Moenie by The Jam Jar verbyry nie

Moenie nou voet in die hoek sit nie. Net perdalks ry jy verby The Jam Jar. Knap langs die pad staan ‘n piepklein geboutjie met vrolike muurtekeninge van bessies, druiwe en groen spanspek. Sommer met die uitklim omwalm die aangename soet geur van tuisgemaakte konfyt jou. Hier word gebrou aan koemkwatlikeurkonfyt, goeie ou moskonfyt, druiwekonfyte volgens kultivar en bloubessie-en-laventeljellie. Selfs Morokkaanse-styl piekelsuurlemoen skyn goudgeel in flesse.

Kosmopolitaans én Afrikaans

Almal wéét nou al van Babylonstoren, maar die groot vraag is of jy hierdie uitsonderlike bestemming al belééf het. Hier is omtrent al gewoel en werskaf sedert Koos Bekker en sy vrou, Karen Roos, hul visie in werklikheid omskep het. Steeds is het einde niet. Elke dan en wan versprei ‘n riemtelegram dat hier ‘n nuwe onwenteling is wat weereens beleef moet word.

By Babel – sonder ‘n toring op die werf, maar met ‘n glashuis in die tuin – bestel jy slaai volgens kleur; ‘n heel beet dryf soms in ‘n allemintige proefbuis; en is ‘n uitgerekte tuinwandeling nie net vir diegene met groen vingers nie.

Almal gons oor Backsberg se spitbraailam wat jy onder langhaarwilgers kan verorber. Tydens ‘n weekbesoek is ek amper op my eie hier. Hier roer nie ‘n blaartjie nie; net by Nel Glas word daar kreatief verkeer.

'n Stillewe by Noble Hill

By Noble Hill oorval die rustigheid jou. Hier’s sowaar ‘n Meksikaanse immigrant op dié Bolandse werf. Teen een muur hang vetplante in boepenskleipotte. Jy kan aan disse soos Medjool-dadels omhul met spek, tequila-tagiatelle of vistortilla’s met sitrussalsa smul; andersins kan jy kies tussen ‘n Mediterreense vegetariese of klassieke piekniekmandjie. Sluit die ete af met ‘n skeut tequila – hier’s verskeie tequila’s om uit te kies.

Kaas, kuns en koeie

Dalewood se koeie kom huis toe oor middagete

Enige kaasliefhebber – waaraan ek meer as voldoen – móét by Dalewood Fromage se plaas(of is dit kaas?)winkeltjie indraai. Ek glo nie enige ander plek kan met hierdie pryse meeding nie. Dalewood se reputasie waar dit gehalte aangaan, spreek vanself. Met die uitry kom ‘n trop koeie met swaaiende uiers huis toe. So asof dit tjailatyd vir koeie is.

Glen Carlou tiek ‘n paar andersoortige boksies. Die ontwerp vier Afrika met Europese styl; hier’s opspraakwekkende kuns by die Hess Kunsversameling (insluitende goedbedeelde mansmannekyne); en die elegante oopplan-restaurant sal enige fynproewer bevredig.

Eiervrug-filopakkies by Glen Carlou word so bedien

By Anura word kaas (van Forest Hill), Froggit-produkte en wyn (van die plaas self) verkoop. ‘n Oomblik van binnepret laat my glimlag toe ek aan die kaas-op-tandestokkies-en-wyn-partytjies van die sewentigerjare terugdink.

Op so ‘n gemoedelike noot volg ek die komma-pad tot waar ‘n mens weer knap by die N1 kan aansluit. Dis net ietwat verder as ‘n klipgooi van die meer bekende paaie in die omgewing – ek ry nie weer verby sonder om eers by die komma-pad in te draai nie.

Nog inligting oor die komma-pad:
·        Draai af na Le Bonheur Krokodilplaas as jy kinders het. Hier kan jy emu’s sien; die hele opset word soos ‘n geoliede masjien bestuur (daar’s selfs interkomaankondigings wanneer jou kosskinkbord gereed is om afgehaal te word) en kan as uiters kindervriendelik beskryf word. Hul webtuiste is: www.lebonheurcrocfarm.co.za

 

·        Kyk na Dalewood se reeks kase by www.dalewood.co.za
·        Kyk na die handgeblaasde glas van Nel Glas by Backsberg by: www.henknelglass.co.za
 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 5, 2018 by in In die Boland and tagged .