ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dubbeldekker-lekker met ‘n helikoptervlug

First published in Die Burger, October 2018

Kaapstad is nog mooier uit die lug

Kaapstad is sekerlik een van die mooiste stede in die wereld

‘n Ou simpel grappie lui dat ‘n helikopter ‘n eierklitser met ambisie is.

Volgens ‘n ander grappie was dit so droog in die Karoo – of dalk was dit die Oos-Kaap – dat Oom Koos al amper alles verloor het. Toe daar ‘n helikopter oor die plaas gevlieg kom, sê Oom Koos wat nog nooit tevore so ‘n affêre gesien het nie: “Gaats, Vrou, daar gaat die windpomp ook nou.”

Neig na NAC Helicopters by die Waterfront

Kaapstad staan nie verniet as een van die wêreldstede bekend wat móét besoek word nie; vanuit die lug is die prentjie nog soveel mooier.

Met NAC Helicopters by die V&A Waterfront het jy ‘n keuse tussen die Hopper-toer en die Atlantico-toer.

Sekondes na die opstyg op die Hopper-toer bespeur jy die Cape Wheel uit die lug. Dan vlieg jy oor die stadskern van Kaapstad en oor Seinheuwel, Duiwelspiek en Lion’s Head. Die kantoor- en geskiedkundige geboue, daktuine en besige strate lyk skoon anders noudat jy dit vanuit ‘n ander hoek beskou.

Jy sien die woonbuurte van die Tuine, Higgovale, Tamboerskloof, Vredehoek, Woodstock, Distrik 6, Zonnebloem en Oranjezicht onder jou.

In Groen- en Mouillepunt lyk al die mense wat die talle restaurant besoek soos miere van bo. Die kurwes van Kaapstad-stadion streel die oog.

Kyk of jy die 2.6 km roete van die Fan Walk met jou oog kan volg voor die heli sy pad – oftewel vlugroete – na Seepunt maak.

Hou die rooi-en-wit gestreepte Mouillepunt-vuurtoring in die oog so lank jy kan.

Seepunt het ‘n goeie kwota – dis nie so ‘n sensitiewe kwessie soos in ander gevalle nie – wolkekrabbers veral met Beach Road langs.

Die kurwe van Bantrybaai is wraggies nóg mooier as wat jy dit onthou.

Clifton – en sy Eerste, Tweede, Derde en Vierde Strand – bly eksklusief; dit maak nie saak hoe jy daarna kyk nie.

Sodra jy ‘n ry lang palmbome bespeur, is dit Kampsbaai wat onder jou lê. Kampsbaai is een van die blouvlagstrande van Kaapstad.

Skuins agter Kampsbaai troon die Twaalf Apostels-bergreeks uit.

Wees op die uitkyk vir die Twaalf Apostels-hotel net voor die helikopter omswaai om terug te vlieg.

Op die Atlantico-toer stem die eerste deel van die vlug grootliks ooreen met die Hopper-toer hoewel jy nie oor die stadskern vlieg nie.

Vanaf die Twaalf Apostels vlieg jy verder tot by Llandudno en Sandy Bay.

Sandy Bay is nie net bekend vir sy sandstrand nie; dis eerder die nudiste wat hier uithang oor wie daar in gewone huishoudings bespiegel word.

By Houtbaai is dit tyd om om te draai, maar nie voor jy ‘n blik op die hawe met sy kleurvolle vissersbote gehad het nie. Chapmanspiek en Robbe-eiland is van die hoogtepunte om na uit te sien.

www.nachelicopterscapetown.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 25, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .