ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

27-windpomp-fontein

First published in Die Burger, March 2018

Gaan loer na Loeriesfontein

By Loeriesfontein se windpompmuseum waar jy jou verluister aan die windpompe wat draai

By Loeriesfontein se windpompmuseum waar jy jou verluister aan die windpompe wat draai

As Loeriesfontein, ‘n piepklein dorpie in die Noord-Kaap, op roem wil aanspraak maak, kan hulle spog dat hulle een van net twee windpompmuseums in die wêreld het en dat Suid-Afrika se eerste vierling wat amptelik opgeteken is, hier gebore is. Hulle was vier Lombaard-seuns en hulle is op 13 Februarie 1951 op Loeriesfontein gebore.

Op pad vanaf Nieuwoudtville na Loeriesfontein sien ons êrens op ‘n stil pad ‘n advertensiebord vir die dorp raak. Daarop staan – in Afrikaans en Engels: Loeriesfontein – Windpomp en Kultuur Museum, Kokerbome langs pad, Blomme en Vygies, Akkommodasie. Ook ‘n pyltjie in die rigting van Loeriesfontein en ‘n aanduiding dat die dorp 44 kilometer verder met die pad af lê.

DSC_0723

Die Fred Turner Museum is in Loeriesfontein; verversings in die skerm is nie gereeld beskikbaar nie

In Lombardstraat langs die Fred Turner Museum is die Windpompmuseum. In die Fred Turner Museum, in ‘n ou skoolgebou, is daar meer as eenduisend items – soos ‘n trekwa, doopfont, perdemeul en familie-Bybels – wat lig werp op hoe die ou pionierboere van Namakwaland geleef het. Verversings word soms in die skerm van die Fred Turner Museum bedien.

Loeriesfontein het rondom ‘n algemene handelaarswinkel ontwikkel. Dié winkel is in 1894 deur Frederick Turner begin. Frederick Turner was oorspronklik van Norwich, Engeland. Sy winkel het voorraad aan die omringende plase verskaf.

By die Windpompmuseum in Loeriesfontein is 27 werkende windpompe te sien. Dié versameling windpompe is deur ene dokter Walton van Kaapstad begin en word tans deur die Fred Turner Museum in stand gehou.

Op die naambord van die museum staan vyf windpompwieke in rasta-kleure (geel, groen en rooi) punt in die wind.

DSC_0747

Suiderkruis

Op die wieke van die windpompe in die windpompwerf staan name soos Conquest, Eclipse, Lloyds Motor Cape Town, Star Zephyr (met ‘n swart ster tussen die twee woorde geverf), Suiderkruis, Fairbanks-Morse (met sy eie nommer) van Chicago USA, Challenge C.O. Dandy – Made in USA, Atlas, Baker – Woolf Engineering Bloemfontein, Vetsak President (waarvan nie ontslae geraak gaan word nie), Findlays Cape Town, Wonder de Elgin, Gearing Cape Town, Gearing Self Oiling, North’s, Massey Harris en Hercules British Make.

Waarom is die naam van die meeste windpompe van die Overberg tot in die Vrystaat, van die Karoo tot wie-weet-waar regdeur die land dan Climax-windpompe, wonder ek en Reisgenoot Rachel wat saam met my die museum besoek. Omdat dit ‘n windpómp is, giggel ons terwyl die windpompe om ons tjierie-tjierie en kreun.

Terwyl ek aan hierdie artikel werk, lees ek op die NG Kerk Loeriesfontein se Facebook-bladsy die dominee se inskrywing: Dit is verskriklik droog in ons wêreld (Boesmanland en Hantam soos op baie ander plekke in ons land). Sondag na Sondag moet ek preek en dit is nie meer maklik nie, want ek sien die bekommernis en ook moedeloosheid in my mense se oë. En ek moet mense moed inpraat, en ek moet troos, en ek moet hoop gee oor môre en al die dae wat daarop volg. En dan weet ekself nie meer hoe nie, omdat die omstandighede ook nie by my verbygaan nie. Dit is waarom ek ‘n tydjie gelede besluit het om maar net saam met my mense te wees, saam te lees en saam te bid; al word dit ook selfs al moeilik. “Hoop is nie maklik nie,” het Dana Snyman so ‘n rukkie terug geskryf oor sy eie belewing van die jaar wat verby is. En dit is waar. Om nou goedkoop te wil troos met: “Môre sal dit beter gaan…” of “… moenie van al jou seëninge vergeet nie, daar is nog baie om voor dankbaar te wees…” -dit sal mos nou nie werk nie. En toe ek Maandagaand na amper 400 km weer by die huis op Loeriesfontein kom, was ek moeg maar tevrede. Ek het nie net mense besoek nie, maar agtergekom dat mense by my ook besoek afgelê het, te midde van hulle eie kwellinge my lewe met hulle teenwoordigheid verryk het. Dit was goed om saam met hulle die dag te kon deurbring. Mag ons Hemelse Vader ons in die tyd net vashou, dit is al wat ons bid. Daar is nog baie mense wat ek moet nary.”

Ek lees ook van Tannie Fien, ‘n oud-lidmaat van Loeriesfontein, wat op 98-jarige leeftyd nog steeds by Lambertsbaai se basaar help. Dis waar Loeriesfontein se afgetrede dominee, Dokkie Lintvelt haar die afgelope vakansie raakgeloop het. Sy help agter die basaartafel met die verkope en voor die tyd bak sy ‘n klomp melkterte en koeke. Soos wat sy ook op Loeriesfontein gedoen het.

Gaan besoek Loeriesfontein nie net vir die Windpompmuseum nie, maar ook vir sy ménse. En dan ook vir die kokerbome in die rante en vir die veldblomme en vygies in die blomseisoen.

'n De Aar-windpomp by die Fred Turner Windpompmuseum in Loeriesfontein

‘n De Aar-windpomp by die Fred Turner Windpompmuseum in Loeriesfontein

Die Fred Turner Windpompmuseum word selfs in die boek, 1001 móét-sien plekke – plekke om na te gaan, dinge om te doen in Suider-Afrika, gelys en die museum het hul eie Facebook-bladsy: www.facebook.com/Loeriesfontein-Fred-Turner-Windpompmuseum-336198793460858/

* * *

Die enigste ander windpompmuseum in die wêreld

Die Mid-America Windmill Museum in Kendallville, Indiana in die VSA het 52 windpompe op sy gronde. Hulle het hul deure in 1992 oopgemaak.

Hulle beywer hulle vir die versamel, uitstal en bewaar van windpompe, om in te lig en bewustheid van windpompe in die Amerikaanse geskiedenis te skep en om die storie van wind, die krag wat dit opwek en hedendaagse windpompe te vertel.

Die Mid-America Windmill Museum is net vir sewe maande van die jaar oop: van April tot November.

Lees meer: www.midamericawindmillmuseum.org

Net in Amerika: Die wêreld se enigste tydskrif oftewel nuusbrief wat net aan windpompe gewy is, is www.windmillersgazette.org

* * *

Die definisie van ‘n windpomp

Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is ‘n windpomp ‘n waterpomp bestaande uit ‘n ystertoring met ‘n wiel bo-aan wat voorsien is van skuins staande wieke, deur wind gedraai word en deur ratwerk ‘n suier binne ‘n silinder in beweging bring; dit word ook ‘n windmeul genoem.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on September 27, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .
%d bloggers like this: