ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Darling: Almal se liefling-dorp

First published in Die Burger, August 2017

By The Flying Pig vang 'n skildery van Rosemary Anne die gees van Darling vas

By The Flying Pig vang ‘n skildery van Rosemary Anne die gees van Darling vas

‘n Gemmerkat, ‘n vlieënde vark, ‘n stasieteater, en ‘n brouery wat ‘n skilpad, sekretarisvoël, draakakkedis, bastergemsbok, witkruisarend, ietermagog en neushoringvoël huldig. Dís wat alles op Darling op jou wag. En dis nog lank nie al nie.

‘n Miaau en ‘n spin

As jy ‘n sagte plek vir ‘n jêmroul-kat met die kleur van appelkooskonfyt het – hierdie ene lyk of sy in versiersuiker gedoop is – of jou dag met ‘n koppie koffie wil begin, loer in by The Marmalade Cat (Hoofstraat 19). Op die buitetafel pryk ‘n katbeeld om jou na binne te wink.

The Marmalade Cat is sewe dae per week oop vir ontbyt, middagete en tee en koek. Vrydagaande maak hulle pizza dat dit klap.

Langsaan by The Cat Walk (Hoofstraat 19) is sjiek en sportiewe klere, sandale, handsakke en kussings. Die winkelmannekyne lyk soos groot, uitgeknipte papierpoppe waarmee dogtertjies in die sewentigerjare gespeel het.

Die dag as varke vlieg

By The Flying Pig (Stasiestraat 3) maak Gil en Aleks Ferreira koffie  sowel as spesialiteitskouevleise (charcuterie) met die fokus op resepte van Frankryk, Italië, Pole en Spanje.

‘n Goeie skeut humor begroet jou met die binnestap as jy sommer dadelik lees: As jy nie van spek hou nie; dan is jy verkeerd.

Uit die plafon vlieg ‘n langwimpervark op ‘n vlieënde tapyt; ‘n ander een seil deur die lug met ‘n blou toga wat agterna wapper en nog een hang aan ‘n ballon.

Hier eet jy jou spek op bagels, roosterbrood of suurdeegbrood. As jy nie in die bui vir brood is nie, is daar altyd spekslaai (vars blare, tamatie, feta, olywe, komkommer, avokadopeer en baie brosgebraaide stukkies spek).

As jy nog nie spekkonfyt geproe het nie, is dít alleen genoeg rede om jou motor se neus in die rigting van Darling te du.

Soetlief, jou lekker ding

Is jy meer van ‘n soettand? Die winkelvenster by Darling Sweet (Langstraat 7A) nooi jou binne met goue letters wat ‘Vat jou tyd’ uitbasuin. Heel gepas is Darling Sweet se toffiewinkel en –fabriek in die ou Edwardiaanse gebou wat eens Darling se Algemene Handelaars gehuisves het.

Die ou houtvertoonkas wat amper aan die plafon raak, is nie te koop nie – ingeval jy sou gewonder het. Ook nie die blou-en-oranje traaisiekel wat in een hoek staan nie.

Die eerste drie toffiegeure wat Frits van Ryneveld en Hentie van der Merwe van Darling Sweet begin maak het, was Tannie Evita se Klassieke Toffie, Heuning & Sout, en Suurvy. Ons praat nou van outydse toffies wat nog met die hand gemaak word. Daar’s omtrent nagevors om goeie ou resepte op te spoor.

Met verloop van tyd is die volgende toffiegeure bygevoeg: Rooiwyn & Sjokolade, Lemoen & Granaat, Droplekkers (liquorice), Bird’s Eye Brandrissie en Ormonde-Wyne. Darling Sweet het ook hul reeks produkte uitgebrei deur toffiesmeer te begin maak – die geure is tans Tannie Evita se Klassieke Toffie, Bird’s Eye Brandrissie en Heuning & Sout.

‘n Skerp tannie op ‘n stasieperron

Van Tannie Evita gepraat – dis einste sy, die beroemdste wit vrou in Suid-Afrika, soos sy haarself noem, en die alter ego van Pieter Dirk-Uys – wat Darling se potensiaal meer as twintig jaar gelede raakgesien het toe dit nog maar ‘n stillerige dorpie was.

Eers het Pieter Dirk-Uys ‘n huis in Darling gekoop en kort daarna het hy die ou stasiegebou in ‘n teater, Evita se Perron (Arcadiastraat 8), omskep.

Evita se Perron is ‘n plek waar jy tyd nodig het. Op die stasieperseel is benewens die teater, ‘n restaurant, ‘n museum of eerder nauseum soos dit speels genoem word en ‘n stasiegalery. Buite die roomyspienk en turkoois gebou is Boerassic Park. Al die uitstallings ontlok ‘n gegiggel en terselfdertyd ‘n gesnak na asem – óf omdat dit so gewaagd is (en meestal nie in ordentlike geselskap hoort nie) óf omdat dit soveel ongemak veroorsaak as ‘n mens aan die apartheidsdae en wat dit behels het, herinner word.

Goed, beter, botter(museum)

Darling was lank gelede vir sy blomme (soos ook nou) en sy botter bekend. Die oudste suiwelkoöperasie in die land is in 1902 in Darling gestig.

Darling Museum – eens die Bottermuseum – beeld die destydse suiwelbedryf uit, maar spog ook met ‘n wye verskeidenheid ander uitstallings.

Voor die gebou staan Darling se ou seinkanon; binne is ‘n museumwinkel waar ou kombuisware ook te koop is.

Water na wyn, nee, dit was melk

Die Pentze van Groote Post Wynplaas ‘n entjie buite Darling (volg die R307 uit Darling en draai regs op die Darling Hills-pad) was eers deel van die suiwelbedryf voor hulle na die wynbedryf oorgeskakel het.

Op dié geskiedkundige plaas is twee oorspronklike kanonne: een staan op ‘n granietrots langs die slaweklok en kyk oor die kelder uit; die ander een staan langs die restaurant, Hilda’s Kitchen, op die plaas.

Die naam van die restaurant is ‘n ode aan Hildagonda Duckitt wat hier gebore is en wat twee van die beroemdste plaaslike kookboeke, Hilda’s Where is it of Recipes (gepubliseer in 1891) en Diary of a Cape Housekeeper, geskryf het.

Die spyskaart by Hilda’s Kitchen verander daagliks. Gewilde geregte sluit in springbokcarpaccio, biefstukrolle en karringmelktert.

As jy van die Groote Post Sauvignon Blanc in jou kattebak laai, kan jy gerus sorg dat jy geelstert of snoek in die hande kan kry, of ‘n resep vir aspersie-en-bokmelkkaasquiche byderhand het.

In die mooiweermaande hou Groote Post plaasmark op die laaste Sondag van elke maand.

Van ‘n skilpad tot ‘n sekretarisvoël en ‘n ietermagog

Kevin en Philippa Wood van Darling Brew (Caledonstraat 48) het ‘n passie vir bier, en vir bedreigde dierspesies.

ie eerste bier wat hul boetiekbrouery gemaak het, was Darling Brew Slow Beer.

Elke bier – hulle het nou al ‘n hele arsenaal biere (lees meer by: www.darlingbrew.co.za/beers.html) – word aan ‘n bedreigde spesie gekoppel. Die geometriese skilpad was die inspirasie vir die Slow Beer.

Oe, dis Ormonde

Dis nie aldag wat jy ‘n wynplaas sommer pens en pootjies binne-in ‘n dorp aantref nie. Dis ook nie al wat Ormonde besonders maak nie.

By Ormonde (Mount Pleasantstraat, Darling) glo hulle daaraan om eerder die kelder na die druiwe te neem, eerder as die druiwe na die kelder. Hul proelokaal is egter op die pragtige plaas in die dorp.

Alles word met die hand gepars en dis vroue wat die plukwerk op die plaas doen.

Bespreek verkieslik vooraf vir hul sjokolade-en-wynproe: info@ormonde.co.za of 022 492 3540

Dié wynwinkel is ‘n skat

As jou tyd – of lus vir ry –  min is, klop aan by The Darling Wine Shop (Hoofstraat 5).

By The Darling Wine Shop kry jy ‘die smaak van Darling’, want wyne van die distrik – en ‘n paar ander wat hul aanbeveel word hier teen kelderpryse verkoop. Waar dit die wyne en die speelse, maar smaakvolle, interieur aangaan, getuig alles van goeie smaak.

Die jaarlikse immergewilde Darling Veldblomskou is baie gewild In 2017 was dit hul eeufeesviering. 

www.darlingwildflowers.co.za

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 15, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .