ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

St Vincent vier die oes op Stellenbosch

First published in Eikestadnuus, February 2015

Kerkmis eer wyn en wynmakers

winemakersmass

In laat Januarie elke jaar word die jaarlikse wynmaker- en distilleerder-kerkmis by die kleine Sint Nicholas Katolieke kerkie in Paul Krugerstraat, Stellenbosch gehou.

Op Donderdag, 26 Januarie 2017, om 11h00 het wynmakers van die distrik, en verder, weereens by Sint Nicholas bymekaar gekom.

Die ingang van die Sint Nicholas (of Nikolaas) Katolieke Kerk in Stellenbosch

Dié kerkmis staan bekend as die fees van Sint Vincent van Saragossa. Sint Vincent is die beskermheilige van wyn(makers), distilleerders en balsamiese asynmakers. Niemand is heeltemal seker hoe hy as die beskermheer van wynmakers uitgedraai het nie.

Eendag was daar …

Een legende lui dat Sint Vincent in die derde of vierde eeu met sy donkie op reis in Spanje was. In sy omswerwinge het hy êrens langs die pad gestop om met ‘n wingerdboer, of die arbeiders in die wingerd, ‘n praatjie aan te knoop. Vincent se vaaltyn het solank aan die wingerd begin knibbel, terwyl die heilige lustig voortgesels het.

Eers ‘n paar maande later het die boer opgelet dat waar die donkie aan die wingerd geëet het, het die druiwelote beter en weliger gegroei.

Daar word gesê dat dít is hoe mense ontdek het dat wingerd beter groei en ‘n beter druiwe-oes verkry kan word deur die wingerd te snoei.

Water word nie in wyn verander nie

Elke jaar – dit was vanjaar die 23ste wynmaker-kerkmis wat by Sint Nicholas in Stellenbosch gehou word – word die binnekant van die kerk met wingerdlote versier.

As dit die jaar reeds in Januarie versengend warm is, moet plastiekwingerdblare saam met natuurlike wingerdblare ingespan word.

Dave Hughes na die afloop van nog 'n suksesvolle Wynmakersmis

Dave Hughes na die afloop van nog ‘n suksesvolle Wynmakersmis

Met die instap skep ‘n kruis van wingerdlote die gepaste atmosfeer. Die priesters , geklee in purper klede, wat in gelid instap, dra by tot die gewydheid van die kerkmis.

Die kerkie is gelaai met simboliek

Die kerkdiens is redelik informeel met genoeg humor om dan en wan die ‘gemeente’ van wynmense te laat skaterlag. Die skriflesing hou by die tema van wyn, maar nie noodwendig (altyd) by wyn wat in water verander word nie.

Jesus was immers ook ‘n storieverteller wat in baie van Sy boodskappe die wingerdstok en die vrug daarvan gebruik het om te illustreer hoe die mens moet leef en omgaan.

Die 2017-boodskap was uit Amos 9: 13-15: “Kyk die dae kom, spreek die Here dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees … hulle (sal) wingerde plant en die wyn daarvan drink”.

Die boodskap wat die diens afgesluit het, is iets wat ons almal maar kan onthou: “Ons is almal soos druiwe. Druiwe groei in trosse. En elke tros is geanker in dieselfde wingerdloot.”

Mag die tradisie nooit uitsterf nie

Dit hang van die parsseisoen af hoeveel wynmakers, en diegene wat die vrug van die druif geniet, by die Sint Vincent van Saragossa-fees by die Sint Nicholas-kerkie opdaag.

'n Wingerdmandjie om die boodskap van die dag uit te beeld

As parstyd in die betrokke jaar vroeg begin, kan baie wynmakers nie die tydjie afknyp om die mis by te woon nie. Tog is daar altyd ‘n vrolike klomp bymekaar wat na afloop van die kerkdiens, mits tyd dit vir elkeen toelaat, saam vir middagete by ‘n Bolandse restaurant aansit.

'n Skenking van wyn aan die priesters

Dit gebeur egter nie voor al die wynmakers ‘n bottel van hul spogwyn, of ‘n paar daarvan, aan die priesters skenk nie. Van die wyn word ook vir liefdadigheid verkoop. ‘n Kollekte-opname word ook ten bate van Stellenbosch Hospies opgeneem.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 28, 2018 by in Afrikaans foodies, For foodies and tagged .