ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Brug van Spioene

First published in Rapport, April 2023

Daar lê ‘n Brug – van Spioene – voor

Dink jy aan spioenasie, dink jy aan James Bond. Mata Hari. Kim Philby.

James Bond is die fiktiewe geheime agent, geskep deur skrywer Ian Fleming, wat vir M16 werk, altyd ‘n pak klere dra en sy martini’s ‘shaken, not stirred’ bestel.

Mata Hari was ‘n Hollandse eksotiese danseres wat tydens die Eerste Wêreldoorlog skuldig aan spioenasie vir Duitsland bevind en deur ‘n vuurpeleton tereggestel is.

Kim Philby is berug as Britse intelligensie-offisier én dubbele agent vir die Sowjet-Unie.

In die Bybel het Ragab Israelitiese spioene op haar dak in Jerigo weggesteek. Dit het juis haar lewe gered na hulle haar aangesê het om ‘n rooi tou by haar huis te laat uithang sodat sy en haar mense nie aangeval sou word nie.

Staak die naamsmousery

Die spioene wat by Glienickebrug uitgeruil is, is egter nie een iemand van naam nie.

Laat ek die storie van meet af begin.

Tydens die Koue Oorlog is die Glienickebrug (in Duits is dit die Glienicker Brücke) oor die Havelrivier in Potsdam vir die uitruil van spioene wat uitgevang is, gebruik. Dié brug was op die destydse grens tussen Oos- en Wes-Berlyn en bekend as die Brug van Spioene.

Glienickebrug was glo die enigste kontrolepunt tussen Wes-Berlyn en Oos-Berlyn waar daar nie net ‘n Sowjet-teenwoordigheid was nie, maar wat ten volle onder die beheer van die Sowjet-Unie was. Al die ander kontrolepunte het onder Oos-Duitsland geval.

Op 10 Februarie 1962 het die eerste uitruiling van spioene op die Brug van Spioene plaasgevind. Die Amerikaners het Rudolf Ivanevich Abel van die KGB, wat in 1957 skuldig bevind is dat hy vir die Sowjet-Unie gespioeneer het, uitgeruil vir Gary Powers, die vlieënier van ‘n U-2-spioenasievliegtuig wat in 1960 neergeskiet is.

In Maart 1985 is die liggaam van Arthur D. Nicholson Jr., ‘n militêre intelligensie-offisier, aan verteenwoordigers van die Amerikaanse weermag op Glienickebrug oorhandig.

Nicholson is deur ‘n Sowjet-sersant geskiet toe hy intelligensie versamel het as deel van ‘n gemagtigde militêre skakelsending, onder wederkerige VSA-Sowjet-gesag. Hy was besig om foto’s van ‘n stoor waar die Sowjet-Unie oorlogstenks gehou het, af te neem.

Op 12 Junie 1985 is daar weer spioene uitgeruil.  23 Amerikaanse spioene wat in Oos-Europa aangehou is, is geruil vir ‘n lid van die Poolse intelligensiediens genaamd Marian Zacharski en nog drie laer-vlak Sowjet-spioene wat in die Weste gearresteer is. Volgens oorlewering is daar vir drie jaar beraadslaag voor die uitruiling op Glienickebrug gebeur het.

Tyd vir skaakmat

Die laaste ruiling van spioene het die meeste mediadekking gekry. Op 11 Februarie 1986 is Anatoly Shcharansky (later bekend as Natan Sharansky), ‘n politieke gevangene en kampvegter vir menseregte, saam met drie spioene van die Weste vir Karl Koercher, sy vrou Hana en drie ander Oos-Europese spioene uitgeruil. Karl Koecher was ‘n Tsjeggiese mol wat die CIA tydens die Koue Oorlog binnegedring het.

Anatoly Shcharansky was die eerste politieke gevange wat deur Mikhail Gorbachev vrygelaat is. Hy is vir nege jaar lank in Sowjet-tronke aangehou waartydens die Weste alles moontlik probeer het om hom vrygelaat te kry.

Op Glienickebrug is Shcharansky eerste vrygelaat waarna hy onmiddellik saam met die Amerikaanse ambassadeur na Wes-Duitsland vertrek het.

Na die tyd het Shcharansky vertel dat hy tydens eensame opsluiting in die gevangenis in Rusland teen homself skaak in sy kop gespeel het om nie van sy trollie af te raak nie. Hy was van kleins af ‘n briljante skaakspeler. Jare later, in 1996, het hy die wêreldskaakkampioen Garry Kasparov in ‘n gelyktydige skaaktoernooi in Israel geklop.

Spioenasie gaan nou gepaard met sabotasie. Of sabotasie met spioenasie.

Behalwe vir fisieke sabotasie is een van die doeltreffendste gebruike van sabotasie téén organisasies, m.a.w. spioenasie. Die CIA se Simple Sabotage Field Manual raai saboteurs en spioene aan “Tree dom op” as hulle “moraal (wil) verlaag en verwarring (wil) skep”. Dít moes ongetwyfeld ‘n moeilike opdrag gewees het vir Shcharansky om uit te voer!

Daar is nog ‘n brug voor

Om nou op die brug te staan kan ‘n mens jou nie indink dat spioene hier uitgeruil is nie. Die natuurlike skoonheid van die Jungfernsee-meer aan die noordekant en Glienicker-meer aan die suidekant is eerder waarop ek onwillekeurig fokus.

My reisgenoot Winnie Janse van Rensburg deel haar gedagtes na die tyd met my: “Ek het gedink aan die uitruil van die spioene. Dit het egter so onwerklik gevoel. ‘n Mens romantiseer mos sulke goed. As jy op die plek staan, is dit net ‘n baie mooi brug – jy dink nie aan die onheilspellende verlede nie.”

                                                                          ***

FEITE OOR GLIENICKEBRUG

Van toeka tot nou

Die oorspronklike houtbrug is in 1660 vir die gebruik van jagters gebou.

In 1834 is ‘n nuwe, meer soliede brug opgerig aangesien die brug toe baie meer gereeld gebruik is.

Weens toenemende verkeer is ‘n moderne ysterbrug in 1907 ingewy.

Op 27 Mei 1952 het Oos-Europese owerhede die brug vir inwoners van Wes-Berlyn en Wes-Duitsland gesluit. Na die oprigting van die Berlynse Muur in 1961 is die brug ook vir Oos-Europeërs gesluit. Slegs militêre personeel van die Geallieerde Magte is op die brug toegelaat.

Die Glienickebrug het eers Brug van Eenheid geheet, maar is later vernoem na die historiese Glienickepaleis daar naby geleë, wat in die vroeë 1800’s vir Prins Carl van Pruise ontwerp is.

Die Glienickebrug is aanvanklik deur die media die Brug van Spioene gedoop. In latere jare is dié naam in boeke soos ‘Funeral in Berlin’ van Len Deighton en in die 2015-fliek ‘Bridge of Spies’ – geregisseer deur Stephen Spielberg met Tom Hanks in die hoofrol – gebruik.

As jy klaar op die Brug van Spioene gestaan het, kan jy by Garage du Pont ‘n drankie gaan drink

2 comments on “Brug van Spioene

  1. Tannie Frannie
    February 5, 2024

    Baie interessant!

  2. ilsez
    February 6, 2024

    Dit was fassinerend om daar te wees, Tannie Frannie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 5, 2024 by in Europa.