ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Gaan soek laaste ongerepte strande

First published in Die Burger, March 2013

DUSKANT EN WEERSKANT GROENRIVIERMOND

Daar's nuwe formele - en informele - padaanwysers na Brand se Baai

Daar’s formele – en informele – padaanwysers na Brand se Baai

Dalk die laaste stukkie ongerepte strand in ons land lê suid en noord van die Groenriviermond. So hoor ons oor en oor. En so gaan ‘n jaar of drie verby voor ons trippie na hierdie deel van die Weskus in plek val.

Aan die einde van ‘n besige jaar is ons reg vir die groot niks – geen ablusie behalwe ‘n ou grafie wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer, en geen sein sodat ons ongestoord kan rus en lees. Bowenal geen uitgemerkte kampplekke: jy kíés waar jy wil tent opslaan omdat dit vir jou mooi is. Of omdat die klipstapel-braaiplek jou geval. Die bamboes ‘n aanduiding gee dat daar kreef net hier voor is. Of wat ook al.

DAG 1: OP DIE PAD, KAMP OPSLAAN EN ‘N SONSONDERGANG

Om die eerste dag se kilometers minder te maak, vertrek ons Saterdag douvoordag uit ‘n slapende Moorreesburg . Dis ‘n redelike ent se ry, maar niks jaag ons nie. Dis die langnaweek voor Kersfees en ons sien uit na almal en alles agterweë laat.

By Koringberg se afdraai op die N7 stop ons by die eerste padstal, Desert Rose. Dis nét die plek om koffie te drink, maar daarvoor is ons vandag ietwat haastig. Die wiele sing op die teer. Verby die volgende padstalle, al die pad tot by Vredendal. Waar ons net mooi agterkom al die aanwysings en inligting lê nog net so op die koffietafel. En op hierdie mooie Saterdagoggend is Vredendal se toerisme bottoe.

Ons stoot maar aan na Lutzville. Dis ‘n miernes van bedrywighede; die plaaslike Sjinees besig geradbraakte Afrikaans; en ‘n vriendelike boer met ‘n bakkie beduie ons verder. Koekenaap blyk ‘n speldpunt op die landskap te wees.

Voor ons kerplaks in Namakwa Sands se myn vasry, draai ons links soos aan ons verduidelik is. Net ‘n entjie vorentoe blink pienk en wit soutpanne in die helder lig. Ons voel sommer dadelik ver van alles, geen geroesemoes – net ons, ‘n paar ander siele wat ook soos ons voel, die see en die natuur.

'n Hemelse sonsondergang by Brand se Baai

‘n Hemelse sonsondergang by Brand se Baai

Die son gaan nou-nou water trek; dus kos dit vinnig opslaan aan ons seil-igloetjie sodat daar nog geduik kan word. Die avonturier durf die koue Weskus-water aan; die boekwurm plak haarself neer en voel of die wêreld nou maar kan vergaan.

Op ons eerste aand sak die son met spatsels oranje in die lug; ons eet kreef en braai ‘n sappige hottentot.

DAG 2: BRANDERS BREEK, MOSSELS PRUT EN ‘N LUILEKKER LEWE

Vroeg ín die vere beteken vroeg úít die vere. Daar’s nie ‘n briesie in die lug nie; die son skyn; maar die water is onstuimig. Visioene van elke dag se kreef in die pot begin verdwyn.  Al háál ‘n mens kreef hier uit eerder as duik, gaan dit nie vandag ons gelukkige voorland wees nie.

Die mens en sy beste vriend speel op die strand

Die mens en sy beste vriend speel op die strand

In die vlak poele kan jy egter lóóp en mossels uithaal. Die dag neem sy loop met ‘n stapeltjie boeke wat omruil-omruil gelees word; ‘n allemintige pot mosselsop; ‘n dutjie in die middag net omdat ons wíl; en ‘n vlugtige verkenning van die veld rondom ons.  ‘n Somtotaal van drie voertuie ry verby; verder sien ons geen kind of kraai nie.

Terwyl ons vuurtjie knetter, speel ons ‘n bordspel terwyl die rooiwyn vinnig sak. ‘n Tjoppie op die vuur en gebakte eiervrug van die huis voltooi die gemoedelike aand.

DAG DRIE: SOUSREËN, ‘N NAT MATRAS EN ‘N GEEL VUURTORING

Ons word al in die nag wakker, want dit reën katte en honde. Altwee rol na die middel van die matras, lê verder lepel en besluit dat die volgende oggend vir homself sal sorg.

Toe die oggend breek, reën dit steeds en amper alles wat ons het, is nat. Daar’s niks wat boeretroos nie regstel nie. ‘n Ligte geswets laat die gasbottel skrik en gou vou ons ons hande om enamelbekers met stomende koffie. Doop die beskuit, ignoreer die druppels in ons nekke.

Toe klim ons summier voor in die Witrenoster, ons onfeilbare Toyota, en lees elkeen ‘n boek en die koerant van ‘n paar dae gelede. Ons sal ons nie hierdeur laat onderkry nie! Al is die lug en die wolke dieselfde staalgrys as die see.

Toe die oggend begin lank en die voorsitplek begin ongemaklik raak, ry ons kruie-kruie noord. Ons kyk ons mede-kampeerders – almal is so ver van mekaar af dat jy nie eers weet waar die volgende ou se staanplek is nie – se tente uit. Ja wat, almal is maar nat en ietwat bedremmeld. Dis nie net ons nie.

Vrolike honde blafgroet met die verbyry. Hier kamp Wagter of Fiefie saam. Die boekwurm blaf speels saam; die avonturier ry birre-birre oor die veldpaadjies.

Kinders se speelgoed lê vergete buite; stringe bikini’s hang op selfgespande drade. ‘n Ou bus dien as slaap- of kuierplek vir ‘n groep kampeerders; by ‘n ander uitspanplek staan ‘n lorrie wat al beter dae geken het. Hier kampeer net mense wat regtig na aan die natuur wil wees en wat weet hoe om hulself in te rig om selfversorgend – van eie water tot eie ablusie – te wees.

Onnodige veldpaadjies is natuurlik versper

Onnodige veldpaadjies is natuurlik versper

Ons ry al die pad tot by Groenriviermond se mosterdgeel vuurtoring met sy swart streep. By die hek uit lees ons op ‘n kennisgewingbord dat die gedeelte vanaf die einste vuurtoring tot noord van Spoegrivier onder beheer van San-Parke geplaas is. Vanaf Oktober 2013 moet kampplek bespreek word en sal kampering slegs by afgemerkte kampplekke kan geskied.

Die triestigheid van die dag verdwyn geleidelik soos wat ons terugry. By ons igloetjie aangekom, is die sonnetjie al warm genoeg dat al ons beddegoed en klere nog kan droogbak.

DAG VIER: MEERKATTE, ‘N VERDWAALDE ROB EN HONDERDE SWAELTJIES

Vandag weier die son om heeltemal kop uit te steek. Na die gebruiklike oggendkoffie mik die Witrenoster suid. Ons ry verby Worsie Visser se huis waar daar geen beweging te bespeur is nie; ons loer ongenooid in by die leë kasarmhuisies wat deur wie-weet-wie hier opgerig is; ons neem GPS-koördinate van al die mooiste kampeerplekkies. Ons weet nog steeds nie presies watter baaitjie Brand se Baai is nie, maar dit maak nie meer saak nie.

‘n Veldmuis hardloop oor die pad; ‘n reiel staan penorent in die middel van die veld; skilpadjies skuifelloop tussen vetplante. Ons verkyk ons aan ‘n voorbarige meerkatfamilie wat hulle op hulle beurt aan ons verkyk.

So span 'n mens mos nou uit

So span ‘n mens mos nou uit

Laatmiddag verken ons verder. As jy ver genoeg suid ry – en dis ook nie so tamaai ver nie – kom jy op ‘n lang, wit strand af. Hier loop ons vir ‘n uur of wat. ‘n Verdwaalde jong rob soek sy ma. Al op die sand langs flipflap hy. “Net mooi groot genoeg vir haaikos.” merk die avonturier onsensitief op. Die boekwurm weerhou haarself daarvan om hom ‘n allemintige hou in die ribbes te gee.

Met die terugkom by ons slaapplek swiep honderde swaeltjies deur die lug bo-oor ons igloe-tent.

DAG 5: HELAAS, ONS MOET OPPAK

Ons probeer die lekker so ietwat uitrek, maar dis tyd vir oppak. Ons doen retrospeksie met die terugrit – daar was nie naastenby so baie ondeurdagte rommelstrooi as wat ons vooraf gehoor en gelees het nie; ons het net een moegoe gesien wat sommer deur die veld gery het; en volgende jaar oor die feestyd maak ons weer so.

Wat jy moet onthou:
·        Jy moet alles saambring wat jy nodig het.
·        Daar is nie selfoonontvangs nie – behalwe op een klein knikkie waarvan net die ou hande weet.
·        ‘n Viertrekvoertuig is nie essensieel nie aangesien daar wel kampplekke is waar jy daarsonder daar kan uitkom. Dis egter aanbevole.
·        Neem verkieslik beskerming teen die wind saam.
·        In blommekyktyd behoort hierdie veld werklik besonder mooi te wees.

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 29, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .