ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Pierre Loti (1850-1923) – ‘n Fransman se liefdesverhaal in Turkye

First published in Rapport, May 2019

20191208_232741

Een van die boeke wat Pierre Loti oor sy affair met ‘n haremvrou in Istanbul geskryf het, hoewel daar sommige is wat glo die storie het nie verloop soos wat dit hier geskryf is nie

Liefde met die eerste oogopslag gebeur wel. Pierre Loti, ‘n Fransman wat versot op Turkye was, sou saamstem.

Hoe het Pierre Loti in Turkye beland

Pierre Loti was die skuilnaam van Louis Marie-Julien Viaud. Hy was ‘n Franse vlootoffisier en skrywer wat op 26-jarige leeftyd vir die eerste keer Istanbul besoek het.

Julien Viaud, oftewel Pierre Loti, was lid van ‘n oorlogsvloot wat in 1876 na Istanbul gestuur is.

Liefde met die eerste aanblik

Kort na sy aankoms sien Loti die eerste keer vir Aziyade.

Tydens ‘n wandeling in een van die Moslem-buurte van Konstantinopel bespeur hy Aziyade se “smaraggroen oë” van agter die tralieafskorting van ‘n haremlik, die vertrekke in ‘n tradisionele Moslem-huishouding waar net vroue toegelaat word.

Aziyade was een van vier vroue van ‘n bejaarde sakeman, Abeddin.

Loti was verbaas dat Aziyade pertinent na hom gestaar het. Met ‘n Turk sou sy dit nooit gedoen het nie; inteendeel, volgens gebruik sou sy onmiddelik buite sig beweeg het.

Loti kon nie met sy eerste aanblik Aziyade se gesig sien nie, want sy was gesluier. Haar oë het hom egter bygebly.

So het dit lank terug by Princes Islands gelyk

So het dit lank terug in die omgewing van Istanbul gelyk; dalk ook in Pierre Loti se tyd toe hy hier uitgehang het

Op dieselfde dag ontmoet Loti vir Samuel, die bootman wat hom sou help om vir Aziyade in die geheim te ontmoet.

Die tameletjie wat Pierre Loti moes oplos, was hoe om vir Aziyade te ontmoet of ten minste weer te siene te kry.

Dit was nie van oorlams wees wat Loti so verlief geraak het nie. In sy hart het “’n klein blou blommetjie van naïewe liefde begin groei”, soos deur hom neergepen.

‘n Buite-egtelike verhouding op die plek en in die era waarin Loti hom bevind het, was eintlik heeltemal onmoontlik.

Met baie bewimpeling en Samuel se hulp het Pierre Loti dit wel reggekry om van 1876 tot 1877 ‘n verhouding in streng geheimhouding met Aziyade aan te knoop.

Pierre Loti het daarvan gehou om by die tollende derwisje van Istanbul te kuier en geselsies te maak; hy het homself as 'n Turkofiel beskryf

Pierre Loti het daarvan gehou om by die tollende derwisje van Istanbul te kuier en geselsies te maak; hy het homself as ‘n Turkofiel beskryf

Loti was gefassineer deur die Oosterse leefstyl en die Islam-geloof. Hy het die taal en gewoontes van Turkye aangeleer. Soos Turkse mans het hy ‘n fes en jurk gedra. Later sou hy sê: “Ek het stadig Turks geword sonder dat ek dit self agtergekom het.” Jare daarna het hy na homself as ‘n Turkofiel verwys.

Op 27 Maart 1877 moes Loti Istanbul verlaat omdat sy vlootkontrak verstryk het.

Hy het geweet dat hy slegs in Turkye kon aanbly as hy tot die Islam-geloof bekeer, sy vlootberoep laat vaar en by die Turkse weermag aansluit. Dit sou sy ma se hart breek. Dus het hy sy lewe – en minnares – versaak.

In Frankryk aangekom het hy gesukkel om gewoonweg met sy lewe voort te gaan. Daarom het hy begin skryf.

In sy eerste boek ‘Aziyade’ kon die werklike name van veral Aziyade en Samuel nie gebruik word nie. Die slot van die boek is gefabriseer, want die blote weggaan van ‘n vlootmarinier weens ‘n verstrykte kontrak, maak maar vervelige leesstof uit.

Dus keer Loti, die hoofkarakter in die boek,  terug na Istanbul om na Aziyade te soek. Later sneuwel hy in ‘n Russiese veldslag.

Vandaar die voorwoord in ‘Aziyade’: “Uittreksel uit die notas en briewe van ‘n luitenant van die Britse vloot wat op 10 Mei 1876 by die weermagdiens in Turkye aangesluit het. Op 27 Oktober 1877 het hy by die mure van Kars gesneuwel.”

Julien Viaud oftewel Pierre Loti het Aziyade nooit vergeet nie.

Na Loti se verhouding met Aziyade noodgedwonge tot ‘n einde gekom het, het hy Istanbul steeds gereeld besoek. Tydens sy besoeke het hy in die Eyup-distrik gebly.

Die Pierre Loti-heuwel in Eyup, met ‘n lieflike uitsig oor Istanbul, ‘n straat in die Divanyolu-buurt en die Pierre Loti Kahvesi (kafee) bo-op die Loti-heuwel is  na hom vernoem. Sommige glo dat Aziyade hier geskryf is toe die koffiewinkel nog as Rabia Kadin Kahvesi bekend was.

Om by Pierre Loti Kahvesi uit te kom, kan jy met ‘n kabelkarretjie ry of na bo stap.

Teen die heuwel kronkel grafte met vars blomme in een van die oudste begraafplase in Istanbul. Sultans en sjeiks lê hier begrawe.  Sommige glo dat daar in een deel van die begraafplaas laksmanne begrawe is.

In 1920 is Pierre Loti as ereburger van Istanbul vereer hoewel nie alle hooggeplaastes saamgestem het dat hy die eretitel verdien nie.

Die boek ‘Aziyade’ deur Pierre Loti

Dis nie net ‘n ongewone liefdesverhaal nie, maar gee ook ‘n blik op die alledaagse lewe in Konstantinopel – soos Istanbul toe bekend was – gedurende die laat 1800’s. Die deels outobiografiese vertelling geskied onder meer in die vorm van dagboekinskrywings en briefwisselings.

Loti beskryf in detail hoe hy soggens deur Konstantinopel wandel, by verskillende moskees inloer, by kafeetjies vertoef en tyd by praalgrafte en hammams (Turkse baddens) en op pleintjies verwyl. Hy drink koffie in blou kommetjies gehul in koperhouertjies, hy rook nargileh (waterpyp) en hy soek die geselskap van derwisje op.

 

Leave a comment