ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

LEER LETLAND – met kontras en glans -KEN

First published in Die Burger, October 2011

Wie ken jy wat al in Letland was? Waar’s Letland nou weer? En hoekom wil ‘n mens soontoe gaan?

Letland het uitgestyg bo hul vorige Russiese heersers. Hul geldeenheid is sterker as die pond. En dit met ‘n naam soos LAT. Kunsmatig aangebring, sê die Letlanders. Nie die naam nie, maar die sterkte.

'n Laatmiddagwandeling langs die rivier tussen die Ou en Nuwe Dorp

Dis moeilik om Letland te verstaan. Jy kan jou blind staar teen die Britse klerewinkels en die Parys-geïnspireerde kleredrag in Ou Riga. Jy kan konsentreer op die desperate armoede en gesukkel om oorlewing ‘n paar honderd meter weg van Ou Riga. Jy kan dit probeer assimileer, maar dis nie so maklik nie.

Die rivier tussen die Ou en Nuwe Dorp

Riga, die hoofstad van Letland, het die nuwe hoofstad van Britse rampartytjies geword. Natuurlik verskaf dit ‘n finansiële inspuiting waarmee Letland kan doen. In Ou Riga laat dit ons lag; ons sien snaakse kostuums en dit gee ‘n party-atmosfeer aan die strate. Maar daar is natuurlik ook ‘n ander element betrokke – een van laatnag op standbeelde klouterval, siek word in die strate en baie en aanhoudende geraas.

Letland verras, en Letland stel teleur. In Stockmann voel dit of ‘n mens in Parys is. Al die soesji-kondimente is daar; op die rakke is meer gegeurde tee as wat ek nog by enige plek gesien het; vrugte uit Indonesië en Viëtnam pryk in die yskaste; en die wynwinkel spog met ‘n glasswaard vol brandewyn sowel as limoncello uit Amalfi, Italië.

By die kosmark langsaan – in ou Sowjet vlugloodse – is kaviaar te kus en te keur, vars  pienk salm en gerookte vis sowel as groentepiekels en baie gerasperde kool. In Stockmann is almal opgedres met blink juweliersware en stiletto-hakke. By die mark slof ou tannies wat hul sente tel en mans slinger vroegoggend met ‘n bier in die vuis.

Gedroogde en gesoute vis blyk verskriklik gewild te wees

Moderne Letlanders is – met reg – trots op wat die land bereik het. Hulle is amper obsessief oor dit wat nuut is, dit wat internasionaal is, dit wat ín is. By ‘n skoonheidsalon raai die bestuurderes ons af om na die Skyline Bar by die Radisson te gaan. Dis ou-styl, sê sy. Dit bestaan al van voor hul bevryding. Dit alleen is genoeg rede om nie te gaan nie. Boonop het die Russe soontoe gegaan.

Ou Riga het baie meer te bied – desnieteenstaande die Britse rampartytjies – as Nuwe Riga. Nuwe Riga het bekende Art Nouveau-strate soos Elizabetes en Alberta asook Vincents restaurant waar George Bush, Prins Charles en Elton John al was. Darem nie aan dieselfde tafel nie. Ou Riga het die atmosfeer; die argitektuur (soms te klinies of modern gerestoureer) en die outentisiteit – en  natuurlik die romanties verligte brûe.

Vroegaand is daar min mense op straat, maar laataand is 'n ander storie

As jy Riga toe gaan, en nie na die Latvian Museum of Occupation toe gaan nie, moet jy jou kop laat ondersoek. As jy nie met dikgehuilde oë uitloop nie, moet jy ook jou kop laat ondersoek. Wat my die meeste bybly, is dat 45 miljoen mense van die Oos-Blok in geforseerde werkskampe in Rusland was vyf-en-veertig miljoen!

Om jou te help vergeet, kan jy altyd skoene in Riga gaan koop! Stewels, stewels, stewels.

Ou Letlanders werk hard, want hulle weet waaroor swaar tye gaan. Jong Letlanders werk minder hard, want die lewe was tot dusver vir hul makliker. Of so lyk dit. Maar natuurlik is dit nie so eenvoudig nie.

Die ou tannies brei of hekel alles self

Riga is soos ‘n outydse boks sjokolade – ‘n bietjie van dit, ‘n geurtjie van dat, ‘n harde neut, ‘n taai toffie…

Óf die Russiese gunsteling, die Skyline Bar, óf Kalku Vărti met spieëlmosaïek teen die muur en toonbank, en oorgrote filigreinpanele. Of die Letlandse Stuttafords genaamd Stockmann of die deurmekaar buitelug-kosmark. Nou straatjies in Ou Riga, breë boulevards in Nuwe Riga. Kerke wat jou ‘n knop-in-die-keel gee in beide Ou en Nuwe Riga.

Aan die een kant van Liv-plein is ‘n spa-salon waar die dames jou vriendelik inroep sommer net om te kyk en om baie entoesiasties met die “eerste Suid-Afrikaner wat hul nog ooit ontmoet het” te gesels. Dis tiperend van jong Letlanders se lewenslus.

By die Sentrale Mark het die mense hul vryheid gevier

Aan die oorkant van dieselfde plein is Ampir, voorheen bekend as Nostalgija. Nostalgija was die enigste plek wat die waagmoed gehad het om Sowjet-dekor te gebruik om met die vorige bedeling te spot. Teen die plafon is Ou Meester-geïnspireerde skilderye wat die Russiese onderdrukking uitbeeld. Dalk het die Letlanders noual belangstelling in hul vorige onderdrukkers verloor vandaar die naamverandering en die verweerde matte. Bedags kan jy ‘n glas sjampanje hier drink; saans swaai ‘n visioen in pienk visnetkouse aan ‘n paal.

Bitterder as gal is Baltic Black Balsam, maar jy kan nie totsiens wuif aan Riga as jy dit nie geproe het nie. Al die Baltiese lande het hul eie tradisionele kruie-likeur, maar Letland s’n is die swartste en die bitterste. Priekă (gesondheid), soos hulle in Letland sê.

 

RESTAURANTE IN OU RIGA
·        Dorian Gray – hierdie stil plekkie is amper weggesteek, en meer onbekend, en ons was spyt ons het dit nie vroeër ontdek nie; die ligte maaltye is besonder uitstekend
·        Alus Seta – ‘n tradisioneel Letlandse restaurant waar die werkersklas altyd geëet het; hier word ‘n buffet trooskos bedien en jy betaal per gewig; dis uiters bekostigbaar en daar is van varkvleis tot borscht (beetsop) asook verskeie groentes en slaaie
·        Del Popolo – as jy dalk lus vir Italiaanse kos kry terwyl jy in die Oos-Blok is
·        1221 – die vooraansig het ‘n Bauermalerei-gevoel; die restaurant is baie gewild onder die professionele mense van Riga; en dit lyk of die geverfde koei vir jou knipoog as jy binnestap

 

Knus hotelle in Ou Riga
·        Hotel ekes konvent
·        Konventa seta

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 25, 2017 by in Europa and tagged .