ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Oom Olifant, jou reusedier

First published in Die Burger, August 2016

Gekrulde slurp

Die son sak en die olifante kom water toe

Dit was Wêreld-Olifantdag op 12 Augustus 2016.

Wêreld-Olifantdag vind jaarliks internasionaal plaas ten einde die beskerming en voortbestaan van olifante in Afrika en Asië te bevorder en in die kalklig te plaas. Die eerste Wêreld-Olifantdag het op 12 Augustus 2012 plaasgevind.

Die Kanadese filmvervaardigers Patricia Sims en Michael Clark van Canazwest Pictures en Sivaporn Dardarananda, die sekretaris-generaal van die Elephant Reintroduction Foundation in Thailand, het oorspronklik met die idee vorendag gekom.

Met ‘n besoek aan Hwange Nasionale Park en Mana-poele Nasionale Park in Zimbabwe het ‘n rympie uit my kinderdae egter eerste by my opgekom. In fluisterstemme is in ons voertuig opgesê: ‘Oom Olifant, jou reuse dier, die mense lag vir hul plesier, want waar het jy al ooit gehoor, van ‘n dier met ‘n stertjie van voor, en ‘n stertjie van agter?’

Dit was ‘n seëning – én plesier – om hordes in Hwange en‘n groot kalant tydens ‘n kampbesoek aan Mana-poele van naderby te beskou.

Ons is met totale ontsag vervul. En tegelykertyd voel jy mateloos hartseer as jy daaraan dink hoeveel olifante vir hul ivoortande – en soms ook vir hul vleis, leer en liggaamsdele – gestroop word. Die meeste ivoor beland in Asië – veral China – waar dit as ‘wit goud’ beskou word.

Om nie eers daaraan te dink dat daar in die tyd waarin ons vandag leef nog mense is wat olifante as trofeë skiet nie.

Van kleintyd af hoor ‘n mens dat iemand ‘’n geheue soos ‘n olifant het’. Dis nie al menslike kenmerk van olifante wat uitstaan nie. Hulle is hoogs intelligent en baie sosiale diere. Navorsers van olifantgedrag het bevind dat hulle saamwerk, meegevoel betoon, mekaar naboots, by mekaar leer en met mekaar speel, en rou as hul ‘n maat of kalf verloor.

Hwange Nasionale Park, voorheen bekend as Wankie, is Zimbabwe se grootste wildreservaat en is in 1928 die lewe ingeroep. Dis Zimbabwe se Kruger Nasionale Park as jy ‘n vergelyking wil tref.

Hwange is in die weste van Zimbabwe, tussen Bulawayo en sowat 100 kilometer vanaf die Victoria-watervalle, geleë. Saans kan jy by die watergate soos by Masuma Dam honderde en honderde olifante sien. Soos wat die son sak, kom daar net meer en meer aangekruie. Grotes, kleintjies, bulle, koeie, en baba-olifantjies wat met hul slurpe aan ma vashou.

Dan word daar water oor stowwerige rûe uitgespuit en met slurpe opgesuig kompleet asof skemerkelkietyd aangebreek het.

Dit is dus geen wonder dat ‘n mens gereeld lees dat daar te veel olifante in Hwange is en dat die habitat nie die getalle kan onderhou nie. Tydens droogte is die probleem nog erger.

In 2014 het Elephants without Borders ‘n lugtelling gedoen en bevind dat daar 44 000 olifante in Hwange op daardie tydstip was. Deskundiges verskil oor hoeveel olifante lewensvatbaar in Hwange sou wees. Sommige glo dat een olifant per vierkante kilometer lewensvatbaar is; dit sou beteken dat na 14 000 olifante gekyk moet word.

Mana-poele Nasionale Park is op die oewer van die Zambesirivier geleë en is as Unesco-wêrelderfenisterrein verklaar. Die woord mana beteken vier in Sjona, een van die plaaslike tale wat hier gebesig word. Die getal verwys na die vier binnelandse poele water wat hier aangetref word.

By Mana-poele kom die olifante soms nonchalant water drink

By Mana-poele kom die olifante soms nonchalant water drink

Mana-poele is net-net meer as 2000 vierkante kilometer groot en is onder andere bekend vir hul olifante insluitende dié wat aangeleer het om op hul agterpote te staan om saadpeule by te kom. Dít het ons ongelukkig nie te siene gekry nie, maar was gelukkig genoeg sowat ‘n uur binne amper handreikafstand vanaf ‘n groepie deur te bring. Hulle het onversteurd in die oewerwoud digby ons rondbeweeg terwyl hulle onophoudelik alles wat groen is, met hul slurpe in hul monde gedruk het.

Later daardie selfde dag is ons vergas met ‘n besoek van ‘n reuse olifant wat in die kamp kom wei het. Daarvóór is Mana-poele ook bekend.

Lees meer:

* Ondersteun Wêreld-Olifantdag:

  www.worldelephantday.org

* Wat om by Hwange te verwag:

http://www.zimparks.org/index.php/parks-

overview/national/hwange

* Wat om by Mana-poele te verwag:

www.zimparks.org/index.php/parks-

  overview/national/mana-pools

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 21, 2019 by in Afrika and tagged .