ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Sterrekyk in die Karoo, my broe

First published in Die Burger, July 2016

Spitsverkeer in die Karoo

Spitsverkeer in die Karoo

Daar word – deur Hans en Tilanie Daehné – vertel dat Prins Albert nie net die groen oase van die Karoo is nie, maar dat ‘n mens beter hier kan sterre kyk as op enige ander plek in die land.

Nee, nee, ons gaan nie ‘n streep in die sand trek en (‘n) ander dorp(e) tot ‘n tweegeveg uitdaag nie. Daar’s ‘n plekkie vir almal onder die son, of soos in hierdie geval, onder die sterrehemel.

Dis by verre nie al wat jy by die Daehné-egpaar hoor as jy een van hul drie Astro-Toere doen nie. Dan praat ons nog nie eers van dit wat jy te siene kry nie. Dis asof die hemele – weliswaar sonder ‘n engelekoor – vir jou oopgaan.

Hans Daehne is passievol oor sterrekyk en om te deel wat hy daaroor weet

Hans Daehne is passievol oor sterrekyk en om te deel wat hy daaroor weet

Hans en Tilanie was beide biokinetici, maar reeds van jongs af het hulle in astronomie belanggestel en dit as ‘n stokperdjie beoefen.

Kort na hul troue was Hans ietwat skepties oor die persoon met wie Tilanie saans buite in die tuin oor haar foon gepraat het. Toe hy haar skelmpies afluister, kom hy agter dat die gesprekke met wyle professor Floors van Jaarsveld gevoer word. Hulle het oor sterre gepraat, en die vonkel in haar oog was eintlik oor dit wat sy in die hemelruim leer raaksien het. Haar belangstelling in die sterre was aansteeklik.

Die Daehné’s bedryf al die afgelope elf jaar na hul aftrede Astro Tours in Prins Albert. Daar’s meer sterre in Prins Albert as stadsliggies in Kaapstad, vertel Hans entoesiasties. Ons groepie is teen hierdie tyd so meegevoer dat almal spontaan hande klap. Dís wat ‘n aand van sterre kyk saam met Astro Tours aan jou doen.

Prins Albert is uiters geskik vir sterre kyk, want daar’s eerstens minimale ligbesoedeling en tweedens is daar baie min bewolkte dae. Vyf uit sewe aande is helder.

Voor ons onsself na buite begewe, berei Hans ons voor op wat ons gaan sien. Sy ‘planeetfamilie’-foto roep die gedig ‘Die Ster’ deur Elisabeth Eybers op:

“En tog vertel hul my,

dis seker en gewis

dat één

fyn sterretjie alleen

‘n hele wêreld is.

O wêreld, groter as

die omvang van my gees

verklaar

my, as dit werklik waar

is, wat sou ék dan wees? …

Terwyl Hans praat, hang ons aan sy lippe.

Hoe bepaal‘n miskruier rigting? Deur die Melkweg in die nag en die son bedags. Dis bewys deurdat misbruikers as eksperiment na die planetarium geneem is. Terwyl die sterreliggies afgeskakel is, stoot die miskruier sy misbol in ‘n sirkel, skoon verdwaal. Maar as die son ‘skyn’ of die sterreliggies brand, beweeg die miskruier doelgerig in ‘n reguit lyn.

Hoe onthou jy die Engelse name van die diereriem? Jy leer die wysie “A Tall Gentleman Called Leo Very Likely Skimmed Some Milk And Partook…”. Gebruik nou die eerste letters van elke woord om die sterrebeelde te onthou: A staan vir Aries, T staan vir Taurus, G vir Gemini en so aan.

Michele check die son uit

Die geel brilletjie is vir beskerming as jy na die son kyk

Terwyl ons nog al die inligting verwerk, bondel ons saam om langs‘n stofpad in die Karoo-veld die sonsondergang tesame met die eerste sterre van die aand te gaan beskou.Tilanie deel sjerrie en versnaperinge uit; elkeen kry ‘n spesiale brilletjie en siedaar, ons sien ‘n oranje son so duidelik soos daglig.

Terug in die dorp stel Hans sy enorme teleskoop op en elkeen kry keer op keer ‘n beurt terwyl die geheimenisse van die heelal aan ons uitgewys word. Ons wens die aand se verrigtinge wil nooit ophou nie.

Wat het die Suiderkruis met ses kameelperde te doen? Wat sal Galileo in sy graf laat omdraai? Waarna kyk jy as jy jou verbeel ‘n krokodil sluk die son in? Waar sien jy ‘n teepot in die lugruim? Wat word tans ten opsigte van sterre kyk in Chile beplan?

As jy jou eie sterrekyk-aand bespreek, sal jy die antwoorde hierop – en veel meer – kry.

Soos een van my reisgenote tereg opgemerk het: Dís nou (sterrekyk in) die Karoo, my broe.

As die sterre roep
·        Bespreek by en lees oor: www.astrotours.co.za
·        In Prins Albert is die Swartberg Hotel in die hartjie van die dorp. Jy kan kies tussen enkel- of dubbelkamers in die hoofgebou of ‘n kothuisie in die lushof van ‘n tuin. As jy na die teleskoopsessie ‘n drankie in die kroeg wil geniet, sal jy vooraf moet reël; die kroeg word soms goedsmoeds toegemaak selfs al is daar ‘n groepbespreking in die hotel self. Kyk na: www.swartberghotel.net
·        As jy nie in Prins Albert self oorslaap nie, is Olive Grove Gasteplaas ‘n uitstekende opsie om te oorweeg. Die gasteplaas is 20 kilometer vanaf Beaufort-Wes. (Kyk na:  www.astrotours.co.za/index.php/tours/50-tour2) Behalwe sterrekyk, kan jy by Olive Grove bergfiets ry, die Porcupine Trail loop, op ‘n plaastoer gaan, die dam met ‘n kano aandurf en voëls kyk. Verblyf is beskikbaar in die Mountain View selfsorg-kothuise of Olive Orchard gastekamers. By die Olive Shop is van die plaas se eie olyfprodukte beskikbaar.Moet nie die geleentheid om in die Lombaardskraal-boma te braai, misloop nie. Alles wat jy nog wil weet, is by: www.olivegrove.co.za
·        Prins Albert is ‘n olyfdorp. Maak ‘n draai by Swartrivier Olyfplaas waar ‘n verskeidenheid van produkte beskikbaar is; olyfborde kan vir middagete geniet word; en jy kan vooraf ‘n olyfproesessie bespreek.Die diens is uiters professioneel en jy kan oor ‘n deel van die vallei uitkyk. Kyk na: www.princealbert.org.za/farms/olives/swartrivier/

 

·        Terwyl jy nou in die omgewing is, moet jy nie vir Beaufort-Wes (die tuisdorp van wyle Chris Barnard wat die eerste hartoorplanting gedoen het) ligkyk nie. Op die dorp se webtuiste (www.beaufortwest.net) is ‘n lys van 27 doendinge in die dorp en omgewing. By www.africankombitours.com/guided-tours/kombis-donkey-cart-tours/ kan jy ‘n Kwa Mandlenkosi Kultuurtoer op‘n donkiekar bespreek. Wees daarop ingestel om altyd te kyk of die donkies wat gebruik word, in goeie kondisie is en goed behandel word. Jy kan ook ‘n fiets en ‘n gids by mandlenkosibicycletours@gmail.com bespreek.
·        As jy iets anders soek om te doen of ‘n nuwe plek wil verken, loer na: www.facebook.com/discoverctwc?fref=ts vir nog baie ander idees en bestemmings.

 

3 comments on “Sterrekyk in die Karoo, my broe

  1. Tannie Frannie
    April 29, 2019

    Daardie eerste foto is so treffend!

  2. Selma Ohlsson
    April 29, 2019

    Nothing like the big open Karoo spaces and the vast sky above! Just perfect!

  3. ilsez
    June 13, 2019

    It’s been a while but it has made such an impression on me that I’m still recommending.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 28, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .