ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

DIE KOEËL IS DEUR DIE KERK(IES)

First published in Die Burger, April 2014

‘n Kerkie as’t ware in miniatuur vat ‘n mens aan die hart. Selfs al word kerkgeboutjies soms vir ander doeleindes ingespan, is die gewyde atmosfeer steeds daar. ‘n Stukkie van wat eens was, bly agter. So asof dit in die gesteentes en balke ingenestel het.

Span die seile en steek die kerse op

DSC_2312

Die kerkie by die Old St Mary’s School in Woodstock weet hoe om sy seile na die wind te hang.

DSC_2206

Met die instap by die ou kerkie lyk dit bokant jou soos die sterrehemel in die Karoo. Die sterretjies – of liggies – is net nader aan mekaar. Tussen al die hang- en tafelkandelare staan Jesus-beelde met doringkranse en heiliges met bidsnoere en gebedekrale terwyl modelseilskepe in vergulde spieëls weerkaats.

Net één hoekie is hemelsblou – ‘n enklawe wat ‘n geboë hoof regverdig.

DSC_2222

Binne heers beligting, ikonografie en skippies; buite is die binnehof  tot boordensvol toe vol met gietystermeubels – die ene krulletjies en draaitjies – en fonteine sowel as ou deure, vensters en rame; marmertafels, gegote deurstoppers, en nog engele.

DSC_2316

Vanaf Argentinië, Morokko en Indië word versamelaarsitems na eie bodem gebring sodat jy ‘n tikkie van die glorie van die hemel in jou eie huis kan inbring.

DSC_2322

 ‘n Tikkie Grieks in Onrus

Rondom die kerkie is welige plantegroei

Jy moet wéét waar anders gaan dit maar knor om die kapel(letjie) van Sint Lukas in Onrus op te spoor. Sint Lukas is die beskermheilige van geneeshere en kunstenaars.

Dis asof daar 'n lig uit hierdie ikoon straal

Die effens toegegroeide kerkie is een van die kleinstes in Suid-Afrika. Dit is in privaatbesit, maar kan vir troues, doopseremonies en begrafnisse bespreek word.

Beskou jouself as geeerd as jy die kerkie se deure van binne kan sien

Slegs twaalf mense kan gemaklik inpas, maar die Stellenbosch Koor het dit al reggekry om 24 koorlede binne-in te laat sing. Een egpaar wat in die kerkie getrou het, het onlangs ook hul tweede spruit hier laat doop.

Verskeie ikone hang omtrent ooghoogte in die kapelletjie

Hierdie einste kerkie is op 14 Mei 1983 deur die hoogeerwaarde Aartsbiskop Pavlos Varnavas van die Grieks-Ortodokse Kerk in Woodstock, Kaapstad beheilig.

lein en eenvoudig behalwe vir talle ikone

Wyle Jack van Rensburg – ‘n argitek van Pretoria wat vertroud met Griekse boustyle was – het die kerkie ontwerp. Aan die noordelike kant is ‘n bankie ingebou sodat ‘n priester volgens gebruik daar kan sit en as bemiddelaar in die gemeenskap – wat op die geronde muurtjie aan die oorkant plaasneem – kan optree.

Klein venstertjies weerkaats die sonlig

Die binnekant is eenvoudig wit; om en by ooghoogte teen die muur is ‘n verskeidenheid van ikone.  Die aartsbiskop van Thessaloniki het ‘n houtkruis geskenk en daar is steeds besoekers wat so aangeraak deur die kerkie is, dat hulle terugkom om ‘n ikoon te skenk.

Mense wat al hier was, dra gereeld ikone aan om by die versameling te voeg

 Die beskermheilige van wynmakers

Slegs een keer per jaar – so om en by die derde week in Januarie – word Die Fees van St Vincent van Saragossa in die St Nicholas Katolieke Kerkie in ‘n systraatjie van Stellenbosch gehou.

St Vincent is die beskermheilige van wyn(makers). Volgens legende het St Vincent eendag lank gelede met sy donkie gestop om met ‘n wingerdboer te gesels. Die donkie – heel moontlik verveeld met die geselskap – het aan die wingerd begin peusel. In die daaropvolgende jaar het die wingerd baie beter gedra en van toe af het die gebruik om wingerd te snoei, ontstaan. So word daar vertel.

In 2014 het die seremonie eintlik die lewe – as geskenk aan ons – gevier. Die besoekende priester het Jesus – met die grootste respek – as “partytjiedier” bestempel; water is per slot van sake in wyn verander en in Amos word voorspel dat die volk Israel “wingerde (sal) plant en die wyn daarvan drink”.

Die misterie agter die ontdekking van wynmaak is stap vir stap beskryf; uit die Wêreldatlas van Wyn is aangehaal; die kerk is versier met wingerdlote; Nagmaal is bedien. Die rooi jurke van die priesters het aan purper klede herinner; heilige water is gesprinkel; wyn is deur almal teenwoordig aan die priesters van die kerk geskenk.

Op ‘n heuwel in Hemel en Aarde

Die betekenis van Ataraxia is lig op die gemoed – dit verwys na sielerus. Dit kom vanaf die Griekse woord ataraktos. Om “untroubled” te wees, lees ‘n mens op die agterkant van hul etiket.

Om sereen te voel en geen probleme te hê wat soos ‘n swaar wolk bo jou hang nie. As die lewe maar so kon wees…

Ja, selfs met sy eie klok

Dalk is dit net mooi wat Kevin en Hanli Grant nagestreef het toe hulle besluit het om ‘n Overbergse kerkie te bou wat as wynproelokaal dien. Dis vér op in die vallei sodat jy voel of jy in jou eie stukkie hemel is.

Ataraxia se kerkie is Elmarie Pretorius se domein

The Wine Lounge, soos wat die wynproelokaal heet, is eklekties – glad nie soos ‘n kerkie nie – ingerig: abstrakte kuns van Tay Dall; spookstoele, gemaklike rusbanke, koeikussings en pers orgideë. Jy voel inderdaad onverstoorbaar as jy hier in hul wynsitkamer kom aansit om wyne van gehalte te proe.

Net van buite herinner die gebou aan 'n kerkie; binne is die mure behang met kuns van Tay Dall

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 8, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .