ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dagekspedisie – KAPPITYT IN KALKBAAI

 

First published in Die Burger,  October 2011

As jy nog nie in Kalkbaai was nie, moet jy dadelik 'n plan maak

Kleurvolle Kalkbaai is ‘n inspirasie

Daar’s geen ander plek soos Kalkbaai om ‘n dag te spandeer vir ronddrentel en eet en vergaap en geniet nie. As jy in die Wes-Kaap woon en jy het dit nog nooit gedoen nie, moet jy maar liewer vat-jou-goed-en-trek-Ferreira. Andersins moet jy ‘n plan maak om juis dit hierdie komende naweek te doen.

Niks wat jy in Kalkbaai koop, is voorstedelik of vervelig nie

Kalkbaai mag dalk op die oomblik (en daardie oomblik hou al lank aan)  padwerke hê, maar moenie dat dit jou afsit nie. Kalkbaai doen steeds sy ding en hoewel besigheid ietwat afgeneem het, het Kalkbaai niks van sy sjarme verloor nie. Ruim net ekstra tyd in om met Boyes-rylaan uit te ry, en af en toe te wag met die inry. Kyk regs na die see en raak opgewonde oor wat wag.

Kalkbaai is weliswaar ‘n paar blokke lank en breed, maar in daardie paar blokke kan jy inkopies doen tot jy omval; vars vis eet; skemerkelkies drink terwyl die son nog hoog sit; geïnspireer raak om jou huis oor te doen; en dán het jy nog net ‘n paar uur verwyl.

Varser kry jy nie sommer nie

Kalkbaai se outentieke hawe is nie jou eerste, of tweede of derde, aandoenplek nie, maar jy moenie uit die oog verloor dat jy hier óf die varsste vis en tjips òf die koelste seekos a la carte in die Skiereiland kan eet nie. Hou jou horlosie dop en bespreek vooraf. As jy avontuurlustig is, kan jy op ‘n visvangekspedisie gaan sonder dat jy jou eie aas hoef saam te neem.

Kalky’s se vis is skaars uit die see voor dit op jou bord beland. By Live Bait sit jy by groot vensters wat op die kaai uitkyk. Net agter Live Bait kan jy van tjipsrolletjies tot ‘n Lucky Fish-bord bestel terwyl jy na die vuurtoringfoto’s teen die muur kyk. As die son sak, is Polana gepak. Harbour House is die grênd deel van die familie – die spyskaart spog met Weskus-mossels, ‘n gerookte salmsushi-toebroodjie, kreef Thermidor en Namibiese lendeskyf.

Moenie jou sente tel nie

Vóór middagete moet jy verkieslik ‘n beursie tot barstens toe vol hê of ‘n ernstige onderneming om nie te begeer en in te gee nie. Kalkbaai inspireer; dus wees voorbereid daarop dat jy jou meubels gaan herrangskik as jy by die huis kom of jou serpe voor die spieël op ‘n ander manier gaan probeer prakseer.

As jy eers by die Kalk Bay Garden Shop ingedrentel het, gaan jy wonder hoekom jou tuin so leweloos vertoon of jy gaan jou kombuisrakke deursnuffel vir iets waarmee jy jou tuin kan opkikker. Die ander alternatief is ‘n sonvanger of ‘n string klokkies wat jy sommer net aan ‘n boom hang en dit kry jy sommer by ‘n hele paar winkels in Kalkbaai te koop.

Daar’s oorspronklike kuns en geykte kuns op toeriste gemik; daar’s ou kombuisgoed en nuut ontwerpte modes; daar’s Indiese klere in Indiese kleure; daar’s verweerde boeke, en ingevoerde krale by Global Beads. Jy kan leer mosaïek by Studio Tylo of jy kan besluit om alles wat jy nodig het, hier te koop en tuis gekom, kan jy self eksperimenteer.

Whatnot and China Town is die mekka van ou porselein – die vertrekkies voel soos ‘n kleurvolle labirint waar jy nooit alles in een besoek kan bekyk nie. By Belle Ombre Antiques is die eienaar vriendelik, die begeer groot en die verskeidenheid nog groter. Kalk Bay Trading Post is oorvol en hul voorraad sluit ou boeke en plakkate in.

Artvark is in ‘n loodgrys gebou en hul ware is net so oorspronklik soos hul naam. The Potter’s Shop and Studio is ‘n keramiekgalerytjie  ‘n blok agter die Hoofstraat waar daar al vir jare altyd iets moois te kyk en te koop is. Kalk Bay Books laat jou jeuk om te lees.

Kalk Bay Quarter is ‘n regte krapwinkel – agter die kasregistertoonbank loop ‘n geteëlde trap na bo en hier is boonop goeie tweedehandse boeke te koop. Papagayo en Gypsy is kleurfeeste en beide maak die hippie in jou wakker. Quagga koop en verkoop Africana, boeke , kuns en enigiets ongewoons.

Jou droomrok hang waarskynlik by Mystic Rose of ‘n paar deure verder by Mythology. Frankie’s Vintage Chic laat jou voel asof jy die oggend in ‘n systraatjie van Parys spandeer. Oh So Boho pas in by die algemene boheemse gevoel wat in Kalkbaai heers. Tainted Love verras deurgaans.

Draai in elke stegie af

‘n Oranjegeel stegie wink jou na binne. Op die broekiesleis spel pienk letters Memory Lane en The Cook’s Room in hierdie stegie roep jou ouma se kombuis op. En haar ouma s’n. Die volgende stegie is bleektandvleispienk en met ‘n naam soos The Vogue Bungalow moet jy eenvoudig instap om te gaan kyk wat binne te kry is. Big Blue klink nie eksoties nie, maar hier is al vir jare altyd iets anders te kry; kyk uit vir die silwer vark in die venster.

As jou inkopiesakke swaar raak, is Octopus’ Garden net die plek vir ‘n drinkdingetjie. Pseudo-wyshede soos “It’s deep how you can be so shallow” is orals teen die mure geskryf. Dis dalk ‘n entjie se stap van die winkeltjies, maar hierdie seekattuiste verdien om gesien te word.

As dit aand raak

As jy nie te ver hoef terug te ry nie, moet jy nie ‘n vertoning by die Kalkbaai Teater misloop nie. Eens ‘n ou kerksaaltjie, nou’s dit ‘n knus teater waar jy voor die vertoning lamspastei of Bo-Kaapse kerrie kan eet. Na ete stap jy met jou glas wyn na onder om jou plek in te neem.

Teater1

Eintlik het ‘n mens ‘n paar aande in Kalkbaai nodig. Sê nou maar ‘n langnaweek. In die winter slaan die branders teen die Brass Bell se vensters en in die somer lek jy jou vingers af in die son. Olympia Café het Portugese tertjies, die beste ciabatta in die Skiereiland en die wonderlikste tuna met sesamesaad vir middagete. Cape to Cuba spog met ‘n nuwe Hemingway Bar.

Kalkbaai het meer as ‘n tikkie boheemsheid en oorgenoeg flair; tog is ‘n goeie skeut rustigheid bygeroer. Gaan ontdek jou innerlike hippie hierdie naweek in koel Kalkbaai.

Psychic

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 14, 2017 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .