ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Vat so, katvis!

First published in Rapport, October 2020

‘n Glimlaggende visverkoper hou die vis omhoog wat sy raakgevang het

Pasop! Hier trek ‘n rou vis deur die lug! Koes!

Koes weer! Hier kom nog een! Om jou word gegil en jil; die ander toeskouers  skaterlag en skree aanmoedigend om die beurt.

Reusekrappe by die vismark

As jy by Pike Place Market in Seattle, in die noorde van die VSA, aandoen sonder dat jy weet dat dié boeremark bekend is vir visgooiery – van alle dinge! – gaan jy dalk met die instap soos ‘n vis op droë grond voel…

Die dag as die vis byt

In die laat 1800’s was Seattle maar taamlik rof en tjommel, maar dié stad was tog besig om met rasse skrede te groei. In die dekade van 1890-1990 het Seattle se bevolking amper verdubbel – van 42 000 tot 80 000 siele. Goudsoekers, houtkappers, vissermanne, skeepsbouers en handelaars het na Seattle gestroom.

In die 1980’s was die Pike Place-vismark na aan bankrotskap; na die FISH! Philosophy begin volg is, is daar flink besigheid gedoen

Baie van die omliggende streke se boere het vrugte, groente, vleis en suiwelprodukte met perdewaens aangery waar dit deur groothandelaars aangekoop is om weer verkwansel te word. Omdat die boere gereeld ingeloop is, het een van Seattle se stadsraadslede, Thomas Revelle, voorgestel dat grond vir ‘n openbare mark beskikbaar gestel moet word sodat boere en verbruikers direk kon onderhandel.

Naas vis en seekos is Pike Place-mark propvol groente, vrugte en blomme

Op 17 Augustus 1907 het Pike Place-mark sy spreekwoordelike deure oopgegooi. Dit maak Pike Place-mark die oudste plaasmark in Amerika wat ononderbroke besigheid doen.

Pike Place Market is die oudste plaasmark in Amerika wat ononderbroke handel dryf

Op Dag 1 was daar 10 boere. Die eerste boer was binne enkele minute uitverkoop. Daar was egter duisende klante wat van die beplande mark in die Seattle Daily Times gelees het. ‘n Week later was daar 70 boere met volgelaaide waens. Teen 1930 was daar 600 boere wat gereeld handel gedryf het.

Dit was nie lank nie of bakkerye, slaghuise, viswinkels, bloemiste en restaurante het hulle by die boere aangesluit.

Toe die vismark begin handeldryf het, was hulle buite, maar nou is hulle knus binne in die hoofgebou

Mettertyd is geboue opgerig sodat die boere onderdak kon besigheid doen.

In 1930 het die Pike Place-mark verder uitgebrei toe die vismark as ‘n buitelugmark tot stand gekom het. In 1965 het ‘n voormalige werknemer genaamd John Yokoyama die eienaarskap van Pike Place-vismark oorgeneem. Met die inkomste hieruit wou hy sy nuwe Buick afbetaal.

Pike Place-vismark is al aangewys as een van die top 3 prettige plekke om in Amerika te werk

Na dekades van flink besigheid het die gewildheid van die vismark begin taan. Teen 1986 was Pike Place-vismark na aan bankrotskap.

Yokoyama en sy span visverkopers het ‘n sakekonsultant ingeroep. Saam het hul begin planne beraam. Een van die visverkopers het lukraak voorgestel: “Kom ons red nie net ons besigheid nie; kom ons word wêreldberoemd.”

Die vis was aan die hoek!

Die span by Pike Place-vismark het met idees vorendag gekom soos om visse te laat “vlieg”, spelenderwys besigheid te doen en klante te terg.

Minder as vyf jaar later – in 1991 – het die nuuskanaal CNN Pike Place-vismark aangewys as een van die drie prettigste plekke om in Amerika te werk. Van bankrotskap was daar al lankal nie meer sprake nie.

In 1998 is ‘n dokumentêre film geskiet sowel as ‘n boek geskryf oor die Pike Place-vismark en hul besigheidsfilosofie wat as FISH! Philosophy (www.fishphilosophy.com/fish-philosophy-story/) begin bekendstaan het.

Grotendeels as gevolg van die FISH! Philosophy het die Pike Place-vismark al in talle TV-reekse, advertensies en die fliek Free Willy verskyn.

Die FISH! Philosophy is deur ‘n dokumentêre filmmaker, John Christensen, verwoord en verfyn. Sedertdien word die FISH! Philosophy-werkwyse regdeur die wêreld toegepas en vorm dit deel van die leerplan by talle universiteite en kolleges. Nie net besighede nie, maar ook sommige Amerikaanse hospitale en onderwysers skoei hul werkwyses op FISH! Philosophy.

                                                                   ***

Die 4 beginsels van die FISH! Philosophy

  1. Kies jou houding
  2. Speel!
  3. Maak iemand se dag (beter)
  4. Geniet elke oomblik van wat jy doen (en sorg dat dié rondom jou dit ook geniet)

                                                                   ***

Hoe werk dit by Pike Place-vismark?

Die eerste ding wat jou tref – hopelik net figuurlik gesproke – as jy by Pike Place-vismark instap is die polsende energie en ‘n gevoel van opwinding wat in die lug hang.

Jy soek verniet na ‘n galjoen op Pike Public Place Market

Jy staan nog so, dan trek ‘n glibberige rou vis verby jou oor. Die geskreeu wat jy hoor is die visverkopers, geklee in knaloranje oorpakke en wit waterstewels, wat die details van elke visbestelling vir mekaar skree. Die visverkopers  gooi die gladde visse vir mekaar, en soms vir ‘n niksvermoedende klant wat die gebeure met die nodige entoesiasme dophou. Partykeer smyt hulle ‘n nagemaakte sponsvis na ‘n toeskouer se kant toe, net om hulle so ‘n bietjie skrik te maak.

Bokant die visstalletjies hang ‘n waarskuwingsbord: Pasop, visse vlieg laag hier!

Die lewensvreugde waarmee elke werksdag by Pike Place-vismark gepaardgaan, het – voor inperkings wêreldwyd – 10 miljoen besoekers per jaar gelok.  

Baie van die produkte wat by die Pike Place-mark verkoop word, kan ook verskeep word

                                                                ***

Hoe kan jý die FISH! Philosophy laat werk?

Die hoofkonsep van die FISH! Philosophy is om jou besigheid of jou werk positief te benader en ander te motiveer om óók positief deur die lewe, en hul werksdag, te gaan.

Die nasionale psige van Suid-Afrikaners is meer gereserveerd, en in baie gevalle meer sinies daarby, as dié van die meeste Amerikaners. Daarom sal ons in Suid-Afrika heel moontlik ons huidige werkswyses op die FISH! Philosophy skoei, maar die nodige aanpassings maak wat ons meer gemaklik in ons eie vel sal laat voel.

  • Kies jou houding: Kies ‘n positiewe uitkyk, eerder as ‘n negatiewe uitkyk. Vir die visverkopers van Pike Place-vismark kan dit ook nie elke dag maklik wees nie: die vismark is koud en nat en hulle doen dieselfde ding oor en oor.

Konsentreer op dit wat jou werk die moeite werd maak. Dit help om te onthou dat te veel mense reeds in die pandemie hul werk verloor het. As jy nog jou werk of jou besigheid het, is jy een van die gelukkiges.

  • Speel!: Genoeg speelsheid in jou lewe sorg dat jy meer gereeld lag. Dit hou jou jonk of jonger. Dit help jou om positief te bly en dit sorg vir meer pret van dag tot dag. Hoe meer energie jy uitstraal, hoe meer energie het jy tot jou beskikking; en wek jy in ander op.
  • Maak iemand se dag (beter): Die ou spreekwoord lui nie verniet nie: Om te gee is beter as om te ontvang. Veral in die inperkingstyd, wat mense op verskillende maniere hanteer, is ‘n opbeurende boodskap, ‘n pakkie by die hek of in die posbus of ‘n geniet-jou-dag-verrassing op ‘n lessenaar van meer waarde as in enige ander tyd.

Werkgewers behoort ‘n punt te maak om werknemers gereeld attent daarop te maak as hulle ‘n werkstaak uitsonderlik verrig het. Dit sal op sy beurt tot ‘n meer positiewe werkskultuur (sien beginsel 1) binne die organisasie lei.

  • Geniet elke oomblik: Sorg dat elke oomblik tel. ‘n Deel van dieFISH! Philosophy is om jou volle aandag te gee aan elke klant wat voor jou staan.

Dié beginsel laat die visverkopers munt slaan – nié net finansieel nie – uit elke interaksie. Dit laat die klant goed voel, deels omdat hulle onverdeelde aandag van ‘n ‘diensverskaffer’ kry.

Bykomende bronne: www.fishphilosophy.com en www.pikeplacemarket.org

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 23, 2021 by in Iemand - of iets - wat my fassineer, Noord-Amerika.