First published in Die Burger, November 2019
Die Noord-Kaap bied skatkis van ervarings
Die meeste mense wat die Noord-Kaap besoek, mik soontoe as dit blommetyd is. Die Noord-Kaap se dorpe en afdraaipaadjies bied egter regdeur die jaar genoeg om te sien en te beleef; jy hoef nie vir blomseisoen te wag nie.
Voor jy kon sê ‘madeliefie!’, het ek, my ma en my sus laasgenoemde se nuwe wiele bestyg en besluit ons gaan meestal ry waar die wind ons waai.
Oor die Piekeniers na Nieuwoudtville
Die eerste groot lekkerte is die uitsig oor die vlaktes vanaf Piekenierskloofpas op die N7 ‘n entjie voor Citrusdal. Die naam is ontleen aan piekeniers of lansiers wat in die kloof opgestel is om die boere teen strooptoge van die Khoikhoi te beskerm, lees ek voor uit Wikipedia toe ons aan die anderkant af ry.
Eers draf ons gou in by De Tol Plaasstal vir ‘n knaagdingetjie. Toe sit sus Esna voet in die hoek tot by Nieuwoudtville waar ons by familie oorslaap.
Daar aangekom laat ons die twee tantes nuus uitruil en Sus Kwadraat sak af na die Nieuwoudtville Hotel se kroeg, ‘n regte plattelandse kuierplek waar jy nie jou ore aan al die stories moet uitleen nie en waar jy nooit weet wie of wat jy hier gaan raakloop nie. Ons is gelukkig genoeg om die kroegman, Anton, se babapapegaaitjie te ontmoet en eerstehands te sien hoe hy die kleine dingetjie met ‘n lepel voer.
Vroegoggend blêr die skape op die oop erwe in Nieuwoudtville en die oggendlug is knypkoud. ‘n Swart kat loop op die dak van die hotel en daar is een fiets voor die poskantoor geparkeer.
Die hoeksteen van die imposante NG Kerk is in Februarie 1906 gelê. Die oop erwe rondom die klipkerk strek so wyd soos die Here se genade. Toe die gemeente gestig is was daar “480 lede en 1200 siele”, lees ek op die gemeentegeskiedenisbladsy op hul webwerf; in 2017 was daar “156 belydende en 28 dooplidmate”.
Protea Motors is die enigste vulstasie in Nieuwoudtville. Die eienaar het ‘n groot versameling van interessante en antieke motorfietse wat alleen ‘n besoek werd is.
Inloer by Loeriesfontein en ‘n nag in Naries
Loeriesfontein, net minder as ‘n uur se ry weg, is nóg kleiner as Nieuwoudtville. Loeriesfontein Slaghuis verkoop afval, lewer-in-netvet, kaaswors en ‘braai shushi’ waarvoor ek alles lus is, maar my vegetariese sus trek haar neus op hiervoor.
Ek laat haar maar begaan, want ek weet daar wag ‘n driegangete by Naries Namakwa Retreat waar ons vir dié aand verblyf bespreek het, op ons.
Ons gaan luister na die sjjjrrr sjjjrrr van die windpompe by die Windpompmuseum langs die Fred Turner Museum, lees die windpompname op die windpomplemme en kyk hoe ‘n windpomp ‘n nuwe leksel verf kry; loer in by Medjoul Dadels waar ons neef, Nico Louw, die lekkerste dadels in die hele Suid-Afrika vir die uitvoermark verwerk en verpak en neem foto’s van die mooie NG Kerk en die United Reformed Church met twee kokerbome weerskante van hul voordeur.
Ons los vir Ma by haar sus Ria Viljoen en pak die Van Rhynspas, oorspronklik gebou in 1880, aan. Ons sluk ‘n vinnige koffie by Bagdad Café op die R27 af, spyt dat daar nie tyd vir ‘n sny soetsuurdeegbrood ook is nie.
Dit kos rý om voor sonsondergang by Naries Namakwa Retreat buite Springbok aan te kom. Om oor ‘n glasie jenewer die son te sien sak terwyl die vriendelike gidse van Naries ons meer van die omgewing vertel, was een van die hoogtepunte van ons sloertoer.
Nog ‘n hoogtepunt was ons verblyf in die luukse Namakwa Bergsuites by Naries. Elke unieke bolronde rondawel met sy eie houtstoepie is op een van die rantjies van die Spektakelberg gebou vanwaar jy oor golwende vlaktes tot by die see op die horison kan uitkyk.
Dit was eerlikwaar een van die mooiste plekke ̶ met een van die mooiste baddens ̶ waar ek nog oorgebly het.
Na ‘n geurige ontbyt vertrek ons in ‘n noorse dwaal, onseker waarheen ons volgende gaan, omdat ons onsself juis nie aan ‘n vaste roete wou bind nie.
Koop koerant in Springbok en eet calamari in Port Nolloth
‘n Mens ry nie deur Springbok sonder om by die Springbok Lodge & Restaurant in te loer nie. Al is dit net om die koerant te koop of om jou te verwonder aan die klip- en kristalversameling, ‘n boek of twee aan te skaf of die ou uitknipsels oor Namakwalandse gebeure oor die afgelope eeu teen die mure te lees.
Ek kry dit reg om my sus te beïndruk met dit wat ek van Robey Leibbrandt, ‘n Duitse geheime agent, weet toe sy die ou koerantberigte sien wat vertel hoe hy beweer het dat hy in Junie 1941 met ‘n duikboot by die Namakwalandse kus aangekom het terwyl dit eintlik met ‘n seiljag was.
Wat van … middagete in Port Nolloth?! Hoekom dan nou nie? En daar gaat ons!
Port Nolloth is vernoem na ‘n skeepskaptein, kommandeur M. S. Nolloth, wat in 1854 die kus hier rond verken het. Port Nolloth is oorspronklik gestig om as hawe te dien om kopererts uit te voer. Toe spoeldiamante hier ontdek is, het die dorp nuwe lewe bygekry.
Op Port Nolloth aangekom koop ons eers geskenke by Die Ou Ou Skuur skuins agter die Port Nolloth Museum voor ons by die kleurvolle Nemos aansit. Ek sal weer so ver ry net om hulle calamari te eet.
Voor ons weer die langpad aanpak, soek ons, synde beide vuurtoringentoesiaste, eers die Port Nolloth Vuurtoring wat toe eintlik maar net ‘n staalstellasie agter ‘n muur is.
Kyk hoe McDougalsbaai lyk
Ons gaan kyk hoe lyk McDougallsbaai net omdat ons nog nooit daar was nie.
Die reisskrywer T.V. Bulpin het in die sestigerjare geskryf dat die Diamantkus, waar McDougallsbaai geleë is, ‘n mens laat wonder hoe die natuur se bui daar uitgesien het toe dié deel van ons land geskep is. Die see en die strand kom woes en leeg voor. Vir Bulpin het dit ‘n gevoel van genadeloosheid en grimmigheid gehad.
Slaap by Sophia in Garies
So in die ry besluit ons dat ons vanaand op Garies wil slaap. Ons ry heelpad met die R382 terug na Springbok en klim weer op die N7.
Dis nog ligdag toe ons by Sophia Gastehuis in Garies aankom. By Sophia is die verwelkoming deur Elizna de Bruyn plat-op-die-aarde en gul. So gou soos nou gesels ons ‘n hond uit die bos uit.
Ons verwonder ons aan die vrolike dekor wat vir sommige aan kitsch sou grens. Daar is skilderye van teekoppies, stortvloere en –mure wat van kant tot wal met mosaïekteëlskerwe en –spiëeltjies bedek is, en emaljeborde en –deksels wat as muurversierings ingespan is.
Toe ons die volgende oggend vir ‘n boereontbyt in die kombuis aansit, kom ons agter die kombuisdekor en –versierings gaan ‘n paar besoeke verg voor jy alles raakgesien het. Daar is meer eierkelkies as in die res van die Namakwaland saam, kry ons lekker. Tóé gesels ons eers.
Noodgedwonge moet ons die kuier – want dis soos dit al teen dié tyd voel – kortknip om ons ma weer in Nieuwoudtville te gaan optel ten einde huiswaarts te keer.
Sou jy wou gaan:
Watter heerlike sloertoer, met sulke goeie geselskap!
Ek’s gek oor die woord ‘sloertoer’, Tannie Frannie! En ook gek daaroor om dit te doen.