ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Totsiens, Tutu

First published in Die Burger, January 2022

Eendag was daar ‘n sjef. ‘n Italiaanse sjef met Afrika-bloed in sy are wat al vir jare in die Boland woon.

Sy droom was om vir emeritus aartsbiskop Desmond Tutu te kook. Sy bewondering vir dié wêreld- en Suid-Afrikaanse ikoon ken geen perke nie.

Vir verskeie jare het niemand van Giuseppe Massolini se droom geweet nie; al wat dit was, was ‘n droom.

Ubuntu is menslikheid teenoor ander

In 2013 het Giuseppe die daad by die woord, oftewel die droom – of soos hy dit noem, sy “Ubuntu-begeerte” – gevoeg deur ‘n outydse brief te skryf.

Eers het hy ‘n oproep gemaak om die regte posadres in die hande te kry.

Giuseppe Massolini straal tydens Desmond Tutu se besoek by hom aan huis

Die brief was “drie bladsye lank”, bieg Giuseppe ietwat skaam. Hy voeg by dat hy in sy aanhef genoem het hoe “ontsagwekkend” Desmond Tutu in sy beskouing was en hoe dit vir hom “’n absolute eer” sou wees om vir hom te kook.

Ek kan sommer hoor hoe hy aan die knop in sy keel sluk terwyl hy terugdink.

Giuseppe Massolini is in Dar es Salaam gebore, vandaar sy passie vir Afrika, hoewel hy eintlik van Italiaanse afkoms is. Massolini se familie is van Venesië; vóór hy op kontrak by die Southern Sun-hotelgroep in Suid-Afrika kom werk het, het hy in Italië studeer en gewerk.

Met sy eerste aanblik van Tafelberg het hy besluit dís die plek waar hy die res van lewe wil slyt. Toe baie Suid-Afrikaners in 1994 hul naels afgekou het oor wat die toekoms inhou, het Massolini eiendom in Kaapstad aangeskaf.

Die posduif doen nie sy werk nie

Ná hy sy brief gepos het, het hy absoluut niks gehoor nie. Ongelukkig is die brief aan die verkeerde adres gestuur, maar dít het Massolini nie geweet nie.

Amper ‘n volle jaar later lui dié Italiaanse sjef se foon. Hy ken nie die nommer nie, maar antwoord tog die foon. Grazie a dio! Dis Tutu se privaat sekretaresse aan die ander kant van die lyn. Massolini word gevra om sy brief te herskryf en weer te stuur; die sekretaresse sal sorg dat dit hierdie keer by Tutu uitkom.

Desmond Tutu glimlag gul na ‘n eg Italiaanse ete

Desmond Tutu wil graag by Giuseppe Massolini se tafel kom aansit!

Teen om en by die einde van Januarie 2015 het Die Groot Dag aangebreek.

Dit was natuurlik nie so maklik om op ‘n spyskaart te besluit nie. Massolini bied langtafeletes van 6- tot 8-gangetes op ‘n plaas knap buite die Paarl aan, maar hierdie spyskaart moes ekstra spesiaal wees.

Hy kan nie eers meer onthou wat hy alles bedien het nie. Die oomblik was net eenvoudig te groot.

Hy kan wel onthou dat dit saffraanrisotto met groenertjies en ontbeende vryloophoender tri colore (dit beteken driekleur) gevul met spinasie, frittata en rooipepers, gegeur met knoffel en salie en oondgebak in dessertwyn ingesluit het.

Wat op die nageregspyskaart was, het Massolini heeltemal ontgaan.

‘n Wonderlike moment

Desmond Tutu en sy familie se middagete was privaat. Behalwe die Tutu-egpaar was hul dogter en Tutu se bestuurder wat hom orals vergesel het asook van die kleinkinders om die tafel.

‘n Vriendin van Massolini was die kelner van die dag (gewoonlik bedien hy die gaste én berei die kos).

So halfpad deur die maaltyd het Desmond Tutu vir Massolini gevra of hy werklik spesiaal vir hom sy huisrestaurant toegemaak het om vir hulle ‘n ete, sonder betaling, te kook. Toe Massolini ja sê en byvoeg dat dit sy manier is om dankie te sê vir wat Tutu vir almal in die land beteken en doen, kon die aartsbiskop dit nie glo nie.

Massolini onthou ook hoe Tutu uit sy maag gelag het. Dit was eenvoudig “verruklik” om te sien hoe hy uitbundig lag terwyl sy maag terselfdertyd op en af wip. ‘n Prentjie van lewenslus.

Toe dit tyd was om te vertrek, het van Massolini se vriende vir die intieme groepie djembe-tromme in die tuin gespeel soos wat hulle uitloop.

Tutu het elkeen persoonlik gegroet. Die interaksie was nie lank nie, maar ek kan my nie indink nie – ek was bevoorreg genoeg om die foto’s te neem – dat dit nie elke liewe persoon vir altyd sal bybly nie.

Totsiens, totsiens!

Met die wegry – nadat die emeritus aartsbiskop oor en oor gegroet het – kon ‘n mens net sy hand sien uitsteek soos wat hy totsiens waai. ‘n Warm groet wat sy persoonlikheid versinnebeeld het.

Vir Giuseppe Massolini is en was die wete dat hy vir emeritus aartsbiskop Desmond Tutu kon kook terwyl hy om sy tafel gesit het, “meer as wat hy ooit gedink het dit kon wees”. Dit was “absoluut wonderlik” om deur “die aartsbiskop aangeraak te word”; hulle het “betower” gevoel deur ‘n “lewenslustige” Tutu wat duidelik nie meer jonk was nie.

Die aartsbiskop het Giuseppe se “hart geráák” en hy sal dit nooit vergeet nie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 13, 2023 by in Iemand - of iets - wat my fassineer.