ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

MONTEVIDEO – ‘n stad van kontraste

First published in Die Burger, October 2012

‘n Stad met verbleikte grandeur uit vergange se dae. ‘n Stad met vele kontraste. ‘n Stad wat deur uiters min toeriste besoek word.

Ek het meer verwag toe ek daar aangekom het; ek het met meer weggegaan as wat ek verwag het.

Kleur is eintlik ongewoon in Uruguay

Die mense van Montevideo is die hart van Montevideo. Warm, vriendelik, opreg bly dat daar ‘n toeris in hul stad is. Orals, net mooi orals, sien jy die stedelinge stap met ‘n termosfles onder die arm en in die ander hand hou hulle ‘n kalbaskoppie vas waaruit ‘n silwer strooi uitsteek. Dis vir die drink van yerba maté, ‘n bitter kruie-tee, wat definitief nie met die eerste, of tweede, proe lekker is nie. Maté word tydig en ontydig gedrink; ek het selfs gesien dat amper elke persoon wat aan ‘n optog deelgeneem het, suig-suig stap. Dalk die Uruguaanse ekwivalent van toyi-toyi?

Montevideo is ‘n uitgestrekte stad met ‘n kleinerige hawe waar passasierskepe gereeld aandoen, ‘n lang promenade vir aandwandelinge en ‘n Ciudad Vieja (Ou Stad) wat deels gerestoureer, maar deels nog baie armoedig is.

Aan die buitewyke is verskeie wynplase wat besoek kan word; lang, meestal leë strande; en groen heuwels waar vet beeste wei wat prentjies uit kinderstorieboeke oproep. Dis maklik om verveeld te raak in Montevideo, maar as jy deel van die stad word, vind jy ‘n egtheid wat jy op min ander plekke kry.

Minder blieng, meer hart

Montevideo is ‘n stad wat wydsbeen staan. Een begeer om te presteer, om handel te dryf, om letterlik weer op die been te kom. Die ander been is mank weens die sukkelende ekonomie, weens ‘n resessie wat amper eindeloos voortduur. ‘n Gholflandgoed hier en daar skep die indruk dat daar wel groot geld in omloop is. Dan besef jy dat nog nie een nuwe motor op die pad gesien het nie. Punta Carretas se inkopiesentrum het nuut ingerigte winkels en Europese-styl koffiewinkels, maar in Avenida 18 de Julio 1998 (die Adderleystraat van die hoofstad) sien ‘n mens nog armoedige perdekarretjies.

Terugblik van die Ou Stad na die Nuwe Stad

Montevideo is ‘n stad van kontraste. Daar’s iets van als, maar nie baie van als nie. ‘n Kleinerige gaucho museum en ‘n nog kleiner geldmuseum in die hoofstraat. ‘n Onindrukwekkende casino’tjie in die mooiste ou gebou net ‘n entjie verderaan. ‘n Foto-uitstalling oor hul vryheidstryd weggesteek naby ‘n duikweg. ‘n Kunsgalery cum museum oor die lewe van Joaquin Torres Gracia. ‘n Paar pleintjies waar pensioenarisse saans dans – en vra of jy hulle sal afneem en die foto’s sal pos. Teatro Solis is nuut oorgedoen en hoewel eenvoudig, beïndruk die swart-wit teëls,, die gryswit pilare en die wynrooi sitplekke.

Antiekhandelaars op ‘n plein

‘n Hoogtepunt van ‘n besoek aan Uruguay is die antiekmark op ‘n Sondag. Dit vind plaas op die hoofplein van die Ou Stad en dit duur tot laatmiddag, soms vroegaand. Hier kan jy na hartelus inkopies doen. ‘n Vindingryke entrepreneur maak  dakversierings uit Franse kristal van ou kandelare uit ontruimde geboue. ‘n Antiekhandelaar spesialiseer in ametis-juweliersware. ‘n Ou egpaar maak kombuisgoed uit ou hout, weggooi-krane en etikette. Daar’s ou speelgoed, ou boeke en ou gekleurde glas van kraffies tot geslypte glase. Daar’s silwer teepotte, opskeplepels en opdienbakke. Daar’s te veel wat jy wil hê, te min wat jy huis toe kan neem.

Trots op hul dorp

Daarenteen is die Sondagmark skokkend in sy armoede en desperaatheid. Die hartlikheid en blymoedigheid van die verkopers maak dit óf meer hartseer óf meer bewonderenswaardig afhangend van waarop jy konsentreer.

Puerto Madero was die spil van die Ciudad Vieja. Op Sondae en gedurende middagete is dit steeds ‘n roesemoes van stemme. Dis tradisie om hier ‘n medio y medio (‘n mengsel van wyn en vonkelwyn) te drink. Dis ook die enigste plek waar die kelners ietwat verbaas was om ‘n toeris op haar eie te sien sit. Dalk is dit omdat die passasiers van die skepe in groepe hier aandoen. In die omringende straatjies is interessante winkeltjies. Sorg egter dat jy voor donker na ‘n veiliger deel van die stad beweeg.

Vleis, vleis en nogmaals vleis

Restaurante in Montevideo bied weinig keuses behalwe tipiese Uruguaanse kos, maar dit wat te kry is, is oorwegend goed en uitstekende waarde vir dit wat jy betaal. Ek leer vacio ken – ‘n snit van die bees wat geuriger is as enige ander biefstuk wat ek al tevore probeer het. ‘n Uitgerekte maandlange besoek gee my genoeg geleentheid om baie plekke te beproef. By die piepkleine Cafe Bacacay (wat my aan die Kaapse Observatory van ‘n dekade gelede laat dink) kyk ek uit op die nasionale teater en voel deel van dié wat gereeld daar kom. Oorkant is El Abasto, ‘n ou-styl restaurant met ou-styl kelners. Ek let op dat La Pasiva die gewildste ontbytplek is. By La Corte, ‘n restaurant cum wynkroegie, is daar internasionale tydskrifte om deur te blaai en leerbanke om op te sit. Dis ook die elegantste plek in die Ciudad Vieja.  Don Trigo net langsaan, se atmosfeer is aanbevole hoewel die kos minder indrukwekkend is.  Volgens die Lonely Planet maak Euskal Erria die beste paella in die stad en ek gaan definitef nie probeer stry nie. Ek gaan eet ‘n broodjie by La Catedral de los Sandwiches net oor die naam. By El Palenque in Puerto Madero is die nagereg so groot soos slaaikoppe!

Sexy Che

Ek eindig my laaste dag met ‘n chivito, klaarblyklik ‘n moet in Uruguay, maar dis toe maar net ‘n droërige biefstukrolletjie. Ondanks my eerste indrukke toe ek in Montevideo aangekom het, het die stad en veral die mense in my hart ingekruip en vul beide steeds ‘n sagte plekkie daar.

 

AS JY MEER OOR MONTEVIDEO SE GESKIEDENIS WIL LEER
Lees The Invisible Mountain deur Caroline de Robertis – dis ‘n roman oor die lewens van drie vroue uit dieselfde familie, maar van verskillende generasies. Hoewel dit fiksioneel is, leer jy die geskiedenis van Uruguay in die algemeen en meer spesifiek van Montevideo. De Robertis is ‘n woord-towenares en die beelde wat sy skep – van Montevideo en die lewenstyl van die vroue sowel as van hul emosionele belewing – sal jou altyd bybly.

Wine tasting at Bodegas Carrau

TERWYL JY DAAR IS
Koop gehalte-aandenkings by Manos del Uruguay  – www.manosdeluruguay.com.uy
Proe wyn by Bodegas Carrau  –  www.bodegas.carrau.com/en/
Probeer net een maal yerba mate.
Luister na die musiek van Rossana Taddei  – www.last.fm/music/Rossana+Taddei
Beleef die Sondagse antiekmark.
Drink ‘n glas huiswyn by Cafe Bacacay  –  www.cafebacacay.com.uy
Bederf jouself by La Corte  –  www.lacorte.com.uy
Sit op die sypaadjie by Don Trigo – www.dontrigo.com
Drink ‘n medio y medio by Cafe Roldos in die Ciudad Vieja.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 10, 2017 by in Suid-Amerika.