ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

A-ttraksie van dié dorpe

First published in Die Burger, February 020

Sê vir my Aaaa

 Kom ons klank die alfabet! Elke ding van A tot Z. A staan vir appel. Een ‘n dag laat die dokter wag.

Ry tot bo-op die Aurora-berg vanwaar jy 'n uitsig oor 'n laslappieland het

Ry tot bo-op die Aurora-berg vanwaar jy ‘n uitsig oor ‘n laslappieland het

Nee, wag, kom ons begin oor. A staan vir Agulhas, Arniston, Ashton, Amaliënstein, Albertinia, Augrabies, Aurora, Aberdeen en Alexanderbaai.

Dís die nabye dorpe – en ‘n paar wat verder van ons is – wat met A begin.

Agulhas is die mees suidelike punt van Afrika

Eintlik is die feit dat jy by Agulhas (www.cape-agulhas-info.co.za/town) aan die suidelikste punt van ons kontinent kan staan, al rede wat jy nodig het om jou motor se neus suid te mik.

By die suidpunt van Afrika kan jy ook Kaart van Afrika-monument, met ‘n omtrek van 30 meter, aanskou. Die kaart lê korrek volgens die kompas.

Jy kan om die kaart loop en mediteer of ‘n oorspronklike selfie uitdink.

 Klim ook tot bo in die Agulhas-vuurtoring en kyk oor die see uit. Ongelukkig is die toerismekantoor by die vuurtoring om onverklaarbare redes gesluit.

 Arniston en Waenhuiskrans is een en dieselfde plek

 Op die middag van 30 Mei 1815 het die Arniston as gevolg van stormsterk winde en ‘n sterk seestroom gestrand. Slegs ses mense het oorleef. Voorheen was dié vissersdorpie in die Overberg as Waenhuiskrans bekend. Na die stranding het die dorp sy tweede naam van Arniston bygekry.

Die naam Waenhuiskrans is ontleen aan die grot wat, slegs met laagwater, besoek kan word. In Discovering Southern Africa skryf die reisskrywer T.V. Bulpin dat ses ossewaens met hul osse in Waenhuiskrans se grot kan pas, vandaar die naam. Hy vertel ook dat ‘n mens ‘seeboontjies’ (‘n tipe saad wat kuslangs vanaf Oos-Afrika afspoel) binne-in die grot kan optel.

As jy al Arniston besoek het, sal jy weet dis ‘n instelling om op Arniston Hotel (www.arnistonhotel.com) se stoep ‘n koue bier te drink of middagete te geniet. Die De Hoop Natuurreservaat (www.dehoopcollection.com) is ook nie só ver hiervandaan nie.

Ligte vrugte op Ashton

 As jy op Ashton grootgeword het, eet jy nooit weer kênfroet nie. Daar was nie ‘n funksie sonder dat daar ‘kên’ was nie. Of dit nou ‘n sportfunksie, kerkbasaar, prysuitdeling of vrouebyeenkoms was – geblikte vrugte was altyd op die spyskaart.

Só vertel my haarkapster, Nadia, toe sy oor my skouer loer om te sien wat ek skryf terwyl sy kapselkaperjolle op my kop uithaal. Sy sal weet, want sy het op Ashton grootgeword.

Nadia vertel ook: Ashton-druiwesap is die lekkerste druiwesap wat ‘n mens kan kry. Almal se ma’s het dit altyd gekoop as dit Desember-vakansie was. Veral as die familie kom kuier het. Steeds kan geen ander druiwesap by Ashton s’n kers vashou nie, sê sy, hoewel sy toegee dat dit deels sentiment kan wees.

Ons gesels gaan draai by ‘n tannie wat destyds met haar hangkas en sitkamerstel gaan kamp het, want “hoe anders moet sy dan mense ontvang”. Dis egter ‘n storie vir ‘n ander dag.

Ashton is steeds bekend vir sy ingelegte vrugte; al is die Aero-kafee, wat gebou is om soos ‘n vliegtuig, ewe met propeller en al, te lyk, nie meer daar nie.

Hoewel Ashton nie genoeg bied om ‘n oorbly te regverdig nie – behalwe vir plaasverblyf om jou batterye te herlaai – kan jy gerus by Platform 62 (www.platform62.co.za) aandoen om ietsie te nuttig en wyn of geskenke aan te koop. Jy kan nie die ou lokomotief by die ingang miskyk nie!

Die onvoltooide Ashton-brug is so reusagtig dat dit amper oor die dorp troon en raak al opsigself ‘n besienswaardigheid.

Besigtig die kerk by Amaliënstein

Amaliënstein is die susterdorp van Zoar-sendingstasie, naby die afdraai na Seweweekspoort op Roete 62 en sowat 22 km vanaf Ladysmith.

Die plaas Amaliënstein is in 1850 deur die Berlynse Sendinggenootskap gekoop. Amaliënstein- en Zoar-sendingstasie (www.route-62-info.co.za/routes/town/168/zoar) is hierna opgerig. Amaliënstein is vernoem na Frau Amalie von Stein wat die geld om die plaas te koop, geskenk het.

Amaliënstein het die allerpragtigste kerk wat in helder, aardse kleure geverf is. Die bou van die kerk is in 1853 voltooi. Binne het die kerk lieflike geelhoutbanke.

 Aalwyne en Albertinia is sinoniem

A staan nie net vir Albertinia nie, maar ook vir aalwyn, of altans aalwynprodukte, waarvoor dié dorp bekend is.

Aalwyne kom natuurlik in die omgewing voor. Jy hoef nie eers by Albertinia in te draai nie; op die N2 langs die dorp is meer as een aalwynprodukwinkel. Jy sal nie glo nie waarby aalwyn alles gevoeg kan word en waarvoor dit alles gebruik word.

Sou jy indraai het die Albertinia Hotel (www.albertiniahotel.co.za) ‘n regte kroeg waar jy aan ‘n koue kan teug.

 Augrabies is die plek wat geraas maak

 Die naam Augrabies kom van die Khoi-woord ‘Aukoerebis’ wat beteken ‘die plek wat geraas maak’.

Die Augrabies-waterval, 120 km vanaf Upington in die Noord-Kaap, maak natuurlik nie altyd geraas nie; soms is daar net ‘n stroompie wat vloei, maar as dit goed gereën het, donder die water by die kranse af.

Volgens oorlewering was die eerste Europeër wat die Augrabies-waterval gesien het, ‘n Sweedse huursoldaat, Hendrik Wikar, wat in 1775 as gevolg van skuld uit die Kaap gedros het. Wikar het vir die Oranjerivier gemik en in sy omswerwinge op die Augrabies-waterval afgekom.

Die Augrabies-waterval is deel van die Augrabies Nasionale Park (www.sanparks.org/parks/augrabies/).

Kyk sterre by Aurora

 Aurora lê pens en pootjies binnein die Sandveld aan die Weskus.

Vanaf net buite Aurora ry jy op na Aurora-berg. Die uitsig van hierbo strek al die pad tot by Sint Helenabaai en Dwarskersbos. Op ‘n mooi dag kan jy selfs vir Tafelberg in Kaapstad sien.

Gaan kyk in die daglig na die NG Kerk van Aurora; in die nag sal jy jou verkyk aan die sterre

Gaan kyk in die daglig na die NG Kerk van Aurora; in die nag sal jy jou verkyk aan die sterre

Besoek gedurende die dag die imposante NG Kerk van Aurora; saans sal jy jou verkyk aan die sterre in die uitspansel.

Die dorpie Redelinghuys, bekend vir sy muurskilderye op sy huise, is minder as 30 kilometer vanaf Aurora (www.netwerk24.com/Ontspan/Buite/roer-jou-litte-na-redelinghuys-20180521).

Meet Aberdeen se kerktoring

Daar is 38 Aberdeens wêreldwyd, maar net een Aberdeen in Suid-Afrika. Só lees ek op die dorp se webwerf (www.aberdeencape.org). Hulle sê ook dat Aberdeen die plek is waar jy ongetwyfeld rus vir jou siel sal vind.

Die NG Kerk van Aberdeen maak daarop aanspraak dat hul kerktoring die hoogste in die land is, maar dié aanspraak word betwis. Hoe dit ook al sy, die kerk is inderdaad baie imposant én die kerktoring troon bokant die dorp uit.

 As jy deur die strate van Aberdeen ry of loop, sien jy huise met verskillende boustyle soos Victoriaans en Georgiaans sowel as tipiese Karoo-huise met kuierstoepe waar jy lus voel om jouself neer te vly.

 Die langpad na Alexanderbaai

 Alexanderbaai, ‘n diamantmyndorp digby die grens van Namibië, se glorie het reeds vergaan. Diamante is reeds in 1925 hier ontdek.

Eintlik ry 'n mens net na Alexanderbaai om die oop vlaktes en oop pad te beleef

Eintlik ry ‘n mens net na Alexanderbaai om die oop vlaktes en oop pad te beleef

Eintlik ry jy hiernatoe bloot omdat jy van die langpad en van ongerepte kuslyne hou. As al wat jy nodig het, is om af te skakel, mik na Alexanderbaai(http://www.alexanderbay.co.za).

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 3, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .