ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Negosiewinkel-nostalgie

First published in Rapport, July 2015

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Bekoring van die handel, wandel van algemene handelaars

'n Lekkergoedwinkel in 'n pophuis

‘n Negosiewinkel in ‘n pophuis

’n Knaloranje appelkooslekker in die kies laat my een oggend aan oorle’ oom Koos Dwerg se winkel op Napier terugdink.

Ek voel nostalgies en besluit terstond om algemene handelaars en hedendaagse negosiewinkels in die omgewing van my tuisdorp te gaan opsoek.

En was ek nie aangenaam verras nie!

  1. ’n Kultuswinkel in ­Simon­dium
Kooperasiestories se mannekyn is misleidend - in hierdie ou skuur is meubels en dalk 'n slaappop of twee te koop

Kooperasiestories se mannekyn is misleidend – in hierdie ou skuur is meubels en dalk ‘n slaappop of twee te koop

Knap buite die Paarl – op die R45 deur Simondium – het Koöperasie Stories al as landmerk én kultuswinkel bekend geword.

Die eienaar, Henri Droomer, voer antiekware soos gieters en houtsleë, fabriekswerksbanke en houtkruiwaens, taksidermie-eende, ikoonskilderye, linne en emaljeskottels van Oos-Europa in. Daar’s selfs ’n ou babastootwa soos dié waaruit die baboesjkas kos al langs die Trans-Siberiese spoorlyn verkoop.

Was dit nie vir die tee- en koffie-advertensieborde nie, sou die gebou ook maar “argitektonies onooglik” (soos Ernst van Heerden so roerend in “Algemene Handelaar” dig) daar uitgesien het. Hier is ook nie “twee verspotte uitstalvensters” of “gewel-reklame” nie; tog ’n kaal winkelpop – op die dakrand – wat al ’n slag oornag verdwyn het. Twee weke later het sy weer haar opwagting gemaak, mooitjies plat neergelê met ’n “jammer”-nota daarnaas.

​www.kooperasiestories.co.za

  1. Waar ’n negosiekas ’n stoel word

Dit kos nie ver ry om Hello Country (Hoofstraat 51, Pniel) aan te doen nie.

In dieselfde winkel waar Elmarie Parks 26 jaar lank by die algemene handelaar gewerk het, werk sy die afgelope jaar by Hello Country. Dit het die eienares, Lorrae Joachim, ’n tydjie geneem om die gebou-eienaar te oorreed om die plekkie – met sy petrolpomp wat voor die deur wag staan – te verhuur.

In die stylvolle winkeltjie is daar naamlekkers, strooitjies suursuiker (sherbet) en Wilson-toffies in boepensflesse langs die kasregister, maar verder is daar geen teken van die pakkaas wat negosiewinkels destyds gekenmerk het nie.

Hier word die kuns verstaan om iets uit niks of uit ordinêre gebruiksartikels te skep. Op die deksels van “kênfroet”-flesse staan goue plaasdierspeelgoed penorent. Teepotte spog met windpompe, en borsspelde kry kruissteekmotiewe. Blomme en voëltjies vier hoogty – foeitog, daar’s selfs twee in ’n hokkie.

Stap om die hoek na die teetuin en die Pniel-museum, waar die geskiedenis van die dorp trots uitgebeeld word.

​bit.ly/hellocountry

​www.pniel.co.za

  1. Wat jy sien, kan jy koop

Dis tyd om te besluit watter kant toe om te mik. Die opgooi van die munt in my beursie bepaal dat die volgende handelsbestemming Searle’s Trading Post (Hoofstraat 36, Greyton, via die Franschhoekpas) sal wees.

Drink Rooi Rose of Three Trees, of iets sterkers, by Searle's

Drink Rooi Rose of Three Trees, of iets sterkers, by Searle’s

Eintlik is Searle’s streng gesproke nie (meer) ’n handelspos nie, maar omtrent alles wat jy sien, is inderdaad te koop.

Geen ruilhandel nie, gehoor.

In 'n rits pophuise word lewensgetroue taferele van die alledaagse lewe uitgebeeld

In ‘n rits pophuise word lewensgetroue taferele van die alledaagse lewe uitgebeeld

Glo my, niemand kry verby die lewensgetroue pophuise – wat tonele uitbeeld – geloop sonder om hulle oopmond te verstom nie. In een poseer ’n naakte model wulps vir ’n besnorde kunstenaar. In ’n ander is daar ’n lekkergoedtoonbank in ’n algemene handelaar se winkel waar ’n swartgeklede tannie stokkielekkers en streepsuikerkieries aangee.

Die troetelhoendertjie by Searle's besluit self waar haar skropplek is

Die troetelhoendertjie by Searle’s besluit self waar haar skropplek is

By Searle’s kan jy lekker eet, troue hou of teater kyk. ’n Troetelhoender kraai koning hier, ’n fontein spog met die kopligte en sierroosters van ’n ou skedonk, en die luukse badkamer met vergulde spieëls het speelse Coke­bottel-handvatsels.

​www.searles.co.za

  1. Pajamas – sónder pantoffels – mét konfyt
Eet - en koop om te versamel - by Pajams & Jam

Eet – en koop om te versamel – by Pajamas & Jam

Tyd vir ’n Kaapse draai oor Sir Lowryspas na die nywerheidsgebied (Van Zylstraat 32) van die Strand. ’n Helikopter op Pajamas & Jam se dak en ’n jêmrak uit gegote lamppale voorspel dat dinge hier op ’n onkonvensionele manier gedoen word.

'n Handelaar - en restaurant - met 'n vloothelikopter as deel van hul naambord

‘n Handelaar – en restaurant – met ‘n vloothelikopter as deel van hul naambord

Met die instap lyk dit skoon of ’n hele paar negosiewinkels se voorraad hul plek hier gevind het.

Hoededose en reistasse tot teen die dak gestapel

Hoededose en reistasse tot teen die dak gestapel

Hoedebokse, ’n dubbelverdiepinghoë stapel reistasse, wingerdmandjies, aambeelde, lampkappe en waaiers staan holderstebolder rond.

Een van die enigste versamelstukke wat nie te koop, of te huur, is nie

Een van die enigste versamelstukke wat nie te koop, of te huur, is nie

Boonop het omtrent alles ’n prys. Net nie die reusagtige King Kong – met sy hok in sy harige vuiste vasgeklem – of die mallemeuleperdjies nie. O ja, ook nie die stokou dikwiel-swartraamfiets wat ’n 90-jarige omie aan Pajamas & Jam geskenk het nie.

Dis geen wonder mense ry spesiaal hierheen om te kom kýk nie. Jy sien sommer aan klante se gesigte of dit die eerste keer is wat hulle hier kom.

Terwyl ek ronddrentel, word my aandag getrek deur flessies konfyt (vy, druiwe, makataan, granaat), vars rose, suurdeegbrood en seisoenale vrugte. Oor Kerstyd kry klante ’n potjie appelkooskonfyt present.

’n Vinnige kuiertjie laat geskied nie reg aan Pajamas & Jam nie. Vind ’n plek vir jou sitvlak en bestel melkterttee (as dit beskikbaar is), pastei of braaibroodjies.

​bit.ly/pajamasjam

 

2 comments on “Negosiewinkel-nostalgie

  1. Tannie Frannie
    April 5, 2019

    Ai, hoe nostalgies maak daardie toring hoededose my – ek het so ‘n rooie gehad, wat ek by my mammie oorgeneem het 🙂 “‘n Knaloranje appelkooslekker in die kies…” – ek proe sommer die lekkerte!

  2. ilsez
    April 7, 2019

    Ek’t ‘n sagte plek vir ‘n hoedeboks, Tannie Frannie. Daar’s nie ‘n verklaarbare rede daarvoor nie. Yours in hat boxes then…

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 5, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .