First published in Die Burger, May 2019
Beleef buitestanderkuns
Die definisies wat aan buitestanderkuns (outsider art) toegedig word, wissel. Sommige beskou dit as kuns wat deur onopgeleide kunstenaars geskep is. Dikwels is dit visionêr van aard en het dit ‘n naïewe benadering. Dis uit die aard van die saak kontemporêr, want dit is nie nie lank terug geskep nie; dit word huidiglik geskep.
Buitestanderkuns word egter nie net deur onopgeleide of selfopgeleide kunstenaars geskep nie. Almal is dit ook nie ooreen wie of wat as buitestanderkuns kwalifiseer, aldan nie.
Die term ‘outsider art’ oftewel buitestanderkuns is in 1972 deur die historikus Roger Cardinal geskep. Sy oorspronklike definisie het egter afgewyk van dit wat vandag as buitestanderkuns beskou word.
Die term buitestanderkuns is deels afgelei van die Franse term art brut (dit beteken ‘rou kuns’) wat veral na die skeppings van Jean Dubuffet verwys het. Dubuffet het in baie van sy werke olieverf met sand, teer en strooi verdik wat aan sy skilderye ‘n ongewone getekstureerde oppervlak verleen het.
‘n Magdom uile op ‘n kluit
As jy nog nie van Helen Martins se Uilhuis in Nieu-Bethesda gehoor het nie, moet jy sekerlik ‘n afstammeling van Rip van Winkel wees. Nieu-Bethesda lê 53 kilometer buite Graaff-Reinet.
Soos die meeste ander buitestanderkunstenaars het Helen Martins nie kontak met hoofstroomkunstenaars gehad nie. Dit wat sy geskep het, was deel van haar persoonlike visie. Sy het haar eie interpretasie van Bybelse en Oosterse filosofieë uitgebeeld en vir haarself ‘n wêreld van haar eie geskep.
Dit het alles in die 1940’s na haar pa se dood begin. Eers het sy haar platdak-Karoohuisie aan die binnekant omskep. Sy het glas en glasbottels bymekaargemaak wat sy met koffiemeule fyngemaal het, teen die mure gestrooi en met ‘n mengsel van verf en vernis geplak het sodat dit, veral saans, kon blink. Toe die een koffiemeul na die ander die gees gegee het, het sy ‘n stamper en vysel begin gebruik.
Helen Martins was lief vir lig en vir blink. Op die vensterbank in haar kamer staan ‘n ry gekleurde vase waardeur die lig op ‘n sekere tyd van die dag val sodat blou en groen en rooi oral weerkaats. Op haar eetkamertafel staan etlike blakers met kerse en in ‘n muurrakkie staan ry op ry lampies en lanterns.
Orals, net mooi orals, is uile. Sommer met die aankom sien jy al ‘n voëlhok vol steenuile met helder oë op die voorstoep. Hoeveel uile daar altesaam is, weet nugter alleen. Daar word wel beweer dat daar 14 meerminne, 49 kamele, 18 lammetjies en 7 kameelperde is. In die kameelagterplaas en in die huis self is daar ook vele ander figure.
Om die Uilhuis in Nieu-Bethesda te besoek, is ‘n spirituele ervaring. Ek keer keer op keer terug; elke keer sien ek iets nuuts, iets anders, iets wat my opnuut raak.
Die Uilhuis is al as ‘n baken vir buitestanderkuns in Suid-Afrika beskryf.
Plaaslike inwoners soos Piet van der Merwe en Koos Malgas was instrumenteel daarin om dit wat Helen Martins in haar geestesoog gesien het, tot uitvoer te bring. Soos met baie buitestanderkunstenaars is eers na haar dood besef tot watter omvang haar kunsskepping gedy het.
Helen Martins is in 1976 oorlede na sy haar eie lewe geneem het.
Volg feetjies en kabouters
Kuns? Net ‘n foefie? Slegs vir kinders? ‘n Gekkespul?
Noem dit wat jy wil, die feetjietuin – of feetjieheiligdom soos wat hul webwerf dit noem – in Swellendam se deure is al amper dertig jaar oop. Die Sulina-kontinent soos hulle ook hulself noem, is ‘n spesiale tuiste vir feetjies, engele en almal wat saggeaard is.
Hier moedig hulle jou aan om jou te verbeel dat jy weer vyf jaar oud is. Loop op jou tone deur die tuin en verkyk jou aan feë, rooi en wit paddastoele, wensputte en skoenlappers.
As jy eers binne is, bevind jy jou in ‘n fantasieruimte. Eintlik wil ‘n mens nie eers hê iemand moet met jou praat nie; jy wil net deur die tuin wandel. Jy wil nie gesê word jy móét in feetjies glo nie; jy wil dat jou innerlike kind self ontwaak.
Boonop is daar juis ‘n plakkaat wat waarsku: Moet asseblief nie ons blomme pluk nie, want die feetjies slaap soms daarin. Daar kon netsowel bygeskryf gewees het: Moenie onnodig praat nie; jy gaan die feetjies wakkermaak.
‘n Skulphuis aan die suidpunt
In ‘n weggesteekte straatjie in Kaap Agulhas woon Mosie Hope, ‘n kunstenares, in ‘n klein gewelhuisie wat dadelik die aandag trek omdat die voorkant amper heeltemal met skulpe bedek is. Die vorige eienaar was verantwoordelik vir die vooraansig van skulpe wat haar agt jaar geneem het om te voltooi. Heel gepas is die straat se naam Golfstraat.
Op die tuinmuur pryk die Magiese Mollusk. Dis die grootste beeldhouwerk van ‘n spiraalskulp in die suidelike halfrond, vertel Mosie. As jy haar mooi vra, sal sy vir jou vertel watter spesiale vonds binnein die weekdierskulp skuil.
Mosie Hope stal al vir meer as twee dekades haar waterverfskilderye in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap uit. Benewens skilder is sy passievol daaroor om op- en uitdrifsels insluitende plastiek wat sy op die strande van Struisbaai en Kaap Agulhas optel, in kuns en bruikbare artikels te omskep. Hierdie kuns getuig van brute direktheid en eerlikheid, soms ook bisarheid, wat kenmerkend van baie buitestanderkuns is.
Mosie het onder andere al ‘n jellievislig uit ‘n fietswielraam, stukke plastiek en lekkergoedpapiertjies gemaak.
In die agterplaas van die Seeskulphuis is ‘n labirint in die vorm van die Suiderkruis. Enigiemand is welkom om die labirint te kom loop. Dit help om spanning te verlig en om iets wat jou pla of waarmee jy sukkel, op te los. Dit help ook om van negatiewe gedagtes en vrese ontslae te raak.
Mosie verduidelik hoe ‘n mens te werk moet gaan: Haal drie keer diep asem voor jy begin loop. Bly doodstil terwyl jy loop. Fokus jou gedagtes op iets spesifieks waaraan jy wil dink of laat jou gedagtes toe om self hul loop te gaan. Wees bewus van jou asemhaling. As jy in die middel van die labirint kom, is dit tyd om ‘n rukkie te rus en na jou hartklop te luister. Stap hierna weer na die beginpunt.
Recent Comments